Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Versigtig met jul plan, metro’s

As jy by Marseille se lughawe uitstap, mik jy slap links na die groot bushalte, so ’n honderd treë verder. Behalwe vir ’n peperduur taxi, of iemand wat jou kom oplaai het, is daar geen ander keuse as om by die middestad – 34 km ver – uit te kom nie.

Dit voel kompleet soos Kaapstad. Of Durban, vir wat dit werd is. Behalwe vir O.R. Tambo wat deesdae per spoor met die middestad van Pretoria en van Johannesburg verbind is, is ons Suid-Afrikaanse groot stede die laaste dinosourusse op die wêreldspektrum wat ’n gebrek aan goeie infrastruktuur betref.

Verdigting, Europese styl. Ons stadsvaders wil graag uitbreiding van woonbuurte stopsit, maar in Europa lyk dit nie te aantreklik nie.

Ons stede is nie vanaf hul lughawens met moderne, gemaklike openbare vervoer bereikbaar nie. Dis eintlik ’n skande.

Marseille se lughawe is weliswaar ook nie per trein verbind met sy middestad nie.

Maar eintlik is dié Mediterreense hawestad ook maar net ’n streeklughawe vir die Franse, wat al hul formele lugvervoer deur Parys wil beheer.

Die punt is, net soos met Marseille verg ons ander groot lughawens, Durban en Kaapstad, elkeen ’n lang rit per bus om eindelik by die stad uit te kom waar jou hotel en konferensiegeriewe is.

Op ’n onlangse gesinstoer het ek vir die familie gesê “Kyk daar,” toe ons die buitewyke van Marseille binnery.

Die stad was omgord deur blokke en blokke woonstelle. Almal roomkleurig bleek, almal regop soos vuurhoutjiedosies wat op die kop staan.

Dis mistroostig, ja, maar ook prakties. Die Europese stad is kompak, want rondom die sakekern is daar ’n breë strook van woonstelgeboue. Dit is waar die middelklas woon. Onderwysers, winkeleienaars, almal mense met een Fiat Panda of Renault Clio wat voor in die straat geparkeer staan, en Saterdag gaan hy sokkerstadion toe om sy klub te ondersteun.

Ry jy van ons lughawens af stad toe, sien jy nie woonstelblokke nie. Dit is werklik skaars in ons land. Jy sien dit in Kusweg – in Durban, Seepunt, die Baai of die Strand. Maar verder ken ons nie rêrig woonstelblokke nie. Nie soos wat die Euro­peërs het nie, en nie sulke trosse nie.

Grond vir uitbreiding was nooit ’n probleem in ons stede nie. Ons woonbuurte kon net bly uitbrei, en elke dan en wan is ’n nuwe skool bygevoeg, gevolg deur ’n winkelsentrum.

By gebrek aan massiewe buurte bestaande uit woonstelblokke, wat die beste antwoord op verdigting naby die stadskern is, sal ons stadsvaders óf so iets moet afdwing (daar is reeds sulke voorstelle vir die oplos van Kaapstad se krotbuurte).

Vandag sit ons egter met ’n probleem. Die bevolking het toegeneem, en openbare vervoer het agterweë gebly. Om dus vanaf jou voorstad kilometers ver by die middestad uit te kom, is ’n uur se rit op ’n snelweg, met al die verkeer wat botstil staan.

Een kitsoplossing is om ’n ekstra baan by elke hoofweg te voeg, sodat meer verkeer gedra kan word. Maar dit is slegs vir kort termyn. ’n Langtermynoplossing, besef stadsbeplanners, is om ’n perk op uitbreiding te plaas en eerder verdigting aan te moedig.

Verdigting is inderdaad die nuwe gonswoord by ons metro’s, al wil die ryk middelklas steeds eerder bo teen die bult bly waar die uitsig is – en die gepeupel buite hoor en sig is.

Verwag dus vorentoe al hoe meer ontwikkelings waar daar pleks van slegs ’n behuisingskomponent (die tradisionele beveiligde buurt met een sekuriteitsingang) ook ’n sakedeel binne die ontwikkeling is.

’n Goeie voorbeeld is Kaapstad se Century City, waar woonstelle langs winkelsentrums en kantoorgeboue staan. Sulke mini-nodusse het die potensiaal om die las van paaie te verminder, en verlore ure weens lang pendeltye af te skaal. Dit bly egter ’n kunsmatige oplossing, en ’n groot aanname is dat almal wat daar woon, ook daar werk – wat nie noodwendig die geval sal wees nie.

By gebrek aan massiewe buurte bestaande uit woonstelblokke, wat die beste antwoord op verdigting naby die stadskern is, sal ons stadsvaders óf so iets moet afdwing (daar is reeds sulke voorstelle vir die oplos van Kaapstad se krotbuurte).

Óf openbare vervoer sal konstant uitgebrei moet word, om met die groeiende voorstede se pendelbehoeftes tred te hou.

Tans gebeur geeneen van die twee nie.

Meer oor:  Century City  |  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Infrastruktuur  |  Openbare Vervoer  |  Padlangs  |  Rubriek  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.