Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Tik-tik, hier’s jou Insta-opinie
Jy weet die wêreld het verander as ’n rap-kunstenaar se opinie oor ’n halfmiljoen-belegging net so belangrik as ’n joernalis s’n is.

Verlede week sit ek langs ’n Koreaanse grootbaas met ’n salaris 17 keer groter as myne en meer invloed in Seoel as ’n afgevylde .38 Special op die Vlakte.

Ingenieurs en ontwerpers, dis als interessante motormense om mee geselsies te maak. Een sou ’n ratkas ontwerp het. ’n Ander die voorkoms van die nuwe voertuig wat ons vandag gery het. Dalk is jy gelukkig en beland langs die enjinghoeroe. Hy wat daardie V8 hanteer het soos Tsjaikofski met ’n keteldrom op komponeer-dag, en die diensmeisie was weer laat met brekfis.

Hierdie dame was aan die stuur van bemarking. Daardie wasige wêreld van pienk sonsondergange en melkwit glimlagte, waar geen rekeninge of minibustaxi’s bestaan nie en die resep maklik en doenbaar is. ’n Seepbel van onskuld en eenhorings, toegedraai in rooi lint met ’n strik. Bemarking.

Dis altyd ’n uitdaging om met iemand uit Asië te gesels. Hul taal is intonaal. Een woord het verskillende betekenisse, afhangend van hoe jy dit uitspreek. Gaan jou stem op, beteken dit een ding. Daal jou stem, sê jy iets anders.

Daarby ken hulle nie iets soos ons harde R nie, en vervang dit graag met ’n L. By ’n geleentheid in Tokio het die Toyota-bemarker ons na ’n vliegtuigloods geneem waar die nuwe Corolla vir ons gewag het. Met ’n dramatiese ooptrek van die groot, staal skuifdeure roep hy entoesiasties uit: “Welcome to pure ex-whilihation! Welcome to new Co-wholla!”

Die grootbaas uit Seoel staan aan die stuur van bemarkingsake by Hyundai se nuwe N-afdeling.

Dis die span wat voortaan verrigtingmotors moet bou.

Hyundai is ’n relatief jong speler in die globale motormark. As sulks het hy nie, byvoorbeeld, ’n eeu oue Le Mans-geskiedenis om op terug te val soos wat ’n Porsche­ of Bentley het nie. Hy moet ’n nuwe storie skep. ’n Nuwe legende vanuit niks optoor.

Daarvoor sit die dame langs my. Sy het spesiaal uit ’n winter-Korea na die somer-Kaap gevlieg om die groep se nuwe i30N, hul Golf GTI-mededinger, se storie aan ons te kom vertel. ’n Nuwe afdeling vir Hyundai met ’n nuwe, eerste produk – een van vele wat nog gaan kom. Haar taak is massief.

In haar handsak het sy twee items gedra. ’n Dik tjekboek, en ’n denkbeeldige karwats. Die mooi rooi naels, kon jy aflei, het altyd die twee items saam uitgehaal. Want hoewel ons geleentheid fyn en spoggerig en gesofistikeerd was, het haar voorvereistes altyd gegeld.

In ons geval was dit die samestelling van die media. Op haar aandrang was daar ’n sterk verteenwoordiging van die nuwe generasie storievertellers. Die sosiale media. Hy wat met ’n Instagram-rekening en slimfoon selfies langs ’n motor neem met die intellektuele bydrae: “Bestcar4eva”.

Vir ons tradisionele media was dit ’n grinnik werd. Maar dit stuur tog ’n rilling teen die rug af. ’n Persoon met beheer oor diep geldsakke by ’n groot maatskappy besluit die tradisionele media is nie meer die enigste om ’n boodskap na buite oor te dra nie. Dit moet vergesel word met 20-jarige studente, sepie-akteurs en, wel, ’n rapkunstenaar.

Ek het aan tafel langs die rap-sanger gesit. Hy’s ’n beïnvloeder, het sy naamkaartjie gesê. Toe ons bladskud, kon ek nie byhou met sy ingewikkelde handbewegings nie. Maar my kop het ritmies geknik terwyl ek gekou het.

Daar was ’n tyd wat renbaan-DNS iets werd was. Vandag vra die een beïnvloeder of die Hyundai spesiaal so ontwerp is om te lyk soos die model in die Playstation-speletjie. Dis die ren-DNS van 2020.

Enjins, ratkas, verwysingsveld – daardie 20-jarige het dalk meer Insta-volgelinge as wat jy ondersoekers by Sars op jou spoor het. Hier’s die knoop: Waarom sou jy jou halfmiljoenrand-belegging toevertrou aan ’n 20-jarige se hutsmerk-opinie, of omdat ’n rapper sy goue ketting aan dié model se tru-spieëltjie hang?

Dis die wasige wêreld van bemarking.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.