Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Pasop voor, hier kom Kallie!

As die Isuzu X-Rider eers op dreef is, is daar geen keer aan hom nie - nes ’n OP-speler van ouds, skryf Michael Green.

Die nuwe Isuzu X-Rider. Foto: Willemien Green

Kallie Grobler was ’n groot en sterk vleuel wat in die 1980’s vir die Oostelike Provinsie en Suidoos-Transvaal gespeel het.

Wanneer Kallie die bal gekry het, het hy ’n tydjie geneem om op spoed te kom. Wanneer hy eers op spoed was, was dit byna onmoontlik om hom te keer. Verdedigers het eenvoudig van hom afgespat.

Hy het ouens gestamp dat hulle hik. Dit was voor die dae van die All Black Jonah Lomu. Jy kan maar sê Kallie was die oorspronklike makro-vleuel.

Nou ja, die X-Rider is die Kallie Grobler van Isuzu’s.

Die ding van ’n 4x4 is, jy wil hom graag op die grondpaaie en in die berge kry, maar jy moet eers op ’n gewone stuk teer ry om daar te kom.

Dit was dan ook so dié dag toe ek voet in die hoek sit na ’n vriend se stukkie grond naby Kareedouw.

Die X-Rider het ’n mooi, swart roll-bar waarmee ’n mens net die heeltyd wil spog. Foto: Willemien Green
Kallie Grobler, ’n legendariese vleuel van die Oostelike Provinsie. Foto: Argief

Nou moet ek erken, my gedagtes was by die Springbokke en ek het gewonder waarom kan hulle nie soos die All Blacks wedstryd ná wedstryd rugby van verstommende kwaliteit speel nie. Dis of ons manne partykeer eers ’n paar skoknederlae moet ly en goed sleggesê word voor hulle uithaal en wys. Dit help natuurlik ook nie dat ons byna elke jaar ’n nuwe Springbok-afrigter kry nie.

Terwyl ek so ry, het ek baie sterk begin voel. Dis nie ongewoon as jy in ’n X-Rider ry nie. Dis ’n pragtige dubbelkajuit-bakkie met leersitplekke, ’n dik, swart rolstaaf en ’n swart buffer om die neus. Trouens, die X-Rider is ’n opgesmukte weergawe van die getroue KB 250 D-Teq-werkesel.

Net soos Kallie Grobler, vat die 100 kw-enjin teen 3 600 revolusies ook ’n rukkie om op spoed te kom, maar as hy eers op dreef is, gaan jy hom moeilik stop.

Ek het ander voertuie begin verbysteek. Elke keer as ek op pad was om dit te doen, het ek geskree: “Kom, Kallie! Kom, Kallie! Kom, Kallie!”

Dan het die X-Rider soos die legendariese makro-vleuel, wat op ’n keer 19 drieë in een seisoen vir Suidoos-Transvaal gedruk het, met brute krag en verbasende spoed vorentoe gebeur.

Dit het my laat dink aan ’n ander keer, jare gelede, toe Kallie Suidoos-Transvaal se afrigter was. Ek en ’n kollega het ná ’n wedstryd saam met hom en ’n paar spelers in ’n kroeg in Middelburg beland. Toe Suidoos se kaptein (wie se naam ek liewer nie sal noem nie) daardie aand op die kroegtoonbank begin dans, was dit vir ons ’n duidelike teken om liewer na ’n boer se plaas daar naby te verkas.

Op die plaas het die boer vir my en my kollega agter op ’n ou bakkie gelaai (as ek my nie misgis nie, was dit ook ’n Isuzu).

“Julle outjies, ons gaan nou springhase jag. As ek langs die hasie ry, moet julle afspring en hom tackle!” het die boer gebulder.

Die Isuzu X-Rider se brute krag en verbasende spoed sal nie net boere beïndruk nie. Foto: Zigi Ekron

Toe trek hy in ’n stofwolk weg en jaag die landerye in. Ter wille van selfbehoud het ons sy instruksies geïgnoreer en net vreesbevange aan die bakkie geklou. Daardie bakkie het verseker nie so ’n spoggerige rolstaaf soos die nuwe X-Rider gehad nie.

Daai bakkie het waarskynlik ook nie ’n cd- en mp3-speler en ’n Bluetooth-funksie vir jou foon gehad nie. My seun het gekerm omdat hy om die een of ander rede nie sy foon daaraan gekoppel kon kry nie, maar dit het my min geskeel.

“Wie gee daaroor om? Die ouens wat hierdie tipe bakkies bestuur is bere, man, bere!” het ek ligweg kranksinnig uitgeroep.

Isuzu X-Rider

“Solank daar ’n radio in die bakkie is en solank jy kan CD’s speel, maak dit mos nie saak nie!”

Toe het ek Leon Schuster se rugbyliedjies-CD op sy hardste gespeel. Hier kom die Bokke, hier kom die Bokke . . .

Toe ek by ’n vulstasie uitklim, het ek my bors uitgestoot, want kyk, Isuzu borg mos nou die Southern Kings. Dalk sou iemand my vir ’n King aansien.

Of dan minstens, die Kings se bagasiemeester, of so iets.

Op die plaas – naby Kareedouw, nie Middelburg nie – het ek so paar draaie ge-4x4. Dis mos altyd pret. Niks té wild nie, net om ’n bietjie meer manlik te voel as wat ek soms agter my skootrekenaar doen.

Ek moet net noem, dis nie so maklik om in die X-Rider te kom as jy kort is nie. Daai bakkie is hoog! Soos ek reeds gesê het, dis immers ’n plaasbakkie in ’n aandpak. Die onderstel staan ’n skaflike 22 cm van die grond af en waar die gewone model ’n trapplaat het, het die X-Rider ’n swart staaf onderlangs by die deure om te keer teen klippe as dinge te rof begin raak. As jy egter ’n goeie sprong gee, land jy op die sitplek en dan is alles hunky dory.

Ek is nie ’n plaasboer nie, dus het ek nie skape agterop gelaai nie, maar die laaibak het wel handig te pas gekom. Dis ’n raps oor die 1,5 m breed, bykans net so lank en 46 cm diep. Dit beteken ’n mens kan gemaklik 18 twaalf-bottel-wynkissies onder die seiltjie inpas.

Michael Green

Dit was dus geen probleem om my seun te help om ’n opslaantafel, stoel en dose vol ou speelgoed na ’n vlooimark te karwei nie. Wat ’n plesier! Gewoonlik is dit ’n stryd om alles in ons motor gelaai te kry. Met ’n X-Rider is dit natuurlik makliker.

Ek het sommer pure Kallie Grobler gevoel. Tot ek amper oor ’n ou tannie se voetjie daar in St. Georgepark gery het.

Toe is ek sommer gou weer terug in my kassie, maar my gedagtes het weer na Kallie afgedwaal.

’n Hele paar jaar gelede het Despatch se rugbyklub ’n feesdag gehou. Van die spelers wat in die spanne was wat in 1985 en 1988 die Nasionale Klubkampioenskappe gewen het, was ook daar. Party van hulle het daardie dag in ’n tipe vertoonwedstryd gespeel.

Al die ouens, behalwe Kallie Grobler, het op die veld gedraf. Kallie was agter op ’n motorfiets met ’n glas brannas in sy hand. Tot Despatch se grootste doring, Danie Gerber, kon maar net lag.

Ek bel toe maar vir Kallie, wat deesdae op Ellisras woon en ons gesels oor ’n wedstryd wat hy in 1985 vir die SA Barbarians teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gespeel het en oor daai keer toe hy Hendrik Kruger afgestamp het toe die OP teen Noord-Transvaal gespeel het en nog baie ander dinge ook.

“Sê vir die mense ek is tussen jobs en ek wil terug kom Baai toe,” het Kallie gesê toe ons groet.

Meer oor:  Isuzu  |  Motors  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.