Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Portugese tuimeltrein’ wys min

En die idioom-uitskryfwerk vir Red Bull ná Sondag se Portugese Grand Prix is: Dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel.

Met drie rondes in vanjaar se Formule 1-kampioenskap reeds agter die blad, is bogenoemde steeds die enigste absolute waarheid wat uitstyg in die frustrerend-verruklike stryd om te ontsyfer watter een van die Mercedes of Red Bull vanjaar die vinnigste is.

Max Verstappen (agter, Red Bull) en Mercedes se Lewis Hamilton het Sondag vir ’n verbete tweestryd om die voorste plek gesorg in die Portugese Grand Prix in Portimão.Foto: Getty Images

Hoewel Mercedes se verdedigende kampioen, Lewis Hamilton, in die ren geseëvier het (en die 97ste van sy loopbaan); en nou een meer oorwinning in die 2021-sak het as sy medetitelprotagonis, Max Verstappen (Red Bull-Honda), was eersgenoemde se louere in der waarheid allesbehalwe gewaarborg.

Só weglaatbaar is die wenmarges; en só smal die pendulum geswaai tussen dié twee voorvegters, dat die naweek onderstreep het hoe élke mistrap bepalend in vanjaar se kroonstryd gaan wees.

Só het die onwettige oorsteek van Verstappen oor die sperlyn in Saterdag se finale kwalifiserende rondte, danksy Mediterreense rukwinde wat die Portimão-renbaan heel naweek geteister en sy motor net op daardie oomblik tydelik gedestabiliseer het, hom van die voorste wegspringposisie beroof en na die derde gerelegeer.

Sou hy eerste wegtrek, was die wenbeker stellig syne. Maar aikôna, pleks daarvan moes hy Sondag vir lief neem met slegs die silwer segeteken.

Portugese tuimeltrein

Juis omdat Verstappen vir die soveelste keer vanjaar die oortreffende pas gehad het, maar weens ’n glips nie daaruit kon munt slaan nie, was die smaak van Hamilton se sjampanje op die podium soveel soeter: Die Brit het nié eerste gekwalifiseer nie, nóg koning gekraai in die stormloop ná die eerste draai; en is boonop deur die venynige Hollander ná ses rondtes tydens ’n veiligheidsmotortydperk aan die slaap gevang en verbygegaan.

Vasgekeer in derde agter eersgenoemde se spanmaat, Valtteri Bottas, gevolg deur Verstappen se steekse Rooi Koei, was die kampioen se wenvooruitsigte op daardie oomblik oënskynlik maar yl.

Hoewel die Mercedes straks tog die sneller strydwa oor ’n volle renafstand rondom die Portugese tuimeltrein van ’n reliëf-ryke baan geblyk het, is Sondag se uitslag nie bloot deur brute spoed bepaal nie.

Ja, die Honda-enjin was kortasem op die pylvak teenoor die Mercedes. Maar in stede het die buitengewone fyn baanoppervlak toegelaat dat motors mekaar kon volg sonder die Pirelli’s se kenmerkende, gehate oorverhitting en versuikering wat strydende jaers noop om terug te sak pleks van aanval.

Danksy dit kon Hamilton dus mak-mak op Verstappen se agterstoep kuier; en toe eersgenoemde vyf rondtes later ná ’n glyspel tydelik momentum net voor die pylvak verloor het, is die Mercedes-jaer verby, waarna hy ook in die 20ste sy spanmaat van die voortou ontneem het. Terwyl Verstappen tot ná die kuipestoppe gespook het om verby Bottas te kom (en eindelik geslaag het), het Hamilton eintlik reeds die Red Bull-jaer met die Bottas-verbysteekbeweging verslaan.

Klein (maar duur) foute

Agterna beskou, en ongeag Verstappen se roubekla van hoe min hy die Portugese ronde geniet het, is dit noodsaaklik dat hy ’n groter waardering ontwikkel vir die haarfyn nuanses van ’n seisoen lange kampioenskap­stryd. Met nog 20 renne om te besleg en ’n agterstand van slegs agt punte tussen hom en Hamilton, is die titeltwis nog oneindig onbeslis.

Maar klein foutjies ontrafel onteenseglik met groot gevolge. Einde Maart het sy nou amper gebruiklike oorsteek van sperlyne hom ’n besliste sege in Bahrein gekos, en Sondag waarskynlik ook in Portugal.

Dit is 16 potensieel beslissende punte. Verspeelde kanse, laaste danse.

Met dit gesê was Hamilton op sy beurt hierdie jaar ook nie foutloos nie. Bottas het hom Saterdag tot die voorste wegspringplek geklop; en twee weke gelede by ’n klammerige Imola het hy in die sandkuil gaan boer – en in sy haas om daar uit te kom boonop sy motor se voorvlerk gebreek. Kwalik die verwagte vlekkeloosheid van ’n jaer op die rand van elke moontlike rekord in F1 oortref.

Slegs die feit dat die ren sekondes ná die misstap gestop is, het hom van ’n rampspoedige punteverlies kwytgeskeld. Net so was sy besluit om op Imola vanaf die wegspring tot by die eerste draai aan Verstappen se buitekant te bly, waar hy voorspelbaar van die baan gedruk is om die voortou op te gee, ewe bevraagtekenbaar.

Maar só druk die skroef van ’n titelstryd: Vir Verstappen om die eerste in ’n generasie te wees wat Hamilton se ystergreep op die sport kan breek; en Hamilton om met ’n agtste jaers­kroon verewig te word.

En tog, erkenning van sewe seisoene se über-oorheersing deur die Mercedes-span verleen aan vanjaar s’n ’n onheilspellende, uitmergelende onvermydelikheid.

Dit nou dat die swartgeverfde Silwer Pyle tot op hede nog nie die giftigstes uit hul koker kon trek nie. En dat Red Bull daarteenoor maksimaal in eersgenoemde se krale moet gaan wei; waar en terwyl hulle nog kan, voordat die Mercedes-armada se kanonne hul volle slaankrag terugkry.

Dié silwer salvo kan reeds eerskomende Sondag by die Spaanse ronde in Barcelona afgevuur word. Sedert die intrede van turbohibriede V6-enjins in 2014 het Mercedes dié slagveld sy eie gemaak, waar hy jaarliks sy grootste voordeel bo enige mededinger kon vind.

As Portimão gekenmerk was deur ’n vis-en-skyfiespapier-agtige oppervlak en ’n gepaardgaande en welkome verminderde afhanklikheid van aërodinamika, bied sy Katalaanse eweknie ongelukkig die omgekeerde. Meer eise is gestel aan die motors vanweë elke moontlike trajektipe, wat in klassifikasie wissel van kruipspoed tot kokend.

Hoewel Barcelona – wat ook tradisioneel dien as voorseisoense toetsbaan – ’n helderder blik sal bied oor watter een van Red Bull of Mercedes die meeste skietgoed het as Sondag se Portugese buiteperd, is dié ren weens sy verbysteek-onvriendelike uitleg saam met die Monaco-, Franse, Russiese en Abu Dhabi-rondes, ook onder die mees metronomies verveligste van die jaar.

Toevallig is Sondag ook Moedersdag; en het jy ’n verskoning om nie te kyk nie.

Of dalk júis.

  • Volg die Spaanse Grand Prix Sondag regstreeks vanaf 15:00 op kanaal 215 op SuperSport.
Meer oor:  F1  |  Motors  |  Spaanse Grand Prix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.