Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Koebaai dan, die wilde bakkie
Vergeet die sportnuts. Bakkies het die jongste leefstylvoertuig geword.

Iewers tussen destyds se stasiewaens en vandag se fris 4x4’s wat selfs nie te ontuis voor die kerk lyk nie, het bakkies ’n verandering ondergaan.

’n Bakkie is nie meer net ’n nuttige karweier van items sonder nut nie. Nee, die bakkie het ’n nuwe status gekry.

Dis nou ’n leefstylvoertuig.

Jy besef dit werklik as die wêreld se grootste vervaardiger van luukse vervoermiddels ook ’n bakkie tussen sy slap sedans en kuif-in-die-wind sportmotors by sy agentskap in die blink deel van die dorp parkeer.

Dis reg, bakkies word nie meer net in die onderdorp verkoop deur ooms met bruingebrande voorarms en ’n onderste laai met iets ekstra te skink as die transaksie beklink is nie.

Vandag se bakkie vind jy aan’t gesels met die skraal, vinnige modelle by die handelaar – en die motors lyk net so goed.

Dit bly ’n fassinerende spel.

Die publiek wat ’n ryding soek, en die vervaardigers wat hul bes probeer om uit te vind wat daardie voertuig is. Tussendeur word ’n rits nuwe modelle na ons kant toe gemik in die hoop dat een dalk die goue aar van verkoopsukses sal raakboor.

Renault het dit destyds met sy Scenic reggekry en doen dit steeds vir amper twee dekades.

Onthou, voor die Scenic se koms was daar net ’n kombi te kies as jy die aangetroude familie, die hond en die braairooster see toe moet neem.

Vir die groot gesin was daar stasiewaens. Het jy iets kompakter gesoek, sou jy ’n sedan of ’n luikrug gekoop het, en baie tevrede met jou slim keuse gevoel het.

Totdat Renault so twee dekades gelede vir ons kom sê het ons soek eintlik na iets tussen al dié tradisionele segmente.

Die Scenic: Kort soos ’n luikrug, die hoë dak van ’n kombi, die gemaklike uitleg van ’n stasiewa, en die rit van ’n sedan, voila!

Die Scenic was dadelik gewild. Renault het iets na die mark gebring wat ons nooit geweet het ons graag wil hê nie. Dit was ’n wegholsukses, en talle het hom oor die volgende paar jaar gekopieer. Soveel so dat die veeldoelbussie gou sy eie segment geskep het.

Vandag het die sportnuts egter ’n groot deel van sy skare en glans afgerokkel.

En die bakkies? Die bakkies het maar aangekarring.

In die tyd van die Scenic se geboorte was 4x4’s nog ’n relatiewe nuwigheid. Mercedes se ML het in 1997 aangekom, gevolg deur BMW se X5, Porsche se Cayenne en Volkswagen se Touareg.

Dit was die dae van die groot sportnuts, met die klem op sy gedugte veldryvernuf. ’n Laestrek-ratkas. ’n Sluitewenaar (of twee). Kniehoogte grondvryhoogte. Ja, hoe rowwer die sportnuts se geaardheid, hoe beter was dit.

Destyds kon jy met ’n kortbroek en rugbykouse uit jou bakkie klim, en niemand sou opkyk nie.

Die mark het aanvanklik gebyt, maar later ook net met die voortande gekou.

Hoe het die dinge nie verander nie. Vandag se 4x4’s is ’n skadu van hul voorgangers. Dit is ’n kokon van leer en ligblou stemmingsbeligting, met die klem op sy vermoë om self te kan ry.

Ja, die 4x4 het sag geword. Immers, die raison d’être van die begrip “4x4” is tog dat jy vreesloos kan ry waar ’n gewone voertuig sou huiwer.

Deur hom laer in sy sokkies te laat staan, en met laeprofielbande te sool, neem jy die laaste hoop wat daardie 4x4-vastrap jou nog kon bied om jou eer in die eerste modderpoel te red, weg.

Vandag se 4x4’s is niks meer as ’n prokureur met ’n Harley en ’n gestrykte kopdoek nie.

Gelukkig het ons nog altyd bakkies gehad. Die laaste bastion van 4x4-heerskappy in ’n wêreld van drielemskeermesse en e-sigarette in kersiegeur.

Destyds kon jy met ’n kortbroek en rugbykouse uit jou bakkie klim, en niemand sou opkyk nie.

Vandag? Vandag lê daar ’n jogamat op die sitplek waar eens ’n kompas sou wees. Sy eienaar se poniestert is in ’n rol op sy kroontjie vasgebind, en hy noem sy vriend “bra” as hulle bonsais in die laaibak sit.

Vergeet die kommuniste, anglisismes en losheup-popsangers.

Die einde van die wêreld het gekom toe bakkies leefstylvoertuie geword het.

Meer oor:  Motors  |  Bakkie  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.