Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Tyd vir regruk loop vinnig uit

As is verbrande hout, maar straks die grootste hekkies waaroor hierdie land gestruikel het, was sy onvermoë om vroeër al ’n groter middelklas te kon vestig, en om die voordele van ’n vryemarkstelsel vinniger na die breë bevolking te laat deursyfer.

Verlede week by ’n beleggingspraatjie by die Kyalami-renbaan het ekonome ’n moedelose, donker prentjie van die stand van die motorbedryf geskets.

Andrew Kirby, grootbaas van Toyota SA, verduidelik die diep knyp waarin die bedryf hom tans bevind.

Die bedryf is ’n belangrike rat in die wiele van Suid-Afrika Beperk. Ons vervaardig verskeie modelle vir plaaslike sowel as internasionale markte. En dit het weer die vermenigvuldigende voordele van werkskepping, vaardigheidsoordrag, die verdien van buitelandse valuta en die behoud van top-bestuurs- en -ingenieursvaardighede.

Suid-Afrika het sy vervaardigingsaanlegte dus nodig. Maar maak ons dit maklik vir hulle?

In ’n ironiese wending moes die gespreksgeleentheid inderhaas vanaf die beplande Durban na Johannesburg geskuif word. Stakers het met intimidasietaktiek amok gemaak by Toyota – die borg van die geleentheid – se Prospecton-fabriek in Durban.

Dat die gesprek oor die stand van die Suid-Afrikaanse motorbedryf nie in sy beplande venue kon voortgaan nie weens onwettige stakings, het die bedryf perfek geïllustreer nog voordat ’n ekonoom ’n PowerPoint-skyfie met koue statistieke kon wys.

Soos Toyota se grootbase later opgemerk het, was die staking grootliks die gevolg van enkeles se eng politieke bymotiewe.

Maar is dit nie die nie-amptelike volkslied van die land nie?

Suid-Afrika bevind hom in ’n unieke posisie op die kontinent. Emansipasie van koloniale heersers het al dekades gelede in die verre noorde plaasgevind – streke waar daar ’n kleiner koloniale inslag was.

Hier aan die suidpunt was daar egter bykans 300 jaar se bedryf van die vryemarkstelsel wat tot ’n sterk vestiging van kapitalisme en ekonomiese ruggraat gelei het.

Om dit in vandag se intergekonnekteerde wêreld oorboord te probeer gooi ten gunste van Marxistiese idees van ’n eeu gelede, en te hoop jy kan daarmee wegkom, is naïef.

Om dit in vandag se intergekonnekteerde wêreld oorboord te probeer gooi ten gunste van Marxistiese idees van ’n eeu gelede, en te hoop jy kan daarmee wegkom, is naïef.

In Wolfsburg, Stuttgart en Tokio sit direksies en hou dinge fyn dop. Dit is groot, strategiese beleggings wat beskerm moet word. Lande is nie meer eilande nie. Suid-Afrika se ekonomie vorm deel van ’n groter geheel sodat ’n plaaslike Hugo Chávez met sy rooi baret nie sommer sy ouwêreldse truuks hier sal kan toepas nie.

Dit bied ’n mate van ’n veiligheidsnet. Dinge kan wel lelik en vinnig ontspoor as ons nie waaksaam is nie, soos die ekonome by Kyalami duidelik geskets het.

Oor drie eeue heen is die vryemarkstelsel hier gevestig en kon dit gedy, maar die voordele is kunsmatig tot ’n klein groep beperk.

Vandag is daar onder die meerderheid min ooghare vir dié stelsel. Dis te verstane.

Maar dit het ook ’n te klein middelklas geskep, en hiervoor moet ons vir die ooms van die verlede kwaad wees. ’n Groter middelklas beteken meer Polo’s, Sparks en Kwids wat verkoop moet word om mense van huis na kantoor te neem.

Ter illustrasie: Australië het die helfte van ons bevolking, maar verkoop drie keer meer voertuie. Dis wat ’n groter middelklas beteken – ’n middelklas wat glo in die vryemarkstelsel, en die vrugte daarvan pluk.

Vergelyk dit met die diepe afkeer van die private sektor wat daar tot op kabinetsvlak heers as jy na uitsprake oor Eskom en die SAL luister. Die wortels is histories.

Gelukkig is dinge vloeibaar, en dis ’n seën.

Onder Thabo Mbeki en Trevor Manuel het die land ’n ekonomiese beleid gehandhaaf wat die groeikoers in sesde rat laat draf het.

Op sy hoogtepunt in 2006, kort voor die finansiële krisis van 2008, het ons 714 000 voertuie verkoop. Verlede jaar was dit 25% laer.

Maar die deursyfer-effek was te stadig, en die gevolg was die politieke uitskietstoel vir Mbeki en Manuel.

Een ligpunt? Ja, die interkonnektiwiteit van die moderne wêreld. Maar dan sal ons ook self ons kant moet bring.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motorbedryf  |  Padlangs  |  Ekonome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.