Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Pajero Sport ’n slim alternatief

Terwyl die Toyota Fortuner die kitaar slaan wanneer dit by hardebaard-sportnutse se gewildheid kom, hoef Mitsubishi se Pajero Sport vir niks en niemand terug te staan nie.

Die Pajero Sport is heeltemal te veel misken op die plaaslike motorfront. Sou hy ’n Toyota-kenteken op die neus gehad het, sou Suid-Afrikaners hom by die honderde elke maand opgeraap het.

Mitsubishi se sewesitplekker ry op die Triton se onderstel, maar bied wel kronkelvere agter pleks van die bakkie se bladvere. Die bakwerk is straks nie die beste poging nog uit Japan se ontwerpstal nie. Maar vroeg vanjaar het Mitsubishi hom wel ’n opknapping gegee wat sake veral voorlangs merkbaar verbeter het.

Net soos ander sportnutse in die Mitsu-stal kry die Pajero Sport nou ook die forse, vertikale rooster met sy breë chroomstawe en daardie boemerang hoepels (ook in chroom afgewerk – dis ’n Japannese voorliefde) wat om die hoofligte vou.

Binnelangs het Mitsubishi die kajuit ook vernuwe en die standaardlysie vir afwerkings langer gemaak. Al drie die modelle (4x2, 4x4 en die nuwe 4x4 Exceed) kry nou leerbekleedsel, USB-sokke voor en agter, en 12V-sokke.

Die grootste nuus is egter die nuwe instrumentpaneel met sy digitale inligtingskerm in die middel, en die digitale wysers reg voor die bestuurder.

Straks nie die mooiste voorkoms in die hardebaard-sportnuts-segment nie, maar wat rygerief en vermoëns betref kan die opgeknapte Pajero Sport met enigeen saamgesels. Foto: Marnus Hattingh

Dié was voorheen als analoog, terwyl die sentrale skerm nou heelwat groter en praktieser is.

Dis ’n groot verbetering op die ou, klein skermpie wat die Pajero gehad het. Waar jy in die verlede met ’n speldekop ’n ikoon op die skerm moes druk om nie ’n ander funksie te aktiveer nie, kan jy nou met ’n duim of handskoen op die gesigskerm vroetel.

Die skerm voor die bestuurder is op sy beurt nogal kleurvol (of bont, as jy krities wil wees). Dit bied wel met een oogopslag al jou ritinligting soos gemiddelde en onmiddellike verbruik, en ’n nuttige “Eco”-meter (dit help dat jy met ’n ligte voet op die pedaal ry).

Die 4x4-modelle het ’n sentrale beheerknop waarmee jy tussen agterwiel- en vierwielvastrap kan wissel. Daar is ook ’n laestrekratkas, sou jy ’n hoë randsteen by die winkels moet bestyg. Die 2.4-liter-turbodiesel (132 kW, 430 Nm) bly onveranderd, gekoppel aan ’n seepgladde agtgang- outomatiese ratkas.

Die Exceed-model bied enkele ekstras, soos die self-oopwip-en-toemaak-luikdeur, maar wat myns insiens nie die ekstra rande werd is nie.

Kortliks, die Pajero Sport bied steeds ’n puik waarde- vir-geld-pakket. Die kajuit is op standaard met wat die mededingers het, en die 2.4-liter sorg ook vir goeie sleepkrag. As jy jou nie teen ’n handelsmerk blindstaar nie, bied hy ’n slim alternatief.

Prys: Mitsubishi Pajero Sport Exceed – R689 995.

Meer oor:  Motors  |  Pajero Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.