Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Karsiek? Wag met daai sak

Jy ken die scenario: Vir die jaareindfunksie stel die sekretaresse voor die kantoor gaan op ’n plesierbootrit. Wat kan enigsins verkeerd loop?

Een van selfrymotors se vreemdste newe-effekte gaan karsiekte wees, voorspel navorsers. Gelukkig maak hulle reeds planne hiermee.

Net om wanneer die boot teen die eerste golf opgaan, en by die meegaande trog afgly, ’n desperate voetval na die relings te hoor. Die eerste sarsie versnaperinge, keurig gekies vir die bootrit, word vir die visse en babers gevoer.

Ook in motors ervaar ons bewegingsiekte. Meestal is dit die passasier, en veral as jy agter sit en die pad begin te kronkel. Of as jy wil lees.

Tot dusver in die motorvoertuig se 120-jarige bestaan het ons nie te veel aandag hieraan geskenk nie. Dit was maar een van daardie dinge. Iets waaroor gegrinnik is, of met ’n veroordelende skouerophaal geskimp is: “Ja, nog een wat nie ’n haastige motor se goeie hanteringsvermoë kan vat nie.”

Maar skielik het navorsers by die wêreld se grootste motorvervaardigers opnuut na hierdie fenomeen begin kyk. En oplossings daarvoor begin soek. Die rede? Selfryvoertuie wat om die draai is.

Die antwoord is eintlik voor die hand liggend. Wanneer selfryvoertuie binnekort ’n algemene gesig gaan word, gaan ons tydsbenutting in die voertuig dramaties verander. Vandag moet jy met al jou aandag bestuur as jy soggens kantoor toe pendel.

Maar oor ’n dekade of wat, in jou selfrymotor, gaan jy wil terugsit en jou e-posbriewe nagaan, of verder werk aan jou Excel-spreiblad rakende verkope, of jou voorlegging opskerp vir die vergadering om tienuur.

Kortom, daardie uur in jou motor wil jy optimaal benut deur nie na die pad voor jou te kyk nie, maar na ’n rekenaarskerm onder op jou skoot – met fyn letters en beelde daarop. Padkos vir daardie duiselige, naar gevoel wat soos ’n vrank rubberbal in jou mond kom sit.

Volgens die witjasse is die grootste oorsaak die gebrekkige kommunikasie tussen ons oë en die brein. Dit wat ons sien, strook nie met die boodskappe wat die brein ontvang nie. Dit gebeur veral baie maklik wanneer jy in ’n voertuig sit en lees: Die motor beweeg in verskillende rigtings, maar jou oë neem dit nie waar nie.

Vir selfrymotors kan dit ’n fatale tekortkoming skep. Die voertuie word juis bemark as sou dit jou die kans bied om kantoorwerk in die ry af te handel. Nou, met karsiekte ’n groot realiteit, kan dit hierdie mededingende voordeel heeltemal negeer.

Daarom is navorsers by motorgroepe angstig om ’n oplossing hiervoor te vind voordat die voertuie markgereed is. Dit moet net. Anders is dit dieselfde as ’n tandeborsel sonder borselhaartjies op die ent. Net nog ’n nuttelose handvatsel wat nie kan doen wat hy beloof nie.

Dit blyk dat ’n oplossing wel moontlik is, en sonder te veel moeite. Maar dit laat jou nog net 60% beter voel.

Die uitdaging is om ’n meganisme te vind om karsiekte waar te neem, en dit dan teen te werk sonder om direk aan die persoon te raak. Anders kon die skermpie op die instrumentpaneel net ’n boodskap flikker: “Daar’s ’n boksie wit pille in die paneelkissie. Sluk twee. Maar onthou die papiersak.”

Dit blyk dat ’n oplossing wel moontlik is, en sonder te veel moeite. Maar dit laat jou nog net 60% beter voel.

Die antwoord is biometriese data, en hoe dit geïnterpreteer word. ’n Reeks kameras en sensors in die kajuit hou onder meer jou oë, perspirasie en asemhaling fyn dop, en korreleer dit dan met die beweging van die voertuig.

Wanneer dit ’n vasgestelde grens waardes oorskry, sal die blikbrein aflei jy raak karsiek, en ’n rits teenmaatreëls in werking stel om jou te laat beter voel. Dis aspekte soos om die sitplek te laat verkoel, of om minder van baan en rigting te verander.

Duidelik lê daar nog ’n lang pad voor. Maar dit is fassinerend om te sien waar die grond, wel, braak lê.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.