Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Wat van stil e-busse vir SA?

As ons owerhede flink van gedagte was, sou hulle al die metro’s se staatsgesubsidieerde busdienste met e-busse vervang het.

Dink maar net aan die bemarkingspotensiaal wat so ’n skuif sou bied. Daar is die ekologiese boodskap, enersyds, maar elektriese busse wat feitlik geluidloos deur ons middestede suis dui ook op ’n stad wat omgee vir sy inwoners se algemene welstand.

Mercedes se nuwe e-metrobusse is tegelyk stylvol en modern. Waarom kan ons stede nie met sulke busse gediens word nie?

Dis die jongste neiging. Mense word aangespoor om om te gee: vir jouself, jou medemens en die natuur. Om ’n vloot raserige dieselbusse met e-voertuie te vervang, gaan nie net die omgewing ter wille wees nie. Jy gaan ook ’n kalmer, stiller stadskern hê.

In die Kaap het die metrobusdiens redelike aftrek gekry. Straks minder so in ons ander metro’s. Maar slim, eksklusiewe roetes en gereelde dienste het gou gemaak dat heelwat inwoners van een-persoon-per-motor na ’n flinke metrobus vir hul daaglikse pendel oorgeskakel het.

’n Mens kry die gevoel ons owerhede bly so twee treë agter die wêreldtendense. In Amerika en Europa is gedeelde voertuie alreeds gevestigde konsepte in hul groot stede. Die motors wat jy oor hul stede heen by toegewysde parkeerplekke kan optel, is boonop e-voertuie. Stil, skoon en kompak. Perfek vir daardie inkopietog na die besige hoofstraat.

Gebruikers registreer op ’n webwerf, en kry dan met ’n app toegang tot die stad se deelmotorvloot. Koste word tipies per kilometer bereken.

Hierdie soort dienste is straks ’n tweede stap aan, maar as eerste stap kan ons stadsvaders gerus e-busse oorweeg. Wek groen krag op met sonpaneel- en windturbineplase, of benut die metaangas by die stad se verskeie munisipale vullishope om elektrisiteit te help opwek.

Die eThekwini-metro in Durban het reeds so ’n projek aan die gang, en BMW as ’n gewone maatskappy doen dieselfde in Gauteng. Hierdie weliswaar klein bronne kan dan eksklusief vir die metrobusse gereserveer word om hul batterye te herlaai.

Buiten dat dit ’n goeie ding is om te doen, help dit ook om die voorbeeld te stel en mense aan e-mobiliteit gewoond te maak.

Herlaaipunte bly ’n probleem, maar vir ’n metrobusdiens het jy eintlik net een herlaaipunt nodig – by die depot. Soos wat die busse van ’n roete af terugkeer, kan dit met ’n nuut volgelaaide bus geruil word.

Nog een stap verder op die wenslys sou sentrale hulpfinansiering wees deur middel van die groen taks wat deur die nasionale regering geïn word. Tans beloop hierdie belasting ’n paar miljard rand per jaar, maar soos met talle ander gefokusde belastings verdwyn die inkomste ondanks die mooi beloftes bloot in die algemene staatskas, van waar dit vir enigiets van staatsalarisse tot oorsese vlugte gebruik word.

Dan gee ek en jy nie om om ’n obskure belasting te betaal nie.

As ons hierdie groen taks kon omhein en eksklusief vir groen projekte inspan, soos om die metro’s se e-busdiens te finansier, is dit tog ’n gefokusde aanwending van geld vir daardie doel waarvoor dit ten eerste ingestel is.

Dan gee ek en jy nie om om ’n obskure belasting te betaal nie.

’n Mens verwag nie dat so ’n plan binnekort gaan realiseer nie. Die staat het ander drome van gratis tersiêre studie en gesondheidsdienste. Dit is iets waarmee hy regstreeks in sy kiesers se behoeftes kan voldoen. Hierteenoor is ekovriendelike busse in die middestede ’n rykmansprobleem.

Maar klimaatsverandering vra nie vrae oor woonbuurt of welstand nie. En almal benut openbare vervoer. Plus, as jy ’n belasting instel onder die hofie “groen taks”, kan jy dit netsowel vir daardie oogmerk inspan. Dis tog wat jy met die insamelslag gesê het, dan nie?

Dalk gebeur dit nog eendag. Dit verg net ’n paar amptenare wat op hul voete dink.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.