Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Porsche se supergesin brei uit

Porsche het skaars laat verlede jaar sy jongste 911, die 992-reeks, aan die wêreld gewys of die eerste variasie van dié groeiende gesin, die 911 Cabriolet, het sy eerste tree op die teerpad gegee.

Langer, slanker, maar steeds net so sensueel as vantevore. Porsche se jongste 911 Cabriolet het pas die lig gesien en bied somerverrigting vir die hele jaar.

Die 911 is Weissach se bekendste en (amper) gewildste model, en het die laaste paar jaar tot ’n uitgebreide gesin aangegroei. Modelvariante wat klein enjin- en voorkomsverskille insluit, kom al hoe geredeliker voor. Tog, Porsche kan nie voorbly om dié nismodelle uit te rol nie, so fluks koop die publiek aan dié ikoniese sportmotors.

Die jongste gesinslid is die oopdak-weergawes, voorlopig slegs as ’n 911 Carrera S en 911 Carrera 4S te kry. Dit volg dieselfde trant as wat die koepee se twee eenderse modelle ingelui het.

Later sal ’n Turbo volg, asook ’n GTS, GT2 en GT3.

Die lapdak vou in 12 sekondes toe bokant jou kop. Digitale skerms – maar steeds met ’n groot analoog toereteller in die middel – bring die 911 in die 21ste eeu.

Vir die nuwe oopdakker het Porsche heelwat aanpassings aangebring. Die bakwerk is nou grootliks van aluminium gemaak – slegs die neus en stert is nog van staal. Daar is ook ’n nuwe dakmeganisme wat die dak nou ’n paar tellings vinniger (net 12 sekondes) laat oopvou.

Onder die vel ry al twee modelle nou op die breër onderstel van die vierwielgedrewe 4S. Dit beteken ’n breër spoor voor en agter (4 cm) en die 4S se groter, aggressiewe wielboë.

Porsche se jongste 3.0-liter-bokserses met twee turbo’s dryf die 911’s aan (331 kW, 530 Nm), en is aan ’n nuwe agtgang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) gekoppel. Dit vervang die ou model se sewegang-kas. Porsche sê as jy voet neersit, verskyn die 100 km/h-merkie skaars 3.9 sekondes later. Topspoed is ’n flukse 305 km/h.

Vir ’n paar rand ekstra kan jy nou voortaan ook ’n sportpakket bestel (Porsche Active Suspen­sion Management) wat jou sportwa ’n sentimeter laer laat hurk, stywer vere bied en dikker teenrolstawe op elke as. In ieder geval kom jou oopdak-911 met ’n enjin wat nou nuwe hegpunte aan die bakwerk het om met beter struktuur-stewigheid te help.

Die dakmeganisme bevat nou ook magnesium-strukture wat help keer dat die lapdak soos ’n ballon bokant jou kop bult as jy haastig ry.

Agter is ’n geïntegreerde drukvin wat teen ooppad-snelhede ontplooi, en dié is ook breër gemaak as met die vorige model.

Afwerking binnelangs lyk modern en bevat onder meer ’n raakskerm vir jou nutsfunksies, wat ’n satnavstelsel en parkeerkamera standaard insluit.

Die nuwe oopdak-911’s behoort teen die middel van die jaar in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

Pryse:

Carrera S Cabriolet – R1 874 000;

Carrera 4S Cabriolet – R1 964 000.

Meer oor:  Porsche  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.