Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Peugeot se 3008-sportnuts kry ’n diesel by
Verlede jaar se wenner van die gesogte Europese Motor van die Jaar-toekenning, die Peugeot 3008, kon nog nie lekker vastrapplek in die Suid-Afrikaanse mark vind nie. Peugeot hoop ’n uitgebreide modelreeks kan nou verkope ’n hupstoot gee.

Oorsee het Peugeot se nuwe 3008 reeds verlede jaar die toekenning gekry as Europa se Motor van die Jaar. Sedert hy egter plaaslik bekend gestel is, sukkel jy om een op die pad te sien.

Franse rygoed vind maar net moeilik aanklank by Suid-Afrikaanse kopers. Al is daar meganies geen probleem met hulle nie.

Om hierdie haakplek uit te stryk, het Peugeot SA nou besluit om sy reeks verder uit te brei.

Aan die bokant van die reeks gaan ’n dieselmodel sy buiging maak, terwyl ’n kleiner petrolmodel, met ’n 1.2-liter-turbo, die goedkoper kant van die reeks sal dek.

Peugeot hoop dat hierdie groter keuse in aandrywing, afwerkingspakkette, beskikbare ratkaste en prysopsies meer kopers sal oorhaal om na ’n Peugeot-handelaar oor te stap.

Tans is daar ’n 1.6-liter-turbo (121 kW, 240 Nm) in die reeks te kry, ’n petrolmodel. Hy is egter net met ’n sesgang-handratkas beskikbaar.

’n Kop-en-skouers-foto van Peu­geot se nuwe dieselenjin wat hy in sy 3008-sportnuts gaan inspan.

Bokant hom sal daar nou twee diesels inskuif. Albei benut Peugeot se 2.0-liter-turbodieselenjin (110 kW, 370 Nm), gekoppel aan ’n sesgang-handratkas, maar hul luuksheid en afwerkingsvlak sal verskil.

Die Active ry op 17-duim-wiele en het ’n groot raakskerm binne, beheerknoppies op die stuurwiel vir die klankstelsel se werking, ’n lugversorger, spoedbeheer, asook outomatiese ruitveërs en hoofligte. Daar is ook ’n baanverlaat-gonser en ’n tru-kamera.

Die deftiger Allure-model kry groter 18-duim-wiele, kantspieëls wat wegvou as jy die voertuig afskakel, ’n aansitknop en parkeergonsers in die voorste buffer
ook.

Nog geriefsitems sluit in WiFi vir jou slimfoon en Peugeot se sentrale beheereenheid vir al die nutsfunksies, wat hy i-Cockpit noem.

Hoewel geen pryse nog genoem word nie, gaan daar in die tweede kwartaal twee goedkoper 3008’s kom, toegerus met die groep se kleiner 1.2-liter-petrolturbo.

Peugeot sê wel daar sal ’n keuse tussen ’n handrat- en ’n outomatiese model wees. Die handrat sal die goedkoopste model wees, maar belangriker is dat dit Peugeot die kans bied om die 3008 onder die magiese R400 000-prysvlak te posisioneer. Iets wat sy goeie sportnuts in hierdie gewilde maar besige segment nodig het.

Al die 3008’s in Suid-Afrika is slegs voorwielgedrewe.

Die reeks sover:

Peugeot 3008 1.6 THP Active – R414 900;

Peugeot 3008 2.0 HDi Active – R474 900;

Peugeot 3008 2.0 HDi Allure – R520 900.

Meer oor:  Motors  |  Diesel  |  Peugeot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.