Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Is prys al wat tel by karkoop?
Renault se Indiese Kwid. Opinies is verdeeld oor sy deugde.

’n Paar kwessies van ons motormark het verlede week by die bekendstelling van die Renault Kwid aan die plaaslike media weer na vore gekom.

Gaan lees maar in die berig wat ek van hierdie spesifieke Kwid gedink het. Kortweg, hy gaan net so fluks soos sy stalmaats verkoop al was ons, die siniese motorjoernaliste, nie te danig oor dié Indiese karretjie nie.

Indiese motor? Presies, die Kwid se Indiese wortels was die eerste olifant in die vertrek.

Om ’n verskeidenheid van redes wat jy so ver terug as Jan van Riebeeck kan voer, sit ons vandag in ’n situasie waar vervaardigers noodgedwonge nie net ’n haas uit ’n hoed nie, maar sommer die kobra uit die fluitspelende fakir se mandjie ook moet pluk om verkope gesond te hou.

Ons rand is pap. Die wisselkoers teenoor alle geldeenhede is swak. Om voertuie uit tradisio­nele bronlande in te voer, soos Amerika, Europa en Japan, raak moeilik. Pryse gaan lagwekkend hoog wees.

Om net een vinnige, onlangse voorbeeld te noem. Alfa Romeo se pragtige, en meganies puik, nuwe Stelvio kos net meer as R800 000. Dit nou vir ’n klein sportnuts. Iets wat oorsee bloot ’n jong gesin se alledaagse ryding is.

Die feit is, met daardie geld kan genoemde gesin in Suid-Afrika ’n klein woonstel koop. Ons verhouding tussen ons kar- en eiendomspryse is skeef in hierdie land.

Vervaardigers sit dus met twee opsies: Hulle kan sê basta met die klagtes en die voertuig teen R800 000 op die mark plaas; of hulle kan Oos kyk, na Indië en Thailand, waar hulle ’n motor – enigiets, solank dit net kan ry – goedkoper kan bestel.

En dis waarom ons vandag met ál meer voertuie sit waarvan die deure soos ’n leë koekblik klink wanneer jy dit toeklap. Wat voortdurend links en regs oor die pad sweef terwyl jy die stuurwiel stilhou. Wat na links trek wanneer jy hard rem en die ratskakeling van ’n kaskar en die padgeraas van ’n voosgespeelde draadkar het.

Daar is markte in die Ooste wat nie dieselfde streng regulasies as Amerika, Europa en Japan het nie. Voertuie kan met minder toerusting gebou word. Minder toetswerk word vooraf gedoen. Standaarde is laer. Lone vir arbeiders is laer. Kortom, die boukoste – daardie magiese som – is halfprys van wat jou identiese eenheid uit die Weste gaan kos.

Waarom is die joernaliste dan so vies? Gun hulle hul landgenote dan nie mobiliteit nie?

Die antwoord, vir ons plaaslike motorgroepe, is so eenvoudig as om te wonder of jy een of twee lepels suiker in jou koffie wil hê.

Hulle vra nie of hulle hierdie motors moet inbring nie. Hulle vra hoe baie kan hulle bestel. En dit sal steeds te min wees.

Die spesifieke Kwid is ’n puik voorbeeld. Dit is ’n Renault, ja. Maar Renault in Frankryk wil hom nêrens elders behalwe in Indië (waar hy gebou word) verkoop nie. Nie terwyl hy ’n Renault-kenteken op die neus het nie.

Suid-Afrika is die eerste mark buite Indië wat hom ontvang. Jip, as jy net dalk gewonder het presies hoe baie die Franse van ons dink.

Die Kwid is gewild in Indië. Gesinne wat voorheen vyf tegelyk op ’n 125 cc-motorfiets deur besige strate gevleg het, kan nou die eerste keer ’n eie motor aanskaf.

Dieselfde het in Suid-Afrika gebeur. Die Kwid kry dinge reg. Hy verskaf mobiliteit aan mense wat andersins in ’n onveilige minibustaxi sou moes ry.

Waarom is die joernaliste dan so vies? Gun hulle hul landgenote dan nie mobiliteit nie?

Ons is kwaad oor oorskietkos wat as hoofmaal voorgesit word. Ons hou nie van tweederangse tegnologie nie – die Kwid se outomatiese ratkas is ’n moet-troue tussen ’n Siciliaanse skuldeiser en Jan Taks, so erg wurg dit alle ryplesier uit.

Ons voel in ons eer gekrenk, want maak nie saak hoe pertinent ons sy foute uitlig nie, hy gaan steeds vinniger as ’n skinkbord samoesas teen halfprys van die verkoopsvloer verdwyn. Want hy het die regte, goedkoop prys.

Die Kwid laat ons as ’n nasie onsself in die spieël sien. En dis nie lekker nie.

Meer oor:  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.