Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Los die bierblik, langpad roep
Hoeveel stories kan hierdie ou Citroën 2CV nie al vertel nie?

Af in die grondpad, net so om die draai van waar ek naweke in die Overberg bly, staan ’n fris, groot Mercedes Sprinter altyd buite geparkeer.

Maar dis geen gewone Sprinter nie. Hy moet ’n storie hê, kan jy aan sy knoppiesbande en streep plakkers van eksotiese bestemmings in die agterruit sien.

Die grys Sprinter is een van daardie kampeerwaens, iets wat gewilder in Europa is as hier by ons. Ons mense hou mos maar van woonwa sleep. Of, as jy hardebaard wil wees, haak jy ’n boswa agter jou dubbelkajuit aan.

Die Europeërs se paaie is egter vriendeliker, daarom dat jy met elke Tour de France op die kassie die rye en rye wit reiswaens langs die smal bergpaaie geparkeer sal sien. TV-skottel op die dak. Afdakkie uitgerol. Kampeerstoele reggepak. Als reg vir wanneer Ertjies en Yves met hul lycra-lywe om die draai geseil kom.

Ek vermoed die buurman se grys Sprinter kom van daardie wêreld. Dit is weliswaar ’n regterstuurmodel, maar daar is ’n wit CH-plakker agterop. Groot en ovaalvormig – daardie plakkers wat wys van watter land jy afkomstig is. In dié geval, Switserland.

Hier in die Overbergse kusdorpies sien jy gereeld sulke Europese reiswaens toer. Hulle ry kuslangs uit die Kaap, en sluit later by die Tuinroete aan. Of skiet dan reguit noorde toe, na Namibië en die res van wilde Afrika.

Dit was nog altyd een van my drome om met so ’n reiswa die onbekende langpad te neem, en net te ry. Karoo toe. Kalahari toe. Nog verder op.

’n Paar jaar gelede het ek met my fiets deur Tibet gaan toer. Die Dak van die Wêreld, word dit genoem. Die plato daar, omring deur die wit Himalajapieke, is 4 400 m bo seespieël. Die plato is die plat gedeeltes. As jy oor ’n bergpas moet gaan, klim jou altimeter tot by 5 000 m, en nog so ’n bietjie.

Om ’n idee te gee van hoe hoog 5 000 m is: As jy by die Kaapse Waterfront sit, met Tafelberg voor jou, is die kabelkar se boonste huisie 1 000 m hoër op. Sit dan nóg vier Tafelberge bo-op hom, en jy het 5 000 m bo seespieël. Dis hoog.

Net ’n paar kleurvolle stories van die eerste dae deur Tibet, en toe die enjin wat halt geroep het in die papierdun lug?

Die een môre, terwyl ek my oggendkoffie staan en drink neffens my potloodgroot eenmantentjie, hoor ek toeters in die verte. Dit was ’n jolige konvooi Citroën 2CV’s, so vier of vyf van hulle, vergesel van ’n yslike Land Cruiser agterna.

Op die deure en op hul buffers was veelkleurige kentekens. Bes moontlik ’n groep entoesiaste wat besluit het om ’n avontuur van ’n leeftyd aan te pak, en toe deur Tibet met hul stokoue 2CV’s gaan ry het. Weliswaar met ’n Cruiser as bystandvoertuig, maar tog.

Die wêreld raak kleiner, vandag. Avonture is verder en moeiliker te vind. Jy kan vandag met ’n sedan op teerpaaie ry van die Kaap tot by Dar es Salaam. En nog verder, verby Nairobi in die noorde. Daardie grys Sprinter, af in die straat, het straks ’n paar grondpaaie aangedurf. Maar nie te veel nie.

Dis die 4x4-weergawe van die Sprinter, met sy binneruim omskep om soos ’n woonwa ’n paar beddens, tafeltjie, badkamer en kombuis te bied. Die pens is ’n raps hoër gelig bo die grond as die gewone Sprinter, en sy bande het ’n paar wilde knoppies op wat help vastrap wanneer dit moet.

Maar dis ook al. Dit bly steeds ’n lang paneelwa wat tot ’n veldryvoertuig omskep is.

Vyf Deux-Chevaux’s deur Tibet. Daardie prentjie sal my nooit ontgaan nie. Het hulle Parys weer gehaal? Moes almal sitplek soek agter in die groot, wit Cruiser? Net ’n paar kleurvolle stories van die eerste dae deur Tibet, en toe die enjin wat halt geroep het in die papierdun lug?

Maar dan, dit is tog ook die avontuur.

Of jy klaarmaak en of jy vassit en breek, dit is jou verhaal wat jy eendag kan vertel.

Want hoe ook al die grinnikke by die vleisbraaivuur gryns, jy het dit probeer. Die res staar maar net na die bierblik in die hand.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.