Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
PADLANGS: Is dit die einde van die Golf?

Volkswagen se agtste Golf word volgende week bekend gestel, en niemand gee werklik meer om nie.

Dis harde woorde. Maar dit verklap die tydsgreep waarin die motorbedryf hom tans bevind.

Ja, daar was ’n steelfoto van ’n gekamoefleerde Golf, afgeneem iewers in Oos-Europa of dalk net buite Wolfsburg se hek. Daar was ook die verwagte loerfoto van ’n toetssessie op die Nür­burg­ring. Elke keer ritmies uitmekaar gespasieer in aanloop tot die 24ste Oktober.

Die nuwe Golf word volgende week onthul, maar hier is solank ’n ontwerpskets as voorsmaak. Straks nie Wolfsburg se skeppendste dag nie.

Inderdaad, vir soverre dit ’n opbou tot die nuwe Golf se formele bekendstelling aan die wêreld betref, het Volkswagen al die nodige gedoen om ’n bietjie rokende bande op sosiale media te ontlok.

Waarom is die reaksie dan so flou?

In sy gloriedae, ’n dekade of twee gelede, was ’n nuwe Golf straks die grootste nuus van die jaar. Voorblaaie is skoongemaak. Joernaliste is van elke uithoek na sy doekopligsessie gevlieg. Sy ingenieurs en ontwerpers moes vir weke bontstaan om vrae te beantwoord.

’n Golf-wêreldbekendstelling het die lewe van ’n Harry-en-Meghan-toer gekry. Niemand verstaan rêrig die gejil nie, maar almal wou deel wees.

Dinge het sedertdien verander. Sommige goed buite Volkswagen se beheer het in die wêreld plaasgevind. Maar ’n paar aspekte kan ook teen sy eie voordeur vasgespyker word.

Die eerste hiervan is sekerlik die nuwe Golf se ontwerp. In ’n perfekte eie doel het VW se ontwerpers dit nie net reggekry om sy staatmaker-luikrug valer as die konserwatiewe Golf 7 te laat lyk nie, die gebrek aan enige aksentlyne gee hom die sensualiteit van koue ryspoeding.

Blaps nommer twee is die Achilleshiel van vervaardigers. Die oer-impuls om elke nuwe generasie groter te maak. Vandag se Golf het al die lyf van ’n labrador-vriendelike Passat. Jong kopers met ’n klein gesin soek iets kleiners.

Hierdie argument sluit eintlik aan by die volgende hekkie waaroor Volkswagen gestruikel het. Daardie jong gesinne soek nie meer na luikrûe nie.

Toe die eerste Golf sy gesig gewys het in 1974, was hy die regte voertuig vir die era. Dit was die motor waarna kopers gesoek het. Klein en kompak en net reg vir hul stadsry-behoeftes.

Deur die jare het die Golf egter groter geword. Sy kopers se behoeftes letterlik ontgroei. Dis vandag ’n gesofistikeerde en deftige gesinsmotor. Toegerus met die jongste en beste tegnologiese hulpmiddels en meganiese truuks. Jy betaal ook daarvoor.

Is dit wat sy teikenmark wil hê?

Straks die grootste dwarsklap oor die enjinkap van die Golf het egter verlede maand in Frankfurt gekom. Op Volkswagen se eie uitstalruimte, by die Frankfurtse motorskou.

Die groep het die sluier gelig oor sy nuwe ID.3, sy jongste elektriese voertuig wat hy vanaf volgende jaar teen 30 000 euro aan die Europese mark wil bied.

Nie net lyk die ID.3 soos ’n nuwe Golf nie, sy prys is ook reg in die kraal van wat jy vir ’n topmodel-Golf sal opdok.

Terwyl Jaguar en Mercedes in Europa en Toyota en Honda in Japan met eksotiese, peperduur e-voertuie na die mark gekom het, die een ’n vreemder sportnuts-kruising as die volgende, het Volkswagen met sy ID.3 teruggegaan na sy Golf Mk1-wortels: Wat wil die koper vandag hê?

Dis verstaanbaar dat die ander vervaardigers telkens ’n eksotiese ryding as hul e-voertuig opgedis het. Die goed is peperduur om te ontwikkel. Jy moet ’n plaas se prys vra. Dit is eintlik net Volkswagen, as die wêreld se grootste vervaardiger, wat die spierkrag het om ’n klein e-gesinsmotor in effek te subsidieer.

Hiervoor dobbel hy met sy eertydse brood en botter, die Golf. Die fakkeldraer van die Kewer, waar hy sy ontstaan het. Dis die kroonjuwele wat Wolfsburg hier op die spel plaas.

Met ’n tweede kyk, dalk is die nuwe Golf doelbewus met die linkerhand ontwerp.

Meer oor:  Volkswagen  |  Gholf  |  Motors  |  Padlangs  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.