Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Wend groen taks sinvol aan

Skink die glas vol, ja, maar plak ook die dokter se blitslyn onder die voetstuk as jy vanaand wegsink voor die huisaltaar. Want wanneer die president sy langverwagte staatsrede lewer, gaan Motorlandskap Suid-Afrika gretig wag . . . en wag . . . en nog ’n jaar wag.

Waarom word ons uitlaattaks nie afgekamp en vir die oprigting van herlaaipunte vir e-voertuie ingespan nie?

Moet dit nie deesdae eerder wees wat die prez nié gaan sê nie? Want dit is die skaakmat-verhouding waarin die land hom reeds die afgelope dekade bevind. Dit wat in die staatsrede gesê word, krap die markte om. Dit wat gesystap word, maak die bedryf gefrustreerd.

Kennelik is dit moeiliker as wat ons gewone en slimmer mense vermoed om ’n eens florerende ekonomie gemaklik op sy spoor te laat voortstoom. Dalende motorverkope weerspieël die massiewe inkrimping van die ekonomie. Werkloosheid styg. Niemand wil beleggings maak of uitbreidings aangaan nie. En tussen dit hou banke en buitelandse beleggers hul geld stywer vas, want, jy weet, Venezuela en Zimbabwe . . .

Die kopsere is wydlopend, maar kom ons raak net ’n paar aan om die ineengeskakelde aard van beleid en die impak daarvan uit te wys. Ons staatskuld is hoog, wat lastig vir beleggers is. Dan sê ’n politikus kwantitatiewe verruiming is bes moontlik die oplossing – kom ons druk geld. Dis nog lastiger, en laat die rand verswak.

Oor ’n maand gaan jou brandstofprys die hoogte inskiet weens dié verswakking in die wisselkoers (vergeet die huidige verbetering, dis gegrond op vroeëre syfers). Met ’n hoër petrolprys gaan vervoerkoste styg, wat nie net jou maandelikse pendelkoste duurder maak nie, dit raak ook kospryse.

Dit is ’n interafhanklikheid wat suksesvolle lande snap. Hulle formuleer beleid en maak uitsprake wat hul ekonomie laat groei en hul geldeenheid stabiel hou.

Benewens vervoerkoste se direkte en indirekte impak op jou sak, het die motorlandskap ook elders ’n sagte teiken vir owerhede geword. ’n Swakker ekonomie beteken laer belastinginkomste vir die staat. Die staat kan sy projekte afskaal (polities ongewild), of hy kan die verbruiker (maatskappye en individue) harder druk vir meer geld: Polities ’n makliker stap, want ’n raps vir die kapitaliste is soos ’n geelkaart teen die besoekende span.

Dit kry egter ’n siniese klankie as daar geen afkamping van hierdie geld is wat vir doelgeskepte omgewingsprojekte ingespan word nie.

’n Groen taks – op uitlaatgasse, byvoorbeeld – is een manier waarop die staat sy hande vinnig en maklik op ’n paar miljard kan lê. Boonop geskied dit onder die waan van ’n edele oorweging: Die beskerming van die omgewing. Heffings op die petrolprys sing dieselfde deuntjie.

Dit kry egter ’n siniese klankie as daar geen afkamping van hierdie geld is wat vir doelgeskepte omgewingsprojekte ingespan word nie.

Trouens, die staat sleep sy voete om ons raffinaderye op te knap sodat skoner brandstof vervaardig kan word. Brandstof wat terloops in moderne enjins benut word wat skoner uitlate lewer.

Marnus Hattingh

As jy werklik ernstig is oor ’n skoon omgewing, waarom nie daardie uitlaatgas- en brandstofheffings gebruik om skoner brandstof te vervaardig wat tot skoner uitlaatgasse gaan lei nie?

Of om e-voertuie te subsidieer en so hul benutting in die land ’n hupstoot te gee? Help kragpunte by winkelsentrums, kantore en hoofpaaie oprig waar e-voertuie in ’n kits herlaai kan word.

Dit is progressief, omgewingsvriendelik en prakties. En dra nie die juk van ’n siniese belasting nie.

Ek dink menige motoris wil graag ’n positiewe bydrae tot die land lewer. Grandiose sosialistiese beleid soos massiewe staatsentiteite wat minder vir hul oogmerke en meer vir werkskepping ingespan word, is uitgedien. Net so gratis onderwys en gesondheid.

Maatskaplike toelaes is ’n puik vangnet en ’n lewensaar vir menige, maar teen ’n koers van vier afhanklikes per belastingbetaler is dit helaas nie volhoubaar nie.

Daar is potensiaal binne die landsgrense. Daar is lesse te leer buite die grense.

Mag ons hoop vanaand? Ek skink ’n dubbel.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.