Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Pst, Tokio, ’n detoks ’seblief?

Motors het ’n detoks van tegnologie nodig. Soos daardie ouens in plakkies en met hul los, wit hemde uit Thailand so graag doen, net daar op die vloer van die leë vertrek gaan kruisbeen sit en in die niet staar.

“Ontspan, meneer, ons bestuur sommer namens jou.” Deesdae se motors raak nou ghrênd.

’n Jaar van gestrooptheid, vir die motor. Terug na eenvoud. Net een jaar van geen nuwe tegno-goeters of selfdoen-truuks nie.

Ons het reeds ’n magdom funksies in ons motors. Die slimstes kan al self ry, die gemiddeldes kan self parkeer, en die res tug soos ’n koshuismoeder as jou gordel nie op knip is nie.

In die verlede was daar nog ’n opgewondenheid oor wat nuuts die vervaardigers vorendag mee kan kom. Want toe was dit probleemoplossend. Jy het ’n behoefte gehad, en die motor het dit vir jou opgelos. Skielik was dit makliker om motor te ry.

Dink aan die outomatiese ratkas. Of die truspieëltjie. Die tru-kamera. ’n Gonser in jou buffer, wat keer dat jy bo-oor die buurman se gholfbal-posbus parkeer.

Dit was prakties en nuttig. Dit het jou dagtaak vergemaklik. Maar nou ruk dinge handuit. Al die klippe wat daar kon in ons pad wees, is klaar uit die pad gerol. Nou’s dit net tierlantyntjies.

Dikwels word ’n nuwe tegnotruuk aan jou opgedwing as siende dat jy dit nog altyd nodig gehad het. Soos skeerroom by jou skeermes. Vlerke aan ’n vliegtuig. ’n Swart rokkie vir Vrydagaand se kuier.

Maar iewers is ’n grens oorgesteek. Ry in enige duur voertuig vandag en dis heeljaar Kerstyd, soos al wat liggie is flikker.

Dit was in ’n mate nog hanteerbaar. Jy kon jouself blind hou vir die alarms. Dis wanneer by my bestuurwerk ingemeng word wat my ghries dik word.

Neem verlede week se ryding. Met die inklimslag raas ’n deuntjie: jou deur is nog oop. Inderdaad, want ek is nog besig om in te klim, dankie. Dan trek jy weg, en terwyl jou hand voel-voel na waar die gordel se knip sit, tik ’n ander gonser jou op die vingers. Nie vinnig genoeg nie, meneer.

Uit by die hek en af in die straat. 30 treë voor die verkeerslig vibreer die pedale en blaf ’n alarm twee keer vinnig: Oppas, jy kan in iemand vasry.

Links by die verkeerslig en op die snelweg. Jy sit terug en ontspan. Tieng-tieng, waarsku Blikbrein. Daar sit iemand in jou blindekol. ’n Ent vorentoe ry ’n vragmotor stadig. Jy beweeg effe na regs om te sien of daar verbysteekkans is. Maar dan vibreer die stuurwiel in jou hand, en die spogmotor ry weer terug na links. Soos ’n ywerige instrukteur hou hy jou in jou baan.

Die rooilyn is wanneer al hierdie truuks en funksies outomaties geaktiveer word wanneer jy die voertuig aanskakel.

Ons het ’n blaaskans nodig. Die punt van gemakliker en veiliger “vir jou onthalwe” is verbygesteek. Dit raak nou net laf. Wanneer ek agter die stuur sit, wil ek in beheer van my motor wees. Nie ’n geprogrammeerde draadboks met die nukkerigheid van ’n EFF-nuusverklaring nie.

Die rooilyn is wanneer al hierdie truuks en funksies outomaties geaktiveer word wanneer jy die voertuig aanskakel. Jy het geen sê meer nie. Iemand in Wolfsburg het namens jou besluit: Jy’s hopeloos agter die stuur. Ons sal vir jou dink.

Ek het al in die blikbrein se program probeer ingaan. Soos Indiana Jones gaan soek waar niemand nog gekrap het nie. Kassies afgetik, ander se kruisies weggeneem, alles. Môre, as jy agter die stuur inskuiwe, groet die oopdeur-alarm-middel-van-die-pad-gonser maar weer.

Dis tyd vir terugbaklei. Goed, briewe skryf. Oukei, ek’s eerlik, ek sit op my knieë. Witjas in Tokio, ’n detoks, seblief?

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.