Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: SA mis e-bus 15 jaar gelede

Het Suid-Afrika ’n kans deur sy vingers laat glip toe hy die wit vlag gehys het met die belowende Joule-projek?

As jy kan onthou, het Suid-Afrika anderhalf dekade gelede ’n eie elektriese motor begin ontwerp, die Joule. Kobus Meiring was aan die hoof van ’n span ingenieurs wat in Woodstock, Kaapstad, hul hoofkwartier gehad het.

Kobus Meiring (links) en Keith Helfet by die Joule, ’n plaaslik geboude elektriese motor. Vyftien jaar later is e-motors skielik groot nuus.

Meiring se CV was indrukwekkend. Voordat hy by die Joule betrokke geraak het, was hy aan die stuur van die weermag se gevorderde Rooivalk-aanvalshelikopter. Nog later was hy ten nouste betrokke by die Groot Teleskoop-projek in Sutherland.

In die vroeë 2000’s het die Optimal Energy-groep, wat die Joule gebou het, die oud-Suid-Afrikaner Keith Helfet gekry om die nuwe elektriese gesinsbussie te ontwerp. Helfet het in die Kaap skoolgegaan en gestudeer, waarna hy in Engeland nagraadse kursusse in industriële ontwerp gaan volg het.

Helfet sal onder meer onthou word vir sy lang tyd by Jaguar, as die hoof van hul ontwerpspan. Dis danksy sy tekenpen wat daardie bekende supermotor van die vroeë 1990’s, die XJ220, die lig gesien het. Maar Helfet het ook industriële ontwerp gedoen, soos ’n nuwe EKG-skandeerder, en destyds in ’n onderhoud trots vir my ’n prent daarvan gewys.

Onder Meiring en Helfet en die groep jong, dinamiese ingenieurs is ’n handvol toetsmodelle van die nuwe Joule gebou. Een is selfs na die Genève-skou in Switserland geneem om daar langs blink Mercedesse en Cadillacs uitgestal te word.

En toe droog die regeringsgeld op.

Net soos met die mislukte korrelbed-kernreaktorprojek van ’n dekade later, wou politici in die parlement dadelik positiewe resultate sien op die geld wat aan die projek gegee is.

In daardie jare, rondom 2005, was elektriese motors nog ’n nuutjie. Om groot rolspelers aan boord te kry om die projek kritieke massa te gee – daar is geraam dat om plaaslike produksie sinvol te maak, sou 50 000 Joules per jaar gebou moes word – was ’n opdraande stryd.

Jy sit met nuwe tegnologie wat nog nie vatplek op die markplein gekry het nie (die groot Volkswagens en Mercedesse van vandag byt nou eers aan die idee van volumeproduksie vir e-voertuie). Plus ’n klein, onbekende vervaardigingsgroep van ’n klein land, meestal onbekend aan die groot beleggers.

Gestel die land kon die Joule bou, met rugsteun van die regering, sou dit verregaande wees om te sê ons kon vandag daardie e-mobiliteit vir ons openbare vervoerstelsels benut?

Dit was straks dieselfde uitdagings wat die korrelbedreaktor en in ’n mate ook die Rooivalk getref het. Wie gaan ’n onbekende maar duidelik bekwame Rooivalk koop as hy ’n gevestigde Apache kan aanskaf, met ’n gewaarborgde rugsteun vir wapentuig en onderdele vanaf ’n bekende verskaffer?

Die korrelbedreaktor het bloot al meer en meer navorsingsgeld vir klein spronge vorentoe geslurp, werkende in ’n omgewing van nuwe en grootliks ongetoetsde tegnologie. Weliswaar tegnologie wat die land eindelik miljarde sou kon spaar (die nuwe reaktors was kleiner en goedkoper as outegnologie-reaktors, en ook vinniger om op te rig). Maar toe staak die owerhede die projek, en fokus op twee nuwe steenkoolkragstasies, Medupi en Kusile.

In ’n mate was die Joule sy tyd vooruit. Gestel die land kon die Joule bou, met rugsteun van die regering, sou dit verregaande wees om te sê ons kon vandag daardie e-mobiliteit vir ons openbare vervoerstelsels benut?

Met die ontvangs van die 2010-Wêreldbekersokkerbod in 2006 is groot beloftes vanuit owerheidskant gemaak dat een van die positiewe nalatenskappe van die toernooi sou wees dat ons groot stede opgeknapte openbare vervoer sou geniet. Die nuwe busbane en ’n paar leë busse wat in ons middestede ’n horde taxi’s in hul “eksklusiewe” busbane probeer misry, is die resultaat. As ons in ons eie tegnologie belê het, sou ons nie vandag e-busse op groot skaal kon inspan nie?

Dit is een van die koddighede van politici. Geld sal met jare se geduld in ’n bodemlose put soos die SAL gestort word, sonder die vereiste van ’n resultaat. Maar sodra dit ’n tegnologieprojek is, raak die kop dol.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.