Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Lesse vir ons uit die Nissan-stal

Seker die grootste skandaal vanjaar op die motorfront het verlede week, knap voor die jaar se einde, in Japan gebars toe owerhede die Nissan-grootbaas, Carlos Ghosn, dramaties vir finansiële onreëlmatighede in hegtenis geneem het.

Carlos Ghosn, geskorste grootbaas van Nissan en Renault, voor sy inhegtenisneming by ’n Nissan-konsepmodel. Foto: AP

Vir ons Suid-Afrikaners is dit ’n vreemdigheid. Ons het nou al daaraan gewoond geraak dat politici erg kan droogmaak wat die land en sy staatsentiteite der miljoene rand kos. Maar niemand word aangekla of in hegtenis geneem nie.

Die dinge wat tans in die Zondo-kommissie oor staatskaping na vore kom, is skandalig. Maar dit is reeds vroeër onder die soeklig geplaas in Jacques Pauw se boek, The President’s Keepers. En steeds is niemand in oranje oorpakke nie.

Daarom is oorsese gebeure so ’n aardigheid vir ons. Optrede teen verdagtes is flink. En daarna val die valbyl in die gevolglike regsproses ook vinnig. ’n Mens kry die idee dit begin boonop na die korporatiewe wêreld oorspoel.

Dit was ironies nog altyd die een sektor van die samelewing wat homself graag beskou het as dat hy hoër morele standaarde as die staat sou hê. Maar met die Steinhoff-sage wil dit voorkom asof ook hier geen verdere optrede gaan kom nie.

Politici aan die sosialistiese kant van die spektrum gebruik dan juis dit om die kapitalisme mee te slaan: Julle wys graag die vinger, maar kyk hoe verneuk jul eie mense. Wat in ’n mate waar is, want in die Steinhoff-debakel is pensioenfondse en private beleggers erg geraak toe aandeelpryse skerp getuimel het. Groot beleggings is eensklaps net so uitgewis, en niemand boet nie.

Die private sektor het egter wel ’n mate van ’n demokrasie in hom gesetel, in die gedaante van aandeelhouers wat ’n maatskappy vir swak besluite kan straf deur aandele te verkoop. Mense stem dus met hul voete, soos ons sou verwag kiesers met ’n party sou maak wat swak regeer.

Die vervolging van maatskappyleiers wat oortree het, lê egter in die skoot van die owerhede. En hiervoor kan die private sektor nie pa staan nie. Dus, die flink en ferm optredes oorsee wanneer Volkswagen se baadjiedraers in die tronk beland (Dieselgate), en nou Carlos Ghosn wat in hegtenis geneem is, is ’n voorbeeld van ’n suksesvolle staat. Nie ’n ekonomiese beleid nie.

Ghosn (uitgespreek: ghoun) se oortredings blyk voorlopig boonop nie eens so dramaties te wees nie. Nie in vergelyking met die manipulering van ’n president om sekere mense as ministers aan te stel of groot staatskontrakte aan toe te ken nie.

Eerder lyk dit of Ghosn, in een van die klagte, bedrog rakende sy salarispakket gepleeg het om minder belasting te betaal. Sy verdediging, kan ’n mens nou al voorspel, sal wees dat dit ’n poging was tot ’n laer belastingaanspreeklikheid wat straks te avontuurlustig geraak het.

Die aard van die klagte getuig egter van binnekennis tot sy pakket en beleggingskeuses. Wat ’n mens laat wonder of inligting nie dalk doelbewus gelek is nie. In die groot Renault-Nissan-alliansie was dit ’n ope geheim dat die Franse die beste kant van die wisselwerking tussen die twee groepe gehad het. Parys was ook aanvanklik traag om Ghosn by Renault uit te skop.

Maar dit is agtergrondgeraas. Die spilpunt wat in al dié gevalle geopenbaar word, is die honger na goeie bestuur: op korporatiewe vlak en aan regeringskant.

Kyk na die kontras hier op die SA bodem. Verlede week marsjeer ’n skare EFF-ondersteuners in rooi na Nissan se fabriek in Rosslyn. Die eise en dreigemente wat aan die vervaardigingsektor gemaak word, kom so reg uit die sosialisme se handboek.

Die owerhede is traag om hakke in te slaan en ’n streep te trek. En dit moet ons verontrus. Die markte het ’n selfregulering, krom soos dit is. Dit is die beskerming (en vervolging) van die werkskeppende private sektor wat aandag moet kry. Anders gaan daar nie eers ’n fabriek wees voor wie se hek jy kan gaan toeters blaas nie.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.