Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Eie kar? Nee, sê die kristalbal
“Kantoor toe, James.” Die volgende tendens? Teken in op ’n motordiens, sê die vervaardigers. Beter nog, laat hy jou self kantoor toe ry.

Die dae van “Ma, kan ek gou jou sleutels leen?” is straks binnekort iets van die verlede. Die slim ouens wat in die kristalbal kyk, sê gedeelde dienste is ons voorland. Gouer as wat jy dink.

Vervaardigers heg waarde aan wat hierdie kêrels sê. Hulle moet, eintlik. Maak jy ’n fout, is dit groot geld en baie tyd wat jy verloor. Jy is dadelik agter jou mededingers. Gestel hulle het boonop raakgevat met die voorspel van ’n nuwe tendens, raap hulle die voordele van dag een af op. Terwyl jy moet inhaal.

Om ’n nuwe motor te bou neem so vier, vyf jaar. Eers moet hy geteken word deur ’n ontwerper met ’n popsanger se kuif en ’n bokser se humeur. Wispelturig, hierdie kreatiewe kreature.

Dan moet daardie sketse tot ’n kleimodel, so groot soos jou lessenaar, tot lewe gebring word. Die kleimodel word voor die direksie op iets soos ’n teetrollie gerol, die gryspakke peins diep en lank, en maak voorstelle.

Repies klei word by die flanke afgeskraap. Die neus word langer geplak. Die kattebak ’n aks hoër gemessel. En dan is hulle tevrede. Nou moet Fritz en Horst van Produksie ’n metaal-weergawe bou – sonder dat Finansies die rooi pen uithaal.

En nes jy gedink het die finale produk is gereed, kom vra Gehaltebeheer die sleutels. Hulle wil eers in Namibië, Dubai en Noorweë gaan ry. Netnou gee die lugversorging die gees, ’n mens weet nooit.

Daarom duur die proses so lank. Vervaardigers durf dus nie die dobbelsteen verkeerd rol nie. Hulle moet nou al kan weet of sedans oor vyf jaar nog gewild gaan wees. Dalk eerder ’n sportnuts bou? Goed dan, maar groot, of klein?

Die kristalbalkykers herinner my aan daardie ou by die vleisbraai wat, wanneer die tjops net van die vuur afgehaal is, sy hande so bokant die kole hou en dan met ’n behaaglike uitdrukking sê: “Hierdie kole is nou net reg.”

Die nuutste voorspellings is gedeelde motors en elektrifisering. Elektriese motors kom al ’n rukkie aan, maar die momentum begin nou werklik spoed vang.

Porsche gaan groot geld in Amerika en Europa pomp om ’n eie netwerk van snelherlaaipunte op te rig. Ook Volkswagen het laas week aangekondig hy gaan 2 000 van sy eie snelpunte net in Amerika aanbring.

Dit is ’n groot rol van die dobbelsteen. Al hoe meer vervaardigers stig nou ’n afsonderlike handelsnaam waaronder hy sy toekomstige e-voertuie gaan bemark.

Dus, jy gaan ’n gewone BMW 3-Reeks kan koop wat met petrol werk. Maar in ’n ander toonlokaal is daar ’n i3 en ’n i8.

Volkswagen, Audi en Mercedes doen dieselfde: Ander handelsname, in aparte vertoonlokale. Nie net ’n e-Golf of ’n batterygedrewe 3-Reeks nie.

Gaan dit ons lewens vergemaklik? Natuurlik. Is daar nog uitdagings? Gewis.

Saam met e-voertuie is die ander skuif waarop groot geld gewed word, gedeelde dienste.

Uber se koms het ons al iets van ’n voorsmaak gegee, maar gedeelde dienste gaan ’n tree verder.

Die gedagte is dat jy nie meer ’n private voertuig koop nie. Jy word lid van ’n klub waar, afhangend van jou bedrag, jy toegang tot ’n sekere soort voertuig kry. Amper soos ’n huurmotor, maar net op ’n permanente grondslag.

Die voordeel is dat dit oor die wêreld heen benut kan word. Dus, as jy ’n sakebesoek in Parys het, bespreek jy net jou motor vooraf vir daardie drie dae in Parys, pleks om die motor tuis vir jou kantoorpendel te bespreek.

Hierdie planne kry egter krea­tien wanneer selfrytegnologie bygevoeg word. In Parys gekom, tik jy net jou hotel en kantoorafspraak se adresse in, en wag. Die selfryvoertuig sal met ’n Whats­App laat weet hy wag voor die hoteldeur. Jy klim in, en hy ry self na die vergadering – terwyl jy jou notas vir oulaas deurgaan.

Dis die wêreld van môre, maar dis nie so ver weg nie.

Gaan dit ons lewens vergemaklik? Natuurlik. Is daar nog uitdagings? Gewis. Wie het dan nie al ’n kantoorpoel-motor oopgesluit en ou Coke-blikke gevind wat by jou voete rondrol nie? En ook, hoe gemaak om sakgeld te verdien as jy nie jou pa se kar kan was nie?

Maar belangrikste, hoe gemaak om jou afspraak te gaan haal as Pa nie meer blink wiele het om te leen nie.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.