Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
PADLANGS: Tyd vir taai besluite is hier

Die president se huiwerigheid om sy eie Rubicon oor te steek verlede week tydens die voorlegging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk gaan ’n direkte impak op jou, die motoris, hê.

Eerstens is daar wat ek noem die hardeware. Die fisieke produk: Verwag ál meer voertuie ingevoer vanuit Indië pleks van ons tradisionele bron, Europa.

’n Verswakkende rand gaan omgewingsvriendelike voertuie ál verder buite die bereik van die gewone Suid-Afrikaner plaas.

As jy dit nog nie self bemerk het nie, gaan sit in ’n Honda Civic, en dan in ’n Honda Ballade. Doen dieselfde met ’n Renault Clio en ’n Kwid. Of ’n Hyundai Tucson en ’n Atos.

Die een voertuig word in ’n Westerse fabriek gebou, die ander in Indië. Hul ontwerp, afwerking en gehalte is merkbaar verskillend. Die rede? Nie omdat ’n Indiese fabriek minderwaardig is teenoor sy Europese of Japanse eweknie nie. Bloot omdat die eindgebruiker, vir wie dit ontwerp word, ’n ander persoon is.

Dit is klassisties, maar die Westerse voertuig word op ­­hoër standaarde gebou en uitgerus omdat hy aan ’n Westerling verkoop word. En hier beteken Westers enigiets van Amerikaner en Europeër tot Japannees.

Suid-Afrika het in die verlede ook in hierdie groep geval. Ons het “Westerse” voertuie gekry. Maar vorentoe gaan dit ál minder gebeur. Trouens, dit gaan eersdaags die uitsondering wees, as ons ekonomiese trajek – weens tweespalt in die regering – gaan aankarring op die trant wat dit nou doen.

Sommige grootbase by ons Suid-Afrikaanse vervaardigers is flink met die voete. Hulle sien die gevaartekens, en pas hul sakestrategie aan. Hyundai bring ál meer van sy Indies-vervaardigde produkte na Suid-Afrika as wat hy sy “Westerse” produkte na ons bring.

Die eufemisme hiervoor is afskaling. Maar net soos met beurtkrag is dit bloot ’n sagter stel van die harde werklikheid: Ons, die verbruiker, kan nie meer die Westerse produkte bekostig nie. Ons rand is te swak.

Hier is dus wat jy vorentoe kan verwag (die “nuwe normaal”, om nog ’n gonswoord te gebruik). Daar gaan ál minder van die tradisionele voertuie op die pad wees waaraan ons gewoond geraak het, ten gunste van “Derdewêreld-voertuie”.

Renault bring nie meer sy Europese Kadjar na die land nie, maar eerder die Koleos. Volkswagen los sy pragtige Arteon in Europa agter, en voer eerder die T-Cross in. Hyundai byt nog vas met die Tucson, maar die Indiese Creta (en eersdaags nog ’n kleiner sportnuts uit Indië) is sy brood en botter.

Dit is modelle wat jy nie noodwendig in Frankryk of Kanada op die pad sal sien nie. Trouens, Renault bemark sy Duster onder sy Dacia-handelsmerk in Europa, om nie sy Renault-naam te verwater nie.

Volkswagen doen dieselfde in Europa met sy Skoda-handelsmerk, en Nissan met Datsun (waarvan jy ook ál meer gaan sien, afkomstig uit Indië).

Jou voertuie gaan ook minder toerusting hê. Minder veiligheidsitems, minder luukses, en minder klankdigting. Klaus en Dieter se 10 000 km toetsrondtes op die Nürburgring om die vering perfek te kry, is nie die Kwid beskore nie. Die Kwid word gebou met bekostigbaarheid in gedagte. Nie purisme nie.

Dit dan die hardeware. Maar die president se huiwerigheid om die vakbonde en teenstanders in sy party tromp-op te loop, gaan jou ook indirek raak.

Die nie-toepassing van kapitalistiese maatreëls (privatisering van staatsentiteite, bevriesing van salarisse, verkleining van die staatsdiens, erkenning van privaateiendomsreg en die deregulering van die private sektor) het reeds die rand laat verswak.

Onthou, skaars sewe jaar gelede was die rand R11 per euro.

Hier’s die “Nuus om Agt” vir die politici: Die motorbedryf – en dus ons lewens – is ’n kapitalistiese stelsel. Om suksesvol binne dit te werk het jy ’n kapitalistiese klimaat nodig. Om kop in die sand te sit en dit te ignoreer, skep net al meer probleme vorentoe. Die armstes die meeste.

Meer oor:  Motors  |  Padlangs  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.