Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Maak voetgangers só touwys

Die tyd het gekom dat die Suid-Afrikaanse owerhede hul huis in orde kry en ons bedenklike padsterftesyfer onder beheer bring.

Vir te lank word daar net planne bekend gemaak en geel glimbaadjies uitgedeel. Teen ’n koers van 14 000 padsterftes per jaar is ons nie net skrikwekkend hoog bo die wêreldnorm nie, ons versaak ook die weerloosstes in ons midde: voetgangers en kinders.

Dis nie net ’n gesanik van ’n joernalis nie. Verlede Vrydag het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in sy jongste statusverslag oor padveiligheid gesê padsterftes is globaal vir 1,35 miljard sterftes per jaar verantwoordelik. Die meeste hiervan in Afrika en Suidoos-Asië, en grootliks kinders.

Dit is te danke aan skerper wetstoepassing, enersyds. Maar ook danksy beter voertuie, wat hul insittendes beter beskerm in die geval van ’n botsing.

Ons ken die tendens. Elke jaar soos nou, knap voor die Kerstyd, begin die koerant- en TV-berigte ons bereik: Nog ’n groot slagting, iewers in die land op een van ons paaie. Trouens, ons desensitasie het al gemaak dat ons dinge versag het tot ’n blote grinnik en skouerophaal: Die Pad van die Dood, of doodskiste op wiele (minibustaxi’s).

Die WGO-verslag onderstreep ’n paar dinge wat tevore al hier gesê is, maar dalk is dit goed om dit weer vanuit dié organisasie se mond te hoor. In Europa is die sterftekoers die laagste (9 sterftes per 100 000 mense). In Afrika is dit die hoogste: 26. Suid-Afrika bring sy kant met ’n ewe slegte 25 sterftes per 100 000 inwoners.

Wat die WGO egter verder waarneem, is iets wat ons owerhede gerus ter harte kan neem. Ondanks ’n groeiende bevolking en meer voertuie op die paaie, kry Europa dit steeds reg om sy sterftekoers af te bring.

Dit is te danke aan skerper wetstoepassing, enersyds. Maar ook danksy beter voertuie, wat hul insittendes beter beskerm in die geval van ’n botsing.

’n Derde aspek wat in ontwikkelde lande meehelp tot ’n daling in padsterftes, is beter infrastruktuur: Toegewyde fietsbane. Sypaadjies en voetoorgange vir voetgangers.

Dit is trouens Suid-Afrika se achilleshiel in sy padsterftesyfer. Ons sit met ’n buitengewoon hoë koers van voetgangersterftes.

Goeie infrastruktuur, soos sypaadjies en toegewyde fietsbane, kan meehelp om padveiligheid vir alle gebruikers te verbeter.

Bykans 40% van alle sterftes op ons paaie is voetgangers. Dink mooi hieraan: Amper elke tweede sterfgeval is nie iemand wat in ’n kar sit nie, maar wat langs die pad loop.

Wanneer ons owerhede dus die skuld vir padsterftes voor die deur lê van motoriste wat “haastig” is, moet ’n mens jou afvra of ons baadjiedraers werklik die vinger op die probleem het.

’n Motoris is meestal ’n welgestelde persoon, iemand met ’n vaste adres en ’n vaste inkomste. Dit is ’n vervolgbare individu.

’n Voetganger van ’n township of plattelandse gebied, daarenteen, het straks nie hierdie kenmerke nie. Vir die owerhede dus om in te gryp is dit makliker om op die vervolgbare persoon te fokus. Nie net kan jy die saak opvolg nie, daar is ook die wins aan ’n finansiële voordeel wat potensieel voorlê.

Die AA vra lankal dat ons owerhede die winsmotief uit padveiligheid moet haal. Maar dit val op dowe ore.

Ons voorspel dinge gaan hierdie Kerstyd dieselfde roete volg: Teiken die motoris, en kyk skoenpunte toe as taxi’s op ’n blinde hoogte verbysteek, of bloot net kanse waag op ’n sperstreep en algemene verkeersreëls minag.

Botsings reg van voor is meestal weens ’n menslike oordeelsfout, nie ’n meganiese gebrek aan die voertuig nie. Dit is voorkombaar, as die institusionele wil daar is.

Die dronk voetganger en die fietsryer wat skielik oor die pad slinger? Dis moeiliker uitdagings wat slegs met opvoeding op lang termyn opgelos gaan word. Maar ten minste moet ’n mens begin.

’n Goeie idee sou wees om padveiligheid in skole te onderrig, en leerlinge te help om hul rybewyse deur skoolprogramme te bekom.

Dis hoe ons kleintyd geleer het om te kyk voor jy oor die pad stap, nie rommel te strooi nie en met ’n toe mond te eet. Dit kan werk vir padmaniere ook.

Meer oor:  Padveiligheid  |  Voetgangers  |  Padlangs  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.