Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Pantser-bielies vir almal

’n Oranje vlam blaas vir ’n oomblik by die loop uit.

Die AK-47 se loop klim ’n handbreedte en in jou ore talm die metaalklapgeluid waar die koeël hom in ’n motorvenster te pletter geloop het. Die venster wys ’n wit spinnerak van splinters om die rand en ’n krummel-wolk in die kern.

Maar als is nog heel.

Aan die venster se binnekant, waar die kajuit sou wees, is die glasoppervlak spieëlglad.

Jou vinger gly daaroor heen.

Landelike beveiliging is ’n groot bron van kommer. Beskerm jouself en jou gesin met ’n gepantserde voertuig, wat soos die fabrieksmodel lyk, maar die soort beskerming bied wat ’n boeregesin nodig kry.

Dis nie aldag dat ons met ’n AK-47 by ’n bekendstelling kan losbrand nie. Maar om die gehalte van ’n beveiligde voertuig te demonstreer, moet mens maar ’n hap van die koek vat.

En jy stap oortuig daar weg.

Sedert 2004 het ’n klein, plaaslike ingenieursgroep net buite Pretoria ’n naam vir hom gemaak in die onbekende wêreld van pantservoertuie. Die jong stigter, Jaco de Kock, het sy voorliefde vir industriële ontwerp en meganiese ingenieurswese gekombineer en met ’n gepantserde troepedraer vorendag gekom wat ’n moderne ontwerp het en ’n bielie op die slagveld is.

Soveel so dat sy Max3- en Max9-voertuie vandag gesog is in Saoedi-Arabië, Pakistan, die Soedan en waar ook ’n leier effe senuagtig oor die opposisie mag voel.

Met die mooi pantservoertuie het hy sy afloswedloop begin.

Jou voertuig word volledig gestroop, waarna die kevlar-panele en dik vensters geïnstalleer word. Die SVI-groep het patroonpanele vir bykans elke voertuig op die mark en hulle word op die perseel met laser-tegnologie gesny.

Weldra het hy sy sake-eenheid, SVI (Special Vehicle Innovation), uitgebrei om ook versterkte voertuie vir Jan en alleman te kan bied. Basies neem jy jou Fortuner, Hilux of X5 na SVI en jy kry hom terug as ’n voertuig wat ’n koeël kan stuit, maar sonder dat daar enige sigbare verandering aan die bakwerk is nadat die span met die opknapping klaar is.

“Die grootste mark vir dié tipe beveiligde gesinsvoertuie is in Suid-Amerika,” vertel De Kock. “Daar word 20 000 van dié tipe voertuie per jaar daar verkoop. Maar in Suid-Afrika raak die mark al hoe groter.”

Die redes is voor die hand liggend.

Net soos Brasilië het ons ’n groot verskil tussen ryk en arm, wat reg langs mekaar woon. Die rykes word ’n teiken.

In Suid-Afrika straks nog net ’n algemene misdaadteiken, maar in Suid-Amerika is dit geteikende aanvalle.

“Ons is nog nie daar nie,” sê De Kock oor die toestand in Suid-Afrika, “maar mense wil al hoe meer graag veilig voel. Vir hulself, of hul gesin.”

’n Ander groot mark is onder groot maatskappye wat ’n hoofbestuurder by die lughawe moet gaan haal en die maatskappyreëls vereis hy moet in ’n pantservoertuig gekarwei word.

Ek het my bes probeer, maar selfs ’n AK-47 se koeëls wou nie die gepantserde venster deurboor nie.

SVI bou alles op sy perseel aan die westekant van Pretoria.

Heelwat spesialisonderdele word egter ingevoer. Die swak rand jaag die eindelike prys dus op. Die versterkte glas met sy lae plastiek en ander materiale kom van Brasilië. Die versterkte staal kom van Swede en die dikker skarniere wat die swaar deure hangende hou, kom van Duitsland.

Jou voertuig se kajuit word op hul perseel volledig gestroop totdat jy net die metaalvloer en -deure kan sien. Kevlar-panele (R30 000 per meter) kom in die deure, agter jou rug en voor by die enjin. Sekere enjindele word ook beskerm, soos die battery en die blikbrein.

Die kevlar is so 5 mm dik, maar die vensters enigiets van 4 cm tot 6 cm. Daarom kan dit nie altyd oopmaak nie, of net halfpad.

’n “Kokon” word om die kajuit gebou en gesweis. Enige plek waar daar ’n las is, soos waar die venster eindig en die deurpaneel begin, word met ’n oorvoupaneel versterk.

Twee vlakke van beskerming is beskikbaar, en word met die universele B4- en B6-benamings aangedui.

B4 is die vlak wat jou teen handwapens (9 mm) sal beskerm, terwyl die B6-spesifikasie daardie AK-47 se koeëls sal stuit. Dis nou ’n skerppunt­koeël wat teen 2 800 km/h vlieg.

“Die vensters en deure sal die rondte stuit. Maar as die aanvaller sy magasyn leeg skiet op daardie selfde plek, sal die rondte later deurdring,” sê De Kock.

Spesiale paprybande is ook te kry. Waar BMW’s se paprybande ’n dikker sywand het, bied hierdie band ’n versterkte middelman wat die gewig dra. Jy kan 100 km aflê teen 100 km/h.

“Die gedagte met ’n beveiligde voertuig is dus dat dit jou tyd gee: Tyd om klaar te skrik, ’n plan B uit te werk en dan weg te kom.”

Van wegkom gepraat, die versterking voeg natuurlik ’n homp gewig by die voertuig.

Op B4-vlak merk jy dit nie juis nie. Nie met ’n fris bakkie of selfs ’n sportnuts of groot sedan nie. Die merkbaar dikker vensters en swaarder deure van die B6-vlak vra sterker vere en kragtiger remme as waarmee jou voertuig van Stuttgart of Tokio gerol het.

Bestuurderopleiding geskied dan ook, want die voertuig se ekstra ton vereis ’n langer stopafstand en behendiger hantering wanneer jy haastig om ’n es glip.

Beskerming teen handwapens is eers nog die grootste behoefte onder Suid-Afrikaners.

Daardie verdagte kêrel by die verkeerslig is nou nie meer die baas nie. Waarop wil jy dus jou geld uitgee: Leersitplekke of dikker vensters en deure?

Meer oor:  Amerika  |  Misdaad  |  Pantser  |  Suid-Afrika  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.