Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Porsche herleef sy 911 T van ouds

As jy gedink het Steve Hofmeyr het ’n uitgebreide familie, dink ’n slag aan Porsche se flukse 911.

Die maker van seker die mees ikoniese sportmotor-silhoeët het pas ’n nismodel by sy familie gevoeg – met ’n herkoms wat natuurlik die nodige ren-DNS bevat, soos ’n spesiale 911 betaam.

In 1968 het Vic Elford ’n Porsche 911 T geneem en die haastigste onder ’n groep tydrenjaers oor sneeubedekte bergpasse in die suide van Frankryk geglip. Nog twee jaar hierna het Elford se 911 T baasgespeel in die Monte Carlo-tydren en ’n kultusgevolg het rondom die 911 T in motorsportkringe ontstaan.

’n Pragtige wintermôre in die Boland komplementeer die nuwe 911 Carrera T, Porsche se jongste 911-nismodel. Spring gou, net 50 is vir Suid-Afrika bestem. Foto: Marnus Hattingh

As ’n doelgeboude tydrenmotor was die 911 T ’n gestroopte Turbo. Die nodige bokser-ses toegerus met ’n turboaanjaer was agter in die stert, maar binne is hy gestroop van luukshede en tierlantyntjies. Als om hom so lig as moontlik te maak.

En 50 jaar later het Stuttgart besluit om die seges op die tydrenbaan met ’n moderne interpretasie van die 911 T te herdenk.

Vandag se warm, gestroopte Porsche 911 vind ’n goue middeweg tussen ’n ligter vuurwa, minder weelde en vertroetelings vir jou sitvlak, en genoeg perde onder die voet. Die naam is effe aangepas: 911 Carrera T.

Daar is darem ook elektriese verstelling vir die rugleuning. Ander geriewe vir die moderne metroman in sy gestroopte 911 sluit in ’n stuurwiel wat teleskopies kan verstel, ’n klankstelsel met luidsprekers vir hoë en basklanke, ’n raakskerm wat jou G-kragte om ’n draai wys en leerbekleedsel oral.

Maar die deurhandvatsels binne is minus ’n metaalgreep, en nou slegs ’n lus (van rukstop-materiaal gemaak) wat jy teen ’n vreemde hoek na jou toe moet trek om die deur oop te swaai.

Vir die puris is daar tog opsies te kies om die 20 kg wat Porsche gespaar het tot ’n meer beduidende syfer op te stoot. Soos om die elektriese sitplekke met eenstuk-skotteleenhede te vervang.

’n Kort rathefboom met ’n kort skakelaksie verskaf die ry-ervaring waarna die puris soek. Let op die deurhandvatsels se bandgreep.

Wanneer dit by meganika kom, het die ingenieurs gewen. In die stert sit die vervaardiger se witwarm 3.0-liter, ’n plat bokser-ses met twee turbo’s. Krag gaan slegs na die agterwiele en ’n meganiese sluitewenaar op die as kanaliseer die krag na die buitewiel wat meer vastrap om ’n draai het.

Die onderstel is met 2 cm laat sak en vering by die wiele is fermer gemaak.

Vir ratskakeling bied Porsche jou die keuse tussen ’n sewegang-handratkas of ’n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe, wat Porsche sy PDK-ratkas noem).

Om eerlik te wees, Porsche het nóg stappe gedoen om sy nuwe 911 T ligter te kry. Die agterruit is van dunner glas, en omtrent alle klankabsorbeermateriale is uit die deurholtes, enjinmuur en by die wielboë weggesny.

Maar nou hoor jy meer van die bokser-ses se kenmerkende Volksie-dreun as jy derde haak en mielies gooi. Want dis eintlik waarvoor hy bedoel is.

Die twee ratkaste is in wese dieselfde eenhede, en albei se eerste ses gange is korter gemaak dat versnelling in ’n gedagte kan geskied. Saam met die korter ratte is die handrat se rathefboom ’n stomp affêre, en die wisselaksie net so ’n vinnige druk-trek-druk soos jy drie, vier en vyf haak.

Sewe ratte is nogal besig vir ’n handrat. En daarby lê die sewende rat op ’n ongewone plek: skuins, regs bo. Om van ses na sewe op te druk, is nog eenvoudig. Maar wanneer jy van sewe (regs bo) afrat na ses (onder), raak dit ’n moeilike aksie.

Klassieke strepe op die flanke met “911 Carrera T” as kentekens gedenk die gestroopte Porsche se renherkoms.

Die hefboom “spring” na sy neutrale posisie in die middel, net tussen ratte drie en vier se lêplek. So, as jy die hefboom aftrek van sewe, moet jy hom na regs dwing om by ses in te gaan. Moeilik, lomp en tydsaam.

Dus het ek die PDK-outomaties meer geniet. Die 911 T is nie so bar dat dit nié ’n alledaagse ryding kan wees nie.

Inteendeel, hy ry heerlik en kan maklik as kantoor-ryding ingespan word. Selfs met die gedreun van die enjin.

Die PDK bied net meer gerief en gebruikersvriendelikheid. Vir die enkele gevalle waar jy ’n bergpas met ’n handrat wil aanpak, is hy steeds goed genoeg. Puris of te nie.

Teen net meer as R1,5 miljoen is hy eksklusief. Maar net 50 is vir Suid-Afrika bestem, en ons glo jy sal desondanks gou moet spring om een op te raap. Want dié spe­siale 911 gaan sy waarde behou.

Die 911 T is die sportmotor wat die beelde van die 60’s oproep. Porsche het ’n goeie middeweg gevind, want hy sal beleggers en entoesiaste laat glimlag.

Meer oor:  Monte Carlo-Tydren  |  Victor Elford  |  Motors  |  Porsche 911 T  |  Nuwe Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.