Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Op reis, saam met die mense
’n Trem dommel deur Zagreb se strate. Hoe reis jy in die vreemde?

Oorkant aan die tafel sit Pieter en Hannerie. Jonk, mooi en opgewonde. Hulle vlieg volgende week op hul volgende oorsese vakansie.

“Kroasië.” Pieter hou sy hande voor hom in die lug, soos ’n verdediger in netbal wat gereed is om die bal te vang.

“Kroásië, man. Dis die nuwe Europa. Jy weet waar dit is?”

Hannerie buig vorentoe, asof sy iets vertrouliks wil meedeel. “Ons probeer elke jaar iets nuuts sien. Jy moet ’n plek mos belééf, nè my lief?” en sy sit haar hand op sy arm. “Dit moet ’n erváring wees. Ons wil hierdie keer graag iets teruggee.”

Pieter trek sy chardonnay nader. Ys klingel.

“Venesië is stunning, glo my. Maar St. Mark’s en die Louvre en St Paul’s . . . dit raak net so, net so . . .” sy oë dobber soos die ysblokkies, op soek na die regte woord.

Touristy,” help Hannerie met ’n glimlag.

Sy trek haar sny wit Franse brood in die piering vol olyfolie, en doop dit dan vinnig in die donker balsamiese asyn.

“Kroasië is meer off the beaten track. Dis anders. Maar dis steeds Meditterreens. Eklove net Meditteranean.”

“Ons wil nie net invlieg, kyk, koop en waai nie,” sê Pieter ferm. “Ons wil hierdie keer ook teruggee. ’n Bydrae maak tot die community. Dis net eties, so.”

“En jy wil die locals ervaar soos hulle elke dag lééf,” beklemtoon Hannerie en vang ’n druppel knap voor dit terug in die piering plons.

“Ou Europa gee dit nie meer vir jou nie. Ons het dit al gesien. Dis net euro’s, euro’s, euro’s. Jy voel soos ’n toeskouer.”

“Soos Cyril se buffel by die vendusie,” klaar Hannerie die punt fyner op.

“Dis eintlik so maklik, deesdae. Ons doen als op die internet.”

“Op ons fone, Lief,” glimlag Hannerie.

“Daar’s ’n app vir alles.” Pieter haak vyfde rat. Hy’s tegno-slim en weet hoe dinge werk.

“Ons bespreek ons vliegkaartjies direk op Lufthansa se web­site. Kyk hier, ons het R2 000 gespaar so. Per kaartjie. Deur net die middelman uit te skakel.

“En dan, ’n dag voor ons vlieg, check ons net in met die foon. G’n gesukkel meer by die lughawe met toue nie. En jy kry die sitplek wat jy wil hê.”

“Paadjie,” lag Hannerie. “Altyd die paadjie vir my.

“Hei, jy wil nie oor ’n vreemdeling se bene moet klouter in die middel van die nag as jy moet badkamer toe gaan nie. Netnou word hy wakker en kry verkeerde idees, met jou so hier bo-oor hom.”

Pieter sit sy arm om haar. “Ons skakel die middelman uit. Met elke transaksie. Dis die internet.

Jy hoef nie meer te bel of te mail en na iemand se lang stories in swak Engels te moet luister nie.

“Dis net amazing, die voordele wat dit bied. Soveel beter as in die ou dae. Jy koop jou kaartjies, jy check in. Zap.”

“Ook ons hotelle het ons als so oor die internet gedoen. Ek het die app afgelaai,” vertel Hannerie. “Jy moet dit bietjie probeer, hoor. Dit werk stunning.

“Daar’s foto’s van die kamers en hoe die plek lyk en als. Jy kies net en betaal dan so. So met jou kredietkaart oor die foon.

“Jy hoef nie meer te bel of te mail en na iemand se lang stories in swak Engels te moet luister nie.”

“Ag, daai stories.” Pieter hou sy chardonnay teen die lig. “En ons mis nie ’n ding wat jy moet sien nie, hoor. Ek’s op hierdie chat-groep. Jy tik net in waarheen jy gaan, en dan kry jy al hierdie voorstelle van goed wat jy daar moet gaan doen of sien. Dis soos een groot community.”

“ ’n Wêreld-community,” sê Hannerie. “Global village. Almal help mekaar. Dis amazing.”

Pieter kyk op sy horlosie. “Jis, jong, ons moet skuif.”

Ek vra hoe gaan hulle daar oorkant maak met vervoer. Het hulle ’n week lange treinpas gekoop? Of ry hulle soos die mense daar mos maar maak, met die trems en die busse.

“Trems en busse?” Hy tik op sy slimfoon. “Uber, Pappa. Dis Oos-Europa, onthou. Jy wil nie daar tussen ’n bok en ’n hoender sit en luister na iemand se stories in ’n ander taal nie. Dis als net so, net so . . .”

“So sad,” som Hannerie dit raak op.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.