Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Porsche werskaf aan X6-temmer

Porsche staan op die punt om ’n nuwe, slanker weergawe van sy gewilde Cayenne-sportnuts bekend te stel.

Die groep het stil-stil hard agter die skerms gewerk om ’n koepeevormige sustermodel te ontwikkel. Volgens die Britse tydskrif Autocar het ingenieurs wat die afgelope nege maande aan die projek werk, die geheim uitgelap.

Porsche is hard aan die werk om ’n sportiewer weergawe van sy standaard-Cayenne (foto) markgereed te kry wat met die BMW X6 sal kan meeding.

Die nuwe sustermodel het nog nie ’n naam nie, maar volgens die bronne mik Porsche daarna om die nuweling iewers volgende jaar markgereed te hê.

Michael Mauer, die Stuttgartse groep se ontwerphoof, het verlede jaar reeds gesinspeel op die moontlikheid van ’n mededinger vir die BMW X6 en Mercedes se GLE-koepee.

Veral BMW, wie se X6 nou al in sy tweede generasie is, het meer sukses met sy gewaagde ontwerp gesmaak as wat ontleders vooraf verwag het. Dit het veroorsaak dat die ander vervaardigers skielik almal ook in dié nuwe nis betrokke wil wees.

Audi het pas sy nuwe Q8 – ook ’n koepee-vormige sportnuts op die groot Q7 geskoei – bekend gestel. Mercedes se GLE-koepee is al meer as ’n jaar lank op die markvloer terwyl die Maserati Levante en Lamborghini Urus ander nuwe mededingers sal wees.

Kopers soek ál meer die ruimte en hoogte van ’n sportnuts, maar sonder die bonkigheid en oordonderende forsheid wat hulle tradisioneel gebied het.

Porsche was een van die vroeë rolspelers in die mark vir sportnutse. Sy Cayenne het kort ná die BMW X5 en Mercedes ML op die mark verskyn. Met sy nuwe Cayenne-koepee hoop hy om nog meer kopers na handelaars se toonvloere te lok. Mauer en sy span het glo reeds ’n model aan die direksie voorgelê met toetswerk wat eersdaags kan begin.

Die nuweling se neus en vooraansig is glo baie dieselfde as die gewone Cayenne s’n, maar vanaf die B-pilaar het die dak ’n skuins, dalende hoek na agter. Dit skep dus ’n lang luikrugdeur amper soos wat ’n Audi A7 bied. Die voertuig sal ook eerder ’n viersitplekker as ’n vyfsitplek-model wees.

Porsche wil die model as ’n ratser, sportiewe nefie van die Cayenne bemark en daarom sal sy nuwe 2.9-liter-biturbo onder die enjinkap ingepas word. Dit behoort puik verrigting vir die model te bied, terwyl groot laeprofielbande en ferm vering hom padgerigte, sportiewe hantering sal gee.

Porsche sal die Cayenne-koepee maklik by sy Leipzig-fabriek in die ou Oos-Duitsland se produksieproses kan inpas. Die groep bou reeds sy gewone Cayenne en Panamera, asook die stasiewa-weergawe van die Panamera, die Cross Turismo, daar. Die voertuie deel almal dieselfde onderstel, enjins en ratkaste.

Meer oor:  Sportnutsvoertuig  |  Porsche  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.