Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Maak plan met ou spoorroetes

Een van die blinkste toerisme-idees het stilweg sy verskyning op ons landskap gemaak – en die bemarkingspotensiaal by oorsese toeriste is enorm.

’n Streek se ongebruikte treinroetes kan in fietstoerpaaie omskep word.

Om eerlik te wees, dit het niks met motors of motorvervoer te make nie. Maar aangesien dit tog mobiliteit in gedagte het, voel ek die onderwerp is ’n Padlangs werd.

Die Wes-Kaap se toerisme-owerhede het ’n nuwe juweel in hul arsenaal, en as jy redelik op die hoogte is van wat in Europa op dié front aan die gang is, sal jy dit dadelik herken.

Daar is ’n nuwe fietsroete uitgelê wat van kant tot kant reg oor die provinsie strek, en op die roete se meegaande webwerf kan jy die kaart in ’n kits aflaai en na jou slimfoon of GPS-eenheid oordra om roete-aanwysings te help bied.

Die gedagte is dat jy en jou vrinne met jul fietse al deur die Klein-Karoo toer, van Plettenbergbaai in die ooste tot by Stellenbosch in die weste, meestal op grond- en plaaspaaie.

Dink daaraan as ’n fietsrit-weergawe van die Spanjaarde se ikoniese Camino de Santiago. Die Wes-Kaap se uitgemerkte roete strek oor 742 km, en behoort enigiets van sewe dae vir die fikses en flukses tot twee weke vir die stoepsit-brigade te neem om te voltooi.

Wat my opgewonde maak, is dat hierdie ’n briljante, moderne toerisme-aktiwiteit verteenwoordig. In Europa het die Europese Unie heelwat geld in ’n nuwe projek gestort wat hulle die EuroVelo-roetes noem.

Dink daaraan as ’n fietsrit-weergawe van die Spanjaarde se ikoniese Camino de Santiago.

Kruis en dwars oor Europa is daar vandag fietsroetes uitgemerk, elk met ’n eie nommer soos ons snelweë, byvoorbeeld EV3 of EV6, wat van Amsterdam tot Praag strek, of Hamburg na Barcelona.

Toeriste van oor die wêreld heen met ’n redelike aptyt vir avontuur en aktiwiteit stroom vandag na Europa om ’n fiets te gryp, en die landskap van ’n saal te verken.

Die roetes is meestal plat, al langs riviere en glad nie moeilik om te voltooi nie.

Saans stop jy by ’n dorpie, en kies enige van ’n rits hotelle of pensiones om by oor te slaap. Of jy kan kampeer in die plaaslike kampeerterrein, sou jy wou. En, belangrik, jy ry op jou eie pas. Gewapen met die kaart in jou hand kan jy so vinnig ry as jy wil, of stop-stop by elke kafee soos jou bene dit toelaat.

Benewens hierdie formele roetes wat van hoek tot kant oor Europa strek, het plaaslike owerhede ook hier en daar ’n roete uitgemerk in ’n poging om aktiewe toeriste na hul distrik te lok.

Die ou Oos-Transvaal is ’n pragtige gebied met volop historiese plekke om by aan te doen.

Een van die jongstes en vinnig besig om die gewildste te word, is Spanje se TransAndalus, ’n roete wat diep in die suide ’n wye sirkelroete vorm.

Die TransAndalus volg meesal grondpaaie, maar hier en daar ook ou spoorpaadjies waar die spoorlyn in onbruik verval en die spore opgelig is. Die gradiënt is matig en die landskap lieflik, asook propvol geskiedenis en fantastiese dorpies om te verken.

Met die Wes-Kaap se eie Cross­Cape-roete, van Plett na Stellenbosch, nou besig om sy merk te maak, dink ’n mens dadelik aan watter streke elders in die land van hierdie inisiatief gebruik kan maak.

Die ou Oos-Transvaal is ’n pragtige gebied met volop historiese plekke om by aan te doen. Of die Wildekus en KwaZulu-Natal. Dit verg beplanning en ’n belegging vanaf die owerhede, maar vir toerisme is dit ’n puik idee.

Die Kaapse roete kan selfs as ’n plaaslike Camino ingespan word, sou daar herberge meer gereeld al langs die roete opgerig kon word.

Oktober was vervoermaand, en fietse verteenwoordig vervoer. Het ons buite die Wes-Kaap hoegenaamd amptenare wat die visie, kennis en wil het om so ’n potensiële toerisme- diamant te ontsluit?

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.