Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Ditsem, Datsun lees die mark reg
06 September 2018

So bevind jy jou in ’n situasie waar Wagter al meermale by die veearts was. Voor jou is die tafel met die silwerblink metaalblad. Militêr netjies in ’n ry gepak, lê die instrumente: ’n skêr, nog ’n stuk gereedskap wat tegelyk verdag en intimiderend lyk, en ’n lappie.

Soos ’n Hitchcock-noir-oomblik is dit die lappie wat jou dadelik in sy onskuld onrustig stem. Hoekom gaan hy nodig wees?

Ruikers waar jy kyk, en ’n pienk Datsun. Wat kan verkeerd loop?

Die uitnodiging was eenvoudig: Ry met jou Datsun Go na Net­Florist se pakhuis in Johannesburg, en trek ’n voorskoot aan.

A, die Datsun Go. Waar begin jy? In my loopbaan het ek al menige avontuur op wiele beleef. Daar was die rit by Mercedes se museum in Stuttgart op Karl Benz se eerste motorvoertuig. In Zanzibar het ’n sersant by ’n padblokkade my met Mark Fish verwar, en my en die gehuurde Vespa ’n voorspoedige reis verder toegewens. (Dis ’n lang storie, maar waar. Mnr. Fish, ek skuld jou ’n bier.)

Maar geen portefeulje lewens­ervarings is voltooi alvorens jy ’n regmerkie in die kassie langs die Datsun Go gemaak het nie.

NetFlorist is vandag, ná 20 jaar se harde aanlyn werk, die grootste bloemis in die land.

Buite sy pakhuis staan ’n vloot pienk Datsun-paneelwaens, elk tot teen die dak gelaai met ruikers, ballonne, ’n opblaasolifant en verbasend baie blompotte in heldergeel met ’n glimlag en pienk hartjies vir die oë opgeverf.

Ja, die emojikultuur het die blommeryk toe ook getref.

Om ’n bos blomme vir iemand te stuur, het inderdaad in dié era van teksboodskappe iets groots geword. Om ’n emosie oor te dra, of om reg verstaan te word, het só moeilik geraak dat ons ’n geel gesig agteraan ’n sin moet plak. Dis die bewys van die afstand wat ingetree het vandat ons tegnologies gevorderd geword het.

Dalk is dít die rede waarom bloemiste skielik onmisbaar geraak het. ’n WhatsApp kan die regte woorde bevat, maar ’n ruiker rose skep geen verwarring nie.

Dit klink straks nou so wollerig soos ’n haker wat die wedstrydplan se nuanses onder die knie moet kry. Maar daar is parallelle tussen die fieterjasielose Datsun Go en ons oerhunkering om ’n boodskap met ’n bos blomme oor te dra.

Die Go is ’n gestroopte voertuig. Dis motorry in sy eenvoudigste vorm. Gedistilleerde mobiliteit. In sy Indiese mark, waar hy gekonseptualiseer is en gebou word, maak hy volkome sin. Net so in Rusland en Suidoos-Asië – die ander twee markte waar hy ’n wegholsukses is.

Een ruiker moet beterskap toewens aan ’n sieke. ’n Ander moet gelukwens met ’n prestasie. Nog een moet ’n vaal dag opkikker.

In Suid-Afrika trek joernaliste hul neus op. Sy afwerking is skaarser as swemdrag op Clifton. Sy ritgehalte herinner aan koshuisroosterbrood en trap jy die lepel plat, gebeur daar minder as in Shaun Abrahams se kantoor.

Tog is hy geskik vir sy doel. Soos daardie bosse ruikers wat vier keer per dag die pakhuis agterin ’n Datsun Go verlaat, is hy die resultaat van iemand wat na ’n behoefte geluister het, en toe met iets vorendag gekom het wat presies daarin voldoen.

Een ruiker moet beterskap toewens aan ’n sieke. ’n Ander moet gelukwens met ’n prestasie. Nog een moet ’n vaal dag opkikker.

En dís waar basiese, bekostigbare rygoed soos die Go sy spiere bult.

In Tokio, in Nissan se hoofkantoor, het iemand besef daar is ’n groot mark wat na bekostigbare mobiliteit soek.

Die instrumente op die tafel was bedoel om ’n ruiker mee op te maak. Nee, dit het nie gehelp met die Go se parkeerplek-soek-versnelling nie. Maar die metafoor was daar, tussen die krisante, dekblare en ander groengoed.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Datsun  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.