Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Peugeot rol moue op met 208

Peugeot het sy 208-reeks opgeknap deur enkele kosmetiese veranderinge aan te bring, en sy 208 GT-Line met meer toerusting uit te rus.

Die opknapping geskied net op die regte tyd. Volkswagen het pas sy nuwe Polo bekend gestel, terwyl Toyota ook nou ’n nuwe Yaris na die land gebring het. Sake word dus warm op die markvloer.

Peugeot se klein 208 GT Line bied ’n warm voorkoms gekombineer met ’n woelige 1.2-liter-turbo. Die reeks het pas ’n opknapping ondergaan, want dinge raak warm sedert daar ’n nuwe VW Polo en Toyota Yaris op die markplein is.

Hoewel die mooi 208 oorsee heel gewild is, sukkel hy soos meeste Franse rygoed hier by ons om goeie vastrapplek in die mark te vind.

Dit is jammer, want die klein 208 is ’n deftige karretjie met slim en innoverende afwerkings binne. Boonop, met die groep se nuwe 1.2-liter-enjin onder die enjinkap, drink hy sy petrol met ’n strooitjie.

Trouens, die driesilinderenjin is verlede jaar as wenner in sy kategorie (vir 1.0- tot 1.4-liter-enjins) in die Enjin van die Jaar-kompetisie aangewys.

Die reeks bestaan uit twee standaardmodelle, die 208 Active en die 208 Allure. Albei het dieselfde 1.2-liter as kragbron, terwyl die topmodel, die GT-Line, dieselfde enjin met turboaanjaging kry.

Peugeot sê dis katkloue wat so by sy remligte gekrap het. Die ligte se ontwerp met drie LED-strepe is een van die nuwighede op die 208-reeks.

Die GT-Line bied ’n lekker windmakerige voorkoms en haastiger verrigting.

Buitelangs sal jy die model kan uitken aan sy sierrooster wat met blinkswart panele uitgevoer is, omring deur rooi lyne op die kante. Die kantspieëls en panele rondom die misligte is ook in blinkswart afwerking getooi. Die knaap ry op groter 17-duim allooiwiele.

Binne kry die GT-Line diep sportsitplekke met rooi stikwerk, ’n kleiner stuurwiel met leer oorgetrek en ook met rooi stikwerk, en nogmaals rooi aksente op die sitplekgordels.

Blink pedale en ’n aluminium trapplaat by die deure se drempels rond die prentjie af.

Diep sportsitplekke met rooi stikwerk kombineer netjies met die blink pedale, vet stuurwiel en handrem met aluminium afwerking.

As die topmodel is die GT-Line heel goed toegerus. Die stuurwiel is in sowel hoogte as reiklengte verstelbaar, die bêrekissie tussen die sitplekke is verkoelbaar en die radio het ’n USB-sok sowel as Bluetooth-funksionaliteit, sou jy jou slimfoon koordloos met die radio wou verbind.

Die raakskerm kry nou ’n duideliker beeld en nuwe ikone en sou jy dit met jou slimfoon verbind, kan hy al jou toepassings op jou foon net so op die raakskerm se gesig verbeeld, sodat jy dit van daar af in die ry kan benut.

Die GT-Line het ook funksies soos outomatiese hoofligte en reënveërs en ’n dubbelsone lugversorger als standaard ingesluit.

Die 1.2-liter-enjin in die GT-Line is heelwat lewendiger as die weergawe wat in die gewone modelle ingespan word. Krag spring van 60 kW na 81 kW, en wringkrag van 118 Nm na 205 Nm. Verbruik vir die GT-Line word op 4,5 liter vasgestel.

Wat die opknapping van die 208-reeks in die algemeen betref, kry al die modelle ’n varser voorkoms voor danksy ’n breër sierrooster en misligte wat nou dieper in die hoeke, laag onder, geplaas is.

Die hoofligte kry ’n streep LED-lampe wat regdeur die dag skyn, en die remligte het nou ook die “katnael-strepe” soos wat die groter 3008 het. Binnelangs is daar nou stemmingsbeligting in die 208 te kry.

Pryse:
  • 208 Active (handrat) – R224 900;
  • 208 Allure (handrat) – R239 900;
  • 208 GT-Line (handrat) – R259 900.
Meer oor:  Peugeot  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.