Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Wyntoer bring ’n soort nostalgie
Lang stories sal deur ’n ou trekker vertel kan word. Foto: Verskaf

Elke dan en wan saal ek die ryperd op en gaan doen ’n wyntoer.

Ja, dit is makliker om met jou winkeltrollie tussen die konfyt en die hondekos gou ’n bottel rooi in gang 7 te gaan gryp. Maar daar is iets van ’n avontuur daarin om jou reg te maak, die motor te pak en die pad te vat wynplase toe.

Die wingerde is tog mooi, en dis asof die duiwe met ’n voller bors koer wanneer jy skuins voor teetyd onder hul akkers deurskuiwe kelder toe.

’n Wyntoer. Dit is deel van ons kultuur. Die binnelanders het die ding ’n skuins klank gegee. Maar ek geniet dit om in ’n groot koel proelokaal in te stap en by die donker houttoonbank deur die lysie te blaai en vier of vyf wyne vir ’n mondrol te kies.

Dit is veel persoonliker. Vir R50 of wat kan jy maande se somersweet in ’n slanke bottel aanskaf. Dit is ’n volronde ervaring wat hier op ons voorstoep is. Dit is soos kaalvoet in die ­reën rugby speel wanneer jy ’n kannetjie is. Ons Kapenaars het hiermee grootgeword. Moet die bottel Kaapse erfenis tog nie reduseer tot net nog ’n produk langs die mayonnaise en handdoekrolle in jou mandjie nie.

’n Ruk gelede kies ek koers Paarl toe. Daar is ’n paar plase waarby ek nog nie was nie. Helaas, my tydsberekening is sleg. Dit is die betrokke naweek ook die dorp se Ommiberg-fees.

Wat die raison d’être van die fees was, wis ek nie. Maar ek vermoed deur die jare het die studente dit in ’n ander rigting gestuur. Daar word nou behoorlik gekuier, al om die berg.

Waar jy van die grootpad afdraai, is ’n groot plaaslike kelder. ’n Markiestent staan buite. Daar is rye en rye bakkies geparkeer. Mense maal. Jong mense. Die DJ en sy luidsprekers het al maats geraak, en die decks word warm ge-spin. Algar is vrolik.

Ek glip verby na die volgende plaas. Ook hier is ’n stem oor ’n luidspreker, maar onder die wit bedoeïenetent staan die hooibale leeg. ’n Swart woonwa is teen die een kant geparkeer. Dit is waar die stemme vandaan kom. Dit is ’n plaaslike radiostasie se mobiele uitsaai-eenheid. “Die Bok Trok” help groot geel letters jou reg as jy twyfel.

Ek stap verby na die opstal, waar jy ’n glas of twee kan gaan proe. Die rooiwyn is bleek en lig in die broek, maar jy glimlag beleefd vir die kêreltjie wat skink.

Langs my is beweging. ’n Hemp met stywe knope oor ’n boepens beur langs my arm verby, proetafeltjie toe. Dis ’n snaar met ’n vies uitdrukking. Hy plak sy glas op die wit tafeldoek neer. “Nee, jis, Boet, hierdie wyn van julle is flou.”

“Nee, kwits, Oom, dis uitvoerwyn vir Japan hierdie,” verduidelik die outjie. “Dis hulle wat maar van sulke ligte wyn hou.”

Ek stap om die opstal na ’n skuur, daar oorkant. Op die stoep staan ’n versameling ou trekkers. Dit lyk interessant.

Binne die skuur is ’n nuwe wêreld. Jou oë moet eers gewoond raak aan die dowwer lig. Maar dan sien jy die rye en rye voertuie. Versamelings ou trekkers. Ou vragmotors. Handelsmerke wat ’n mens nie meer sien of ken nie. Metaalwiele pleks van rubber. Twee klein wiele voor, styf teen mekaar.

Daar is nommerplate teen ’n muur, ou implemente hang van die dak, en in ’n hoek is ou meubels. Regs is ’n treinversameling. Glase en porseleingoed van treine. Heraldiese wapens en slingers en koperkatrolle. Boeke en plate.

Iemand vra die eienaar om ’n trekker van die 1920’s aan die gang te kry. Blou petrol word bo ingetap, en dan moet die slinger by die neus geswaai word.

“Draai hom, Boeta, draai hom!” sê die oom en sy seun laat waai. Ke-paf! maak die enjin en blou rookdampe staan bo die trekker uit. Die seun draai. Ke-tjing ke-tjing ke-tjing paf! maak die enjin weer, en dan loop hy. Soos ’n fietspomp met ’n suisgeluid wanneer hy kompressie maak, bewe hy daar voor ons, ’n amper 100 jaar oue deuntjie.

Iemand vra waar die ou trekker vandaan kom. “Dit was ’n oubaas se erflating,” antwoord die man. “Die kinders het dit laat gaan.” Hy vee sy gesig. “Alles net so laat gaan.”

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.