Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Raps, tik, vee . . . ag, o wee

Tegnologie is soos die ouderdom. Aanvanklik wonderlik, maar later ignoreer jy dit net. Jy weet, daardie terloopse kopknik as ’n kollega uitroep: “O, verjaar jy vandag?”

Hier’s ’n goue waarneming. Soos tyd het tegnologie nooit ’n stop-punt nie. Dit rol net voort.

Onthou nog jou eerste Nokia? Jy’t hom binne ’n paar dae leer ken. Maats gemaak. Bietjie begin spog met hom. Maar op ’n dag bring jou kind ’n plat affêre met ’n kleur-raakskerm, en jou kantoor se e-pos kom maak nes in jou handpalm.

Mooi mik met die vingerpunt om daardie klein ikoon raak te tik. In die ry raak dit nog moeiliker. Maar, dis mos vooruitgang.

Van nuuts af moet jy leer om met die vingerpunt te vee en te blaai. Die jonges staar jou aan of jy sukkel met die werk.

Ons Stoïsynse reaksie sal soms wees om te vra of verandering altyd nodig is. Veral as iets werklik goed werk. Neem die stuurwiel as voorbeeld. Of die brilraam. Selfs die tandeborsel, die kam en die tekkie. Elkeen het sy basiese ontwerp jare terug al vervolmaak. Klaar uitgedink en afgehandel. Vandag kan jy bloot net sy kleur verander, maar die intrinsieke ontwerp van die skoen, die bril en die tekkie bly dieselfde.

Dankie tog. Want iewers is daar nog mense wat ’n stukkie goeie industriële ontwerp herken en waardeer wanneer dit voor hulle neergesit word. Maar nie by motors nie, helaas.

Neem die Japanse toetsmotor wat ek onlangs gery het. ’n Pragtige sportnuts, vol kinkels en kurwes en ’n skuins dakkie wat beweging versinnebeeld, selfs al tik jy nog jou lippe rooi by die verkeerslig. Saki-san was geïnspireerd agter die tekenbord.

Maar sy tegnologie. Sy liewe, verdingeste tegnologie. Dit dryf jou teen die randstene uit, so hard het die witjasse probeer om hom modern en in pas met sy mededingers te maak.

As jy hom aanskakel, gil ’n gonser dadelik. Dis die sitplekgordel wat nog nie vasgeknip is nie. Uit ’n ander hoek blaf Spar se special met Sunlight – die radio, blyk dit, gaan outomaties aan as jy die voertuig aanskakel.

Tussen dié kakofonie deur probeer die sportnuts jou steeds welkom heet en tuis laat voel. ’n Kleurwolkie in sagte groen, pienk en turkoois borrel op die skerm voor jou, knus tussen die spoed- en toerenaald, aan die lewe. Al groter en groter. Totdat die wolkie in die motor se naam eindig en ’n deuntjie speel. Die verwelkomingsritueel.

So, hier is ons ná sewe minute vandat ons ingeklim het. ’n Gonser raas. Die radio het ritme, afgewissel met statiese gesuis en ’n driftige Xhosa-gesprek soos jy alle raakvelde rondom die af-knoppie aktiveer.

Die radio raas steeds. Die gordel-gonser ook. Maar jy voel tuiser as ’n skilpad in sy dop – in die motor se oë.

Die alarm kry jy gou stil. Klik net die gespe in sy harnas, en zap, die Skim se masker is op. Die radio vra egter ’n strategie en ’n tienpuntplan. Sien, dit is van hierdie nuwerwetse raakskerms waar jy nie ’n fisieke, groot knop het vir aan/af of die volume nie.

Eers moet daar met die vingernael op ’n huis-ikoon getik word. Dit maak ’n nuwe skermgreep oop. Nou soek jy ’n sirkel met ’n vertikale strepie in: Die aan/af-ikoon. Tik met die nael op dié en die radio maak soos jou salaris ná sewe dae.

Dit is die handleiding, soos geskryf deur die IT-departement vir ’n planeet genaamd @proxy. Maar hier onder in Realiteit 2.0 werk dinge anders.

In die IT-wêreld bestaan daar ’n voorliefde vir die klein ikoon. Ek sou dink iets met die lyf van ’n R1-muntstuk is ’n praktiese grootte vir jou vingerpunt. Maar kennelik is ’n speldekop-grootte makliker om te sien, en bestaan daar geringe kans dat jy die oppervlak langsaan ook gaan aktiveer.

So, hier is ons ná sewe minute vandat ons ingeklim het. ’n Gonser raas. Die radio het ritme, afgewissel met statiese gesuis en ’n driftige Xhosa-gesprek soos jy alle raakvelde rondom die af-knoppie aktiveer.

Maar dis vooruitgang. En wie wil onnosel lyk? Dus raps, tik en vee jy totdat jy uit moedeloosheid die kar af- en aansit. Want in die naam van tegnologie is dié truuk die een konstante vanuit die ou skool, en hy werk.

Meer oor:  Motors  |  Padlangs  |  Rubriek  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.