Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Porsche draf fluks – sover

Terwyl jy jou tweede week op die korona-rusbank deurbring, was dit darem goed om ’n slag ook positiewe nuus te ontvang.

Porsche het pas sy jongste jaarresultate bekend gemaak en volgens ’n hoesvrye en duidelik opgewekte Oliver Blume het sy maatskappy sommer ’n vyfderat-jaar agter die rug.

Porsche het nog ’n suksesvolle jaar agter die rug met ’n 10%-styging in verkope oor die hele wêreld, sê sy voorsitter, Oliver Blume.

Die Stuttgartse groep het in 2019 ’n stewige 280 000 eenhede van die toonvloer laat rol. Dis 10% beter as in 2018.

Onthou, in die Weste is marges heelwat kleiner as in Suid-Afrika. Tien persent daar is “hou vas my bier en kyk hoe maak ek nou”.

Daar was ’n tyd wat Porsche skaars 100 000 voertuie in ’n jaar kon verkoop. Maar toe kom die era van sportnutse, en vandag pluk die sportmotorvervaardiger die vrugte hiervan.

Sy twee topverkopers is albei 4x4’s, die Macan (100 000) en die Cayenne (92 000). Goeie verkope is egter net een deel van die prentjie. Jy moet ook wins maak op jou insetkostes en uitgawes beheer.

In dié opsig is Porsche ook een van die voorryers in die motorlandskap. Die groep het ’n verdienste van 15%, een van die hoogstes in die bedryf. Wins ná aftrekkings was ’n ewe gesonde 3,86 miljard.

Blume, voorsitter van die Porsche-direksie, het wel nugterheid gevra. Die koronavirus-pandemie gaan ’n sterk afwaartse invloed op verkope hê, terwyl sy beleggings in e-mobiliteit steeds miljarde gaan opslurp.

Knormoer reken Porsche is ’n modelvervaardiger. ’n Voorbeeld van hoe dinge gedoen moet word. ’n Klein portefeulje, maar met puik (begeerlike) produkte.

  • As Kersvader nie gehok gaan wees teen Desember nie, sal Knormoer oudergewoonte sy wensbriefie na die Noordpool pos.

Gee my krag

Almal weet die toekoms van e-voertuie hang van twee praktiese dinge af: Hul reikafstand en hul herlaaityd.

Tans kan ’n hibridiese motor skaars 50 km net met batterykrag ry, en ’n volledig elektriese motor so 350 km.

Maar dan moet jy ook skietgebedjies opsê vir die optimale omstandighede.

Dis nou dat dit nie te koud of te warm is nie. Dat die battery nuut is. En dat jy met ’n ligte regtervoet bestuur.

Die herlaaityd is net so hopeloos, op die oomblik. Agt tot nege uur oornag, as jy dit by die huis herlaai. So 40 minute as jy dit met ’n kragtige kitsherlaaier optjaarts – en dan is hy net 80% vol.

Dus, duidelik nog nie die parameters wat Piet Petrolkop sy GTI onder die boom gaan laat parkeer en vir hom ’n nuwe e-voertuig gaan laat koop nie.

Maar wag, daar’s hoop.

Die Koreaanse reus Samsung het pas gesê hy het ’n deurbraak gemaak in die veld van batterytegnologie.

Spesifiek soliede batterye, en nie die litiumioon-tipe wat tans in e-voertuie benut word nie.

Samsung sê sy nuwe battery – nog net in ’n toetsfase – kan ’n klein voertuig ’n reikafstand van 750 km gee.

Glad nie sleg nie.

Ander bekende haakplekke van dié soort batterye in die verlede, ’n voorliefde om kristalle by die diodes te vorm wanneer dit herlaai word en beperkte herlaai-siklusse, is glo ook getakel.

Wanneer sal dit gereed wees? Samsung wil nog nie ’n datum gee nie, maar Toyota en Volkswagen mik glo na 2025.

  • Knormoer wil-wil sy petrol-deodorant in die asblik gooi. Maar eers wag hy nog.

Kyk bietjie hierna

Wat gee jy die man wat reeds ’n das en Johnnie Walker-muurplaatjie bo die braaiplek het?

’n Driedimensionele instrumentpaneel, natuurlik. Continental sê sy 3D-skerm sal ’n waarskuwing, soos ’n stopteken, bo-oor jou spoednaald kan toon asof dit bo die paneel sweef.

  • Vinnig: Kan ons die rugby bo-oor Binnelanders ook laat sweef? Knormoer vra namens ’n vriend.
Meer oor:  Porsche  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.