Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Swanesang van die luikrug
En dié miskruier? Renault sê dis sy Twizy en hy ry net met batterykrag. Onthou net jou reënjas as dit sous, kêrels.

Vandeesweek is ’n nuwe Toyota Auris aan die wêreld gewys by daardie heimat van die Westerse kapitalisme, die Geneefse motorskou.

Dit was heel gepas dat die Japanners dié koddige uithoek van die wêreld gekies het om sy soveelste herhaling van sy eens ikoniese luikrug te kom uitstal.

Nie net is Switserland hardnekkig eenkant op sy eie in die wêreldpolitiek nie. In Genève het hy ’n sakehoofstad wat stroomop Frans bly te midde van ’n grootliks Duitssprekende land.

Vroeg Maart in Switserland beteken kniediep wit sneeuwalle weerskante van die skoongeskraapte swart strate. Wit wolke borrel meters agter voertuie se uitlate wanneer dit ordelik in Hoofstraat verbymarsjeer. Die gestroopte boomtakke gryp soos benerige vingers orent na die grou lug. Kyk, hier’s geen kersiebloeisels in sig wat ’n Japanse ingenieur aan Tokio sal laat herinner nie.

Waarom jou nuwe luikrug dan juis hier kom wys?

Die Auris het ’n Westerse suksesverhaal geword. In Europa is die luikrugmotor een van die laaste segmente met groot volume.

Stede is kompak en die ontwerp daarvan eeue oud. Parkeerplek is net op straat te kry. Wat beteken hoe kleiner jou voertuig is, hoe makliker gaan jy daardie strategiese stilhouplek voor die boulangerie vind.

Op sy dag het die stompstert- weergawe van die gewone Corolla-sedan perfek in hierdie behoefte voorsien. Die Europeërs kon nog kies uit ’n Renault 5, Peugeot 205 en ’n Golf I. Maar toe die eerste luikrûe uit Japan arriveer, was dit klippe kou vir die tuisspan se spelers.

In Japan word nie met eetstokkies gespeel as dit by die ontwerp van ’n nuwe model kom nie. Met ’n rotasietydperk van sowat vier of vyf jaar het meer soorte Corollas deur die jare uit Tokio gery as wat daar Bok-afrigters en wedstrydplanne is.

Elkeen het met sy nuwe voorkoms en naam opgedaag. Die Tazz. Die Auris. Die Conquest. Die RunX. En elke keer het die Weste getrou die nuwe dialoog aangeleer en vertroud geraak met ’n nuwe voorkoms en naam.

Maar nie alles is meer so vrolik in die land van goeie soesji en verdagte soemo-uitrustings nie. Die wêreld se smaak het verander.

Sny sy dak af, en jy het die pret teruggebring wat die luikrug verloor en die Zoë en Twizy geannekseer het.

Die eens magtige luikrug het nou te make met die elektriese stadsmotortjie: ’n kleiner mededinger met geen enjin nie en slegs ’n battery as sy petroltenk.

Mercedes het die eerste aanslag gelei met sy Smart. Vandag krioel Europa se stede met knap elektriese rygoed met name soos Zoë en Twizy. Almal handsak-groot prettighede op wiele met meer straatvernuf as jou tienerdogter se pers naellak.

Die stryd is eintlik reeds gewonne. Vandeesweek se oplig van die doek oor die nuwe luikrug-Toyota gaan net ’n laaste stuiptrekking van ’n afgeleefde bul wees.

’n Kopknik na ’n glorietyd wat eens was. Soos Abba in 1982 besef het, is dit tyd om dankie vir die musiek te sê en aan te beweeg na die volgende sensasie.

Hou eers vas. Daar is wel hoop. Verlede week het Volks­wagen – wat self kopkrap oor sy groter wordende Polo en Golf – iets nuuts aangekondig. Hy wil ’n oopdak- kompakte sportnuts bou.

Streng gesproke nie ’n nuwe luikrug nie. Maar die klein sportnuts is in wese niks anders as ’n gewone stompstert-stadsmotor met ’n 3 cm hoër broeksoom by die enkels en ’n silwerkleurige dakrak nie.

Sny sy dak af, en jy het die pret teruggebring wat die luikrug verloor en die Zoë en Twizy geannekseer het.

Volkswagen se eerste poging gaan die T-Roc wees, ’n daklose Polo op stelte – en met ’n naam wat saam met die jonges se harte klop.

Klink dit opwindend? Wat dink jy, ons het reeds die faktor 40 gekoop.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.