Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Verlore kuns van band omruil

Daar is seker min dinge wat so ’n groot gelykmaker van mense is as om met ’n pap wiel langs die pad te sit. In die somervakansie. Reeds laat vir vanaand se braai.

Prieska Busdienste – toe die kombi nog die fluksste bus op die dorp was. Foto: Marnus Hattingh

Die kamerverlaat is ’n gelykmaker. Om die direksietafel kan iemand nog grootman wees, maar in die badkamer staan Baas en Klaas knus langs mekaar.

Net so sal verkeersligte sake gelyk uitstryk. Kyk maar na die haastiges op die pad. Hy beur hier in ’n gaping. Skouer daar ’n Tazz met sy bakkie uit die pad. Net om voor by die volgende rooi verkeerslig te moet wag, saam met die res van ons, vir die groen lig om te verskyn.

Die gelykmakers in die lewe, wat ons nederig hou as jou spieël ’n voortreflike prentjie vir jou terugkaats.

Ek het pas met die bergpaadjie afgestoom gekom, in die kusdorp in, toe ’n voertuig verbyry met sy toeter wat hard blaas. Die bestuurder beduie fluks met die hande, oop en toe, en dan af na die grond.

Tot vandag weet ek nie hoe ’n mens daardie bewegings interpreteer as “jy het ’n pap wiel” nie. Maar tien treë verder, by die supermark, sien jy die kombi lê so moedeloos na links. Die agterwiel is pap.

Dadelik tel jy jou seëninge op die een hand, en vloekgedagtes op die ander. Coke, tjips en tjok­lits is gerieflik byderhand sou jy die aand hier moet deurbring. Maar waarom nóú pap word? Jy’s reeds laat, en dis Saterdagaand.

’n Mens sien nie meer mense vandag ’n wiel langs die pad omruil nie. Kleintyd, as ons die langpad van die Kaap na die Transvaal gepak het, was ’n motor met ’n oop enjinkap ’n algemene gesig. Ook ’n omie wat onder die voertuig ingekruip lê, sy wit bene by sy kortbroek wat soos ’n vurk se tande uitsteek.

Mense het gewoel aan die enjin, die water opgevul of bande omgeruil. Langs die hoofpad, sonder om te blik of bloos. Nou het ons 0800-nommers om tolvry te bel. Of ’n kort selfoondiens. ’n Direkte warm lyn, soos ’n rooi telefoon tussen Washington en Moskou, om jou enjin se nuk aan ’n helpende stem te verduidelik.

My geleende kombi het straks ook so ’n direkte lyn na ’n dame in Johannesburg gehad. Maar hoe moeilik kan dit tog wees om ’n band om te ruil?

Op ’n Saterdagaand by ’n supermark is daar altyd die hoopvolles. Daar eenkant, gehurk teen die muur onder die kitsbank se kenteken. Of, as hy nog nie te veel naweek gesluk het nie, drentelend by die geparkeerde motors. Flink om te help met ’n “Komma, komma! Whô-ô-ô!”

My lanie het ’n pap wiel? My lanie moet hom omruil. Ek kan vir my lanie help.

My pap wiel was ’n Lotto-kaartjie met die regte nommer, fladderend daar bo in die lug.

Een kom sit so drie treë van die kombi af. Hy besluit op die omsingel-taktiek van toenadering.

“My lanie het ’n pap wiel? My lanie moet hom omruil. Ek kan vir my lanie help.” My oë gaan van my stofbesmeerde hande na sy stowwerige hare. Sy een oog soek na Spoetnik regs bo, die ander hou die spaarwiel fyn dop. Hy moet nog opgesit word. En die pap een losgedraai word.

Om die moere los te kry, is nie maklik nie. Fritz in Wolfsburg het elkeen so styf gedraai selfs Houdini sou versigtig wees.

Uit die halfmaan toeskouers bied ’n nuwe stem sy hulp aan. Hy lyk soos ’n branderplankryer sonder ’n plank, maar baie ervarings. Ek gaan sit langs Stofkuif op die sypaadjie en soek saam na Spoetnik.

Die moere het toe losgekom. Die deftige wiel af en die vaal noodwiel soos ’n trofee teen die muur in sy plek gehang. Die kombi kon weer vleisbraai toe.

Aan Stofkuif en Surfer Boy, dankie vir die wiel en die halwe bottel drank wat ek kon inasem. Dis meer as wat ’n 0800-nommer sou kon bied.

En ja, ek’s seker ons twee het vir Spoetnik toe gevind, daar platgat op die sypaadjie. Want daardie fyn flikker was ver en mooi, en altyd buite bereik.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.