Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: ’n Muur van planne vir Afrika

Iewers in sy memoires beskryf Brian Wilson die genialiteit van Phil Spector. Hy wat met sy muur van klank ’n nuwe benadering tot die popmusiekbedryf gebring het.

“In die 1960’s het mense instrumente afsonderlik opgeneem,” vertel Wilson. “Eers die kitare. Dan die dromme. Later is die stemme opgeneem, en eindelik is alles deur die produksieregisseur bymekaargesit.

“Spector het egter met ’n nuwe idee vorendag gekom: Om alles tegelyk op te neem. Hy het in hierdie massa klanke geglo. Dit moes groot wees. ’n Muur van klank. Dit moes jou soos ’n brander tref en omslaan.”

Inderdaad, komende van die hart en siel van die Beach Boys-vyftal, was dit ’n pluimpie. Dit was die dae van “Good Vibrations”, Wilson se geniale oomblik waarin ritmes sensueel soos ’n tango-paar gly-stop en versnel, en die harmonieë met die sorgvryheid van ’n blommekind gaan lepellê.

Spector het Wilson geken. Hom op ’n dag selfs oorgenooi na sy paleis-huis in Bel Air, Los Angeles, vir ’n Saterdag se kuier. Maar Wilson het eers ’n lyn gesny na sy spieëltafel, en in ’n waas van psigedeliese euforie nuwe harmonieë op die vloer lê en bedink.

Verlede week, in Stuttgart, was daar ’n opgewondenheid van ’n ander aard. Veertig ministers van vervoer het vanoor die wêreld heen saamgetrek vir ’n week lange gespreksforum oor mobiele transport.

Maar reeds op die eerste dag is die sweep hard geklap. Dit is tyd dat Afrika sy sokkies optrek wat betref sy hopelose verslagkaart oor padveiligheid, het dit vanaf die voorsitter gekom.

Die syfers wat genoem is, was eintlik skokkend. Vir ’n vasteland wat slegs 2% van die wêreld se voertuie het, is hy verantwoordelik vir 20% van alle padsterftes.

Vir die Weste is hierdie woorde soos Spector se muur van klank. Dit oorweldig hulle. Hoe kan dit wees? Waarom word niks hieromtrent gedoen nie? En tog, as ons eerlik wil wees, dit is syfers wat ons in Suid-Afrika al sonder ’n oogknip leer aanvaar het.

Daar sterf jaarliks sowat 14 000 mense op ons paaie. Dus, amper 1 200 mense per maand. Sommige Westerse lande sukkel om hierby in ’n jaar uit te kom – met veel meer voertuie op die pad.

Die gewone verskoning is weer in Stuttgart aangebied. Ons het nie geld om aan beter paaie te bestee nie. Want, kolonialisme.

Is dit egter paaie se skuld, alleen? In watter mate moet die motorbestuurder self verantwoordelikheid neem? En ook die owerhede, vir beter wetstoepassing?

Die Weste het in Stuttgart sy finansiële (en administratiewe) spiere gebult en die bal vir ’n nuwe taakspan aan die rol gesit.

Die span moet ongeluksdata ontleed, en daaruit voorstelle vir ingryping aan Afrika-regerings doen.

Dis ’n goeie gedagte. Dis ’n tipies Westerse plan, maar teoreties ’n kragtoer. Laat jou lei deur data en feite. Maak daarvolgens die regte ingreep waar die meeste wins behaal kan word. Logies en prakties, dus.

Maar, dis Afrika. Ons eie AA sê fokus liewer op voetgangers. Skool hulle, bemagtig hulle, en bied beter openbare vervoer as alternatief vir voetslaan langs die skouerlose hoofpad.

Dit maak sin, want in Suid-Afrika is 40% van alle padsterftes gewone voetgangers. Mense buite ’n motor dus wat in ’n padongeluk sterf. En so jou statistiek beduiwel.

Wilson sê hy het Spector bewonder. Dat die klankman met die wilde hare hom nooit weer na sy huis genooi het nie, noem hy net vlugtig. Dit gaan oor die rock ’n’ roll, man.

En dis straks hoe die spel hom op die kontinent ook gaan uitspeel.

Ministers gaan terugkeer uit Stuttgart. Vuur en vlam nuwe planne bekend maak. ’n Muur van aktiwiteit. Oranje kegels, glimgroen baadjies, en dinge wat blink op uniforms se skouers.

Daar buite, op die pad, gaan die kansvatters steeds ’n lyn sny na die volgende euforie.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.