Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Die foon wat ’n bakkie kon stop

Dit was daardie klein slimfoon in jou hand wat eindelik gemaak het dat Mercedes vandeesmaand noodgedwonge moes aankondig dat hy produksie van sy X-klas-bakkie voortydig gaan staak.

Vergesog? Hoe kan ’n foon in die palm van jou hand die mag hê om een van die grootste, prestigerykste vervaardigers te dwing om hande in die lug te gooi en ’n duur projek, skaars ’n kwart deur sy produksiesiklus, tot stilstand te laat knars?

Mercedes se X-klas – eersdaags ’n gevallestudie in ’n MBA-kursus naby jou.

Die X-klas, Mercedes se eerste bakkie van die moderne era en eintlik ’n anatema vir sy portefeulje van peperduur sedans en sportiewe rygoed, het van meet af die media en petrolkoppe gaande gehad.

Sosiale webwerwe het die nuus van ’n nuwe Mercedes-bakkie in ’n kits versprei. Kletskamers het bespiegel oor sy voorkoms en enjins. En toe die eerste foto’s van ’n konsepmodel verskyn het, het die internet bottelnek getrek soos almal oor hom wou lees.

Die diepte van die belangstelling was egter nie net tot petrolkoppe beperk nie. Daar word gereken dat die markpenetrasie van belangstelling oor die nuwe Mercedes-bakkie iets soortgelyk was aan die skiet-episode van JR Ewing in Dallas, destyds.

Almal oor die sosiale spektrum heen het oor die bakkie gepraat. Die konsepmodel van 2017 was mooi en futuristies vir ’n bakkie. Die mediagolf het verder gestoomroller.

Toe sien die X-klas die lig, en sy meganika is bekend: ’n gewone Nissan Navara, opgetert met Mercedes-bykomstighede.

Die bakkie het basies soos ’n Navara met ’n groot ster op die sierrooster gelyk. Die instrumentpaneel is saamgeflans uit ’n mandjie Mercedes-onderdele. Daar was ’n Mercedes-agteras en V6 onder die neus. Maar slegs in die topmodel. Die res had Nissan-meganika – wat die terg-gesegde ’n “Navara met maskara” gou laat posvat het.

Die besef dat jy eintlik maar heelwat duurder betaal het vir die Japanse bakkie wat jou buurman het, het vinnig deurgedring. En op sosiale media versprei.

Hierdie foontjies wat ons lewe vandag so oorheers, het ’n omwenteling vir meer as een bedryf gebring. Jy lees jou nuus op jou foon, jy neem jou vakansiefoto’s met hom. Jy koop jou vliegkaartjies en reël jou verblyf op sy apps.

Die foon was die enkele skakel wat Mercedes se beeldpoetsers nie kon beheer nie. Dit het hom ’n bakkie – en miljarde euro aan beleggings – gekos.

Dit is kragtig op ’n positiewe sowel as ’n negatiewe manier.

Die krag is geleë daarin dat ons nou ons lewe makliker en vinniger kan reguleer.

Maar die foon verander ook verbruikerspatrone, wat ’n verwoestende effek op groot bedrywe en verder af in die ekonomie het. Hotelle hou nie van die webwerwe wat met dié foon-apps werk nie. Taxi- en toerismegroepe ook nie. Sommige wêreldstede verbied selfs hierdie handpalm-dienste.

Groot genoteerde maatskappye het ’n gevestigde belang maar ook ’n integrerende rol te speel in stede en lande se ekonomieë. Om dié reuse nou in ’n kits kantlyn toe te rangeer ten bate van een app wat vanuit ’n kantoor in San Francisco of Delhi bestuur word, maak vir die gevestigde ekonomie nie sin nie.

In die X-klas se geval was dit die interkonnektiwiteit van die slimfoon wat tot sy val gelei het. Mercedes het ’n kans gewaag deur die beleggingskortpad te kies toe hy ’n Navara geneem en dit opgefieks het tot ’n Mercedes-bakkie. ’n Verwagting is geskep.

Maar toe sosiale media uitvind watter kortpaaie geneem is, is ’n negatiewe beeld gevorm en dié is om die wêreld gestuur. Met die potensiële koper se slimfoon as draer van die nuus.

Die foon was die enkele skakel wat Mercedes se beeldpoetsers nie kon beheer nie. Dit het hom ’n bakkie – en miljarde euro aan beleggings – gekos.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs  |  Slimfoon  |  Mercedes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.