Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: G.I. Joe het ’n nuwe speelding
Die Amerikaanse weermag se H1 Hummer in sy siviele drag, die H2. Verchroomde wiele opsioneel.

Onthou die Hummer? Koeler as ’n rapkunstenaar se sonbril, saans op die palmboom-omlynde boulevards. Warmer as die goue bikini-meisies in genoemde rapper se musiekvideo – as jy voor die nagklub stilhou.

Ja, die Humvee. Daardie uitroepteken van die 1990’s se oliekragdadigheid en materiële sukses. Vandag sou hy meer as net ’n voetnoot van hubris, ’n virtuele goue ketting om die nek, of ’n leesteken in ’n geskiedenisboek wees. Die Humvee sou vandag sy eie hutsmerk op sosiale media skep, as emoji vir spiertier-pret.

Die Hummer is nie meer nie. Lank lewe die Amerikaanse weermag se voorliefde vir voertuie wat enige plek kan ry, en nog so ’n bietjie verder.

G.I. Joe het nou ’n nuwe speelding, maar helaas met ’n minder gladde naam. Dis reg, die Humvee klop die General Dynamics Flyer Advanced Light Strike Vehicle selfs by die doopvont.

Niemand wis wat die nuweling se straatnaam gaan wees nie. Want dit sal moet. Wie gaan tyd hê as die koeëls vlieg om te vra waar’s die blessitse General Dynamics Light . . . skuus, die Flight . . . ag tog, daai nuwe kar nie.

’n Mens het net gewoond begin raak aan die Hummer. So groot soos ’n vliegdekskip het die Hummer op ’n varkpan omgedraai en sy vaal woestynbaadjie afgeskud om sy ware kleure – swart, met verchrooomde 20-duimers – in die blink deel van die stad te wys.

Koerdistan se H1 het Kusweg se H2 geword. En die musiekwêreld het geglimlag. In sy swartgetooide jas was die Hummer nie meer die nemesis van vuurpyllanseerders en die de facto koelteboom vir ’n Irakese straatbrak om sy been teen te lig nie.

Die Hummer was nou straatslim. Jy kon met hom verby die lang tou wagtendes gly, daar voor eers uitklim, en swierig die klub in jou luiperdvel-uitrusting binnestap. Hummers kon dit doen.

Gaan die nuwe kêrel in die arsenaal net soveel :-) by vandag se beïnvloeders op sosiale media ontlok? Of, rol die oë, slegs ’n #tbt?

Die Hummer het dit immers in sy gene gehad. Dit was als net natuurlik vir hom. Hoekom? Daar’s Italiaanse DNS in sy oktaan.

In die middel-1980’s was die Amerikaanse weermag naarstig op soek na ’n nuwe veldryvoertuig waarmee hulle sandduine kon oorwin. Helikopters en lanseerders jag was ook op die wenslys. Maar vaardig, dit moes die nuwe voertuig wees.

In ’n kantoor tienduisend myl oos het ’n Italianer hierdie kontrak raakgesien, en sy fabriek se ontwerpers gevra om aan die werk te spring.

Kort daarna is die Hummer gebore, met ’n voorkoms wat merkwaardig herinner aan ’n skaars Italiaanse hings.

Die storie klink bisar, maar dinge raak nog meer vergesog as jy uitvind hierdie groep se dagtaak was inderdaad om super-sportmotors te bou. Die beste van hul tyd, en o so sensueel om te aanskou.

Lamborghini het sy klassieke Countach steeds op die toonvloere gehou. Maar agter in die werkkamer het Toni, Seppi en Luigi ’n prototipe gebou waarmee die Amerikaanse weermag na hartelus kon gaan oorlog hou.

Met ’n V12 van 5.9 liter onder die neus en bande so hoog as jou bene en vetter as Sol se beursie, het Lamborghini sy nuwe LM001 aan die generaals voorgelê. Daar is foto’s geneem, baie gejaag, nog foto’s geneem, en toe is die kop geskud. Allora, nie goed genoeg vir Oom Sam nie.

Kort daarna is die Hummer gebore, met ’n voorkoms wat merkwaardig herinner aan ’n skaars Italiaanse hings.

Die General Dynamics Light Flight Lucky Strike . . . die nuwe pantserkar van die Amerikaanse weermag is ’n rasegte skepping van Wisconsin. Of Milwaukee. Of waar ook al hul borselkop-ontwerpers hul kantore het.

En gedug, o ja. Hulle sê jy kan ’n grondwal van 60° skuins uitklouter terwyl jy na Shania Twain luister. Agt troepe en hul Big Macs pas gemaklik agter in.

Sal hy sjiek by ’n tou wagtendes kan verbysuis, terwyl swart vensters ’n tweetyd-maat net-net verberg? Daar lê die nuwe General Ben10 se lakmoestoets.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.