Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
PADLANGS: Kom woema teen ’n prys?

Ons Saffas hou van ’n warm kar. Natuurlik koop inwoners van ander lande ook graag ’n verrigtingsedan. Maar hier doen ons dit soos jy spek vir brekfis eet. Jy’s vaagweg bewus dis nie die beste keuse nie, maar watwou.

Verlede week gaan skop ons ’n paar bande by die Kyalami-renbaan in Johannesburg. Dit was ’n formele mediadag, waar ons joernaliste ’n kykie na die binnewerkinge gegee is van BMW se grootse M Power-fees wat oor die naweek by die renbaan gehou is.

Woelige BMW’s van toeka. Ons Suid-Afrikaners het nog altyd gehou van ons warmgemaakte rygoed. Wat voorspel dit vir ons padgedrag?

Eerstens, verskoon die lawwe naam van die fees. Dis maar die bemarkingsmense daardie. Die dag self was ’n puik affêre – soos ek ook glo die motorfees self was.

BMW Suid-Afrika het werklik groot moeite gedoen om die byeenkoms van jou gewone uitstal van motors by die mall tot ’n unieke viering van die verrigtingsmotor op ’n wêreldklas-renbaan te verhef. En dit als met ’n sterk Suid-Afrikaanse geur, vir die Bavariese handelsmerk.

Dat die fees so suksesvol is – meer as 40 000 mense het oor die naweek na Kyalami gestroom – is nie vir my so verbasend nie. Ons Saffas geniet ’n stel warm wiele.

Proporsioneel is ons van die grootste kopers van verrigtingsmotors ter wêreld. Topdrie, om presies te wees. En dit strek oor handelsmerke heen, wat wys hoe inherent ons voorliefde is vir karre wat behoorlik kan aanskuif.

Elke tweede Golf wat in die land verkoop word, is ’n GTI. Nie die intreemodel met ’n eenliterenjin nie. Die topmodel met die warm turbo en vet tekkies. In geen ander land is die verhouding van GTI’s tot gewone Golfs so hoog nie.

’n Paar jaar gelede was ons Mercedes se beste mark vir sy AMG-modelle, daardie brulwaens wat vir hul eie remligte moet briek as jy om die blok ry. Die pap rand het ons op hierdie lys ietwat laat afsak, want dié voertuie se ingevoerde koste het net buite verhouding hoog geraak. Maar ons boks steeds bo ons gewigsklas.

Verlede week het BMW se Duitse grootbaas van sy M-afdeling (dus, al sy verrigtingsmotors soos die M3 en M5) vir ons gesê Suid-Afrika beklee ’n spesiale plek op die wêreldkaart teen München se kantoormuur.

Markus Flasch het spesiaal die Boeing gehaal om ons dit te kom vertel, en hy was tegelyk verras en trots op die syfers. Wat verkope van sy M-voertuie betref, is ons in die topvyf van al die markte waar BMW handel dryf.

Op sigself is ditnie noodwendig iets waarop ’n mens die tamboer hoef te slaan nie. Dis bloot ’n interessantheid. Markte verskil. Kulture verskil. In sommige lande koop die mense die graagste ’n veertienhonderd en speel skaak voor die kaggel.

In Suid-Afrika soek ons die model met die drieliter-vet-ses. Met Pirelli’s, vier uitlaatpype en ’n sleephak vir die Venter.

Wat ’n mens straks wel na moet oplet, is die impak wat so ’n warmmotorkultuur het.

As so ’n groot persentasie van die voertuie op die pad motors is wat deeglik ’n tekkie kan klap, wat vertel dit van ons latente houding agter die stuur? Want ek glo as meer Suid-Afrikaners finansieel kon, sou hulle dadelik hul Corollas en Polo’s vir iets met meer woema verruil het.

Die moderne verrigtingsmotor is soos hy daar staan nie onveilig nie. Sy remme is kragtiger, dus stop hy inderdaad vinniger en meer stabiel as ’n ingevoerde rammelkas uit Indië. Ook sy padgedrag is teen enige snelheid puik: Voorspelbaar, gebalanseerd, stabiel.

Dis die knaap agter die stuur van wie ons as ’n land met ’n bewese motorkultuur ’n groter bewustheid moet hê. Ons moet aanvaar die meeste Suid-Afrikaners geniet hoë verrigting. Hulle hou van meeding op die pad. Haastig wees. Ongeduldig raak. Dalk kanse waag.

Dis geen voertuig se skuld nie. Die motor is bloot die mark se antwoord op die publiek se versoek.

Hoe ons met hierdie kennis en gegewe omgaan, is wat ons sukses met padgedrag bepaal. Daar lê duidelik nog werk voor.

Meer oor:  Spoedreeks  |  Spoedvrate  |  Padlangs  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.