Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
PADLANGS: ’n Rigtingwyser vir Suid-Afrika

Duitsland se voormalige minister van vervoer en deesdae EU-wetmaker, Alexander Dobrindt, het pas ’n geskarrel in die Europese vervoerbedryf veroorsaak met sy voorstel dat alle vlugte in die Europese Unie voortaan só belas moet word dat daar inderwaarheid ’n minimum koste verbonde is aan enige vlug.

Die idee is veral om die sogenaamde sakpaslugdienste ’n bietjie in die bek te ruk. Tans bied hulle gereeld spesiale aanbiedinge op kort vlugte aan wat ver beter is as wat trein- en busdienste vir dieselfde roetes kan aanbied. Die sakpasvlugte lok dus meer reisigers, wat die sakemodel vir die res bemoeilik. Boonop is daar ’n omgewingskwessie hieraan verbonde: lugvervoer oor kort afstande is ver meer skadelik vir die omgewing as die ekwivalente pad- en spoorbedryf se aanbiedinge.

Jou belastinggeld in Nederland in aksie. ’n Bus neem jou fiets gratis oor die Afsluitdyk terwyl aan die pad gewerk word. Foto: Marnus Hattingh

In ’n meningstuk verlede week op Bloomberg maak die joernalis Leonid Bershidsky ’n paar goeie opmerkings. Die hele kwessie het boonop ook relevansie vir ons hier in Suid-Afrika. Ek propageer al lankal dat ons owerhede meer op treindienste moet fokus, vir ’n praktiese sowel as omgewingswins.

Die EU werk soos enige handelsblok om sy lede se belange eerste te stel en dit ook te beskerm. Binne dié filosofiese raamwerk sal jy dus vind dat vlugte wat binne die EU se grense begin en eindig (Frankfurt na Rome, byvoorbeeld) laer getaks word as vlugte wat na buite die EU se grense gaan (Rome na Kaïro).

Daar ontstaan dus ’n tweestrydige situasie: ’n “Groen” taks word gehef om die omgewing ter wille te wees, maar sodra jy dieselfde afstand na ’n bestemming buite die EU vlieg, klim die taks skielik. Of die vlug binne die EU nou dieselfde omgewingskade veroorsaak as die vlug na buite, is nou nie meer ’n saak nie. Dit gaan eerstens oor handelsbelange.

Een keersy van die muntstuk is nou dat lugdienste dié belastingtoegewings binne die EU slim tot hul voordeel benut. Veral die sakpaslugdienste bied sporadies wilde aanbiedings aan wat hul Boeings vol en die treine leeg maak. Dit nou deur met hul prys-tyd-model dit onweerstaanbaar vir die verbruiker te maak om ’n lang bus- of treinrit teen sowat dieselfde prys te wil onderneem.

Dobrindt se voorstel, waaroor lugdienste logieserwys onthuts is, is dus in effek heel slim. Stel ’n prysvloer voor (deur die implementering van belastings) vir enige vlug se prys. Soos ons minimum lone in Suid-Afrika, byvoorbeeld. Dit neig na die sosialistiese spektrum op die sakemodel, maar die doel heilig die middele, sê Dobrindt. Forseer mense om oor kort afstande af te sien van ’n vlug, en eerder die bus of trein te haal.

Die vrye mark hou nie van sulke staatsinperkings nie, en dit is dus te betwyfel of die Duitser se voorstel in kapitalistiese Europa polities enige vlerke sal kry. Sy argument is egter solied. Boeings is die “vuilste” tydens opstyg en landing. Wanneer hy 10 km bo in die lug teen ’n matige enjinwerking deur dun lug glip, is hy relatief sag met die omgewing.

Jou kort vlug van die Kaap na George se netto impak op die omgewing is dus veel erger as die oornagvlug na Europa – en as die trein- of selfs busrit.

Hier is dus die rigtingwyser aan Suid-Afrika. Belê in ’n hoëspoed-treinnetwerk vir die Gauteng-Durban-roete, en knap algemene spoorvervoer op vir die res van die verbindings tussen die metro’s. Die verbruiker en omgewing sal baat vind hierby.

Daar is egter ’n stertjie aan die voorstel voor die EU. Enige belasting word sigbaar effektief bestee. Afgekampte belastings is ook volop. Jou planne is net so sterk as wat jou administrasie is, helaas Suid-Afrika.

Meer oor:  Europese Unie (Eu)  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.