Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Vergeet nou sosialistiese planne

Dit is moeilik om sin te maak wat die strategie van die regering was om September se voorsiende brandstofprysverhogings met ’n geraamde R400 miljoen te subsidieer.

Die rand was toe reeds besig om veld te verloor, en as die siening was dat ’n eenmalige ingryping genoeg tyd sou wen tot alles weer genormaliseer het, was dit ’n naïewe beskouing.

’n Swakker wisselkoers – ’n straf vir swak beleid – is een van die groot redes waarom jy meer vir brandstof moet opdok.

Die verswakking van die rand is voor die deur van die regering se eie onbeholpe beleid te lê. Grandiose sosialistiese drome – waarvan die kontinent besaai met voorbeelde is – soos ’n nasionale gesondheidsversekeringsplan, gratis onderwys, en die afvat van private eiendom, het reeds die geldeenheid laat verswak.

’n Haastige subsidie in September gaan allermins meer as net ’n vierwekepleister wees.

Alreeds begin huishoudings minder rondry. Hier onder in die Kaap sien ’n mens dit reeds: spitsverkeer het afgeneem.

Maar anekdoties gebeur dieselfde in Gauteng ook. Duurder brandstofpryse raak die pendelaar se sak regstreeks.

Mense raak kieskeuriger oor waarop hulle hul geld uitgee. Diskresionêre items, soos uiteet, tydskrifte en betaal-TV, word nou in heroorweging geneem.

Maar duurder brandstof raak ons ook ’n tweede keer. Al ons kos en gewone verbruikersitems word per pad vervoer. Jou mandjie kruideniersware raak skielik duurder. Jy hoes dus wanneer jy jou motor moet volmaak, maar nog ’n slag wanneer jy by die winkel instap.

En laastens, ’n derde aspek waarop ’n verswakkende wisselkoers ons direk raak, is wanneer ons ’n nuwe voertuig aankoop. Die meeste voertuie word ingevoer. Die plaaslike verspreider betaal dus in jen, euro en dollar daarvoor. As jou wisselkoers nou verswak, skiet jou aankoopprys outomaties die hoogte in.

Daar kan inderdaad ’n saak uitgemaak word dat ons bekostigbaarheidsvlakke hopeloos swakker is as vir ’n ekwivalente persoon oorsee.

Maar hier wil ek ook net ’n anekdotiese waarneming inglip. Uit die aard van my werk vlieg ek gereeld. Die duurder brandstofpryse en swakker besteebaarheidsvlakke van die publiek raak ons lugrederye ook.

Jy sien dit in die Boeings se binneruime wat oud en afgeleef voorkom. Wanneer instandhouding en opknapping agterweë raak, is dit ’n eerste teken van kontant wat min is.

Maar genoeg eers van hierdie bedruktheid. Daar is wel goeie nuus, en dit kom in die gedaante van konkrete oplossings wat om die draai lê en wag.

Die regering moet vertroue in die ekonomie aanwakker, sodat beleggings kan vermeerder en die ekonomie gestimuleer word. Vertroue kry jy deur van jou sosialistiese planne afstand te doen, en ’n sterker markekonomie na te streef.

Minder regeringsinmenging, dus, en groter vryheid vir sakeondernemings om te doen wat hulle die beste doen, en dit is om wins na te jaag en uit te brei. Om sodoende meer taks te betaal en mense in diens te neem.

Knap die staatsentiteite op, en privatiseer waar moontlik. Moet ons werklik ’n eie nasionale lugredery hê?

Ons het op die regte koers begin deur die onnodige kernkragplan met sy verdagte Russiese verbintenisse by die kantlyn uit te skop. Maar toe teken ons ’n
eiedoel aan met ’n vreemde najaag van lukrake onteiening sonder vergoeding.

Die miljarde wat vir die sosialistiese drome van gratis onderwys en ’n nasionale gesondheidsversekeringsplan beoog word, sou ook beter vir infrastruktuur benut kon word.

Knap die staatsentiteite op, en privatiseer waar moontlik. Moet ons werklik ’n eie nasionale lugredery hê? En hoe lank kan die trajek van maatskaplike toelaes (vir elke belastingbetaler is daar vier ontvangers) volgehou word?

Herskik die begroting. Teen die huidige tempo van uitgawes wat inkomste oorskry, raak ons al hoe dieper in die skuld.

Die regering se twee grootste uitgawes is juis skulddelging en eie uitgawes (salarisse, reddingspakkette en toelaes).

Fyn voetwerk lê voor. Ek en jy, wat elke oggend in ons motor klim om deel van die ekonomie te wees, voel dit aan die bas. Die antwoorde lê voor die regering se neus. Maar is hulle dapper genoeg om dit aan te gryp?

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.