Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Prakties en logies

Opel het nie van die aardbol af verdwyn nie. Egmont Sippel het onlangs die Grandland X 1.6 Turbo Enjoy-model getoets.

Opel Grandland X 1.6 Turbo Enjoy

’n Opel?

Nee man, General Motors het dan uit Suid-Afrika onttrek, nie so nie? En PSA Peugeot Citroën het Opel vier jaar gelede mos gekoop? (En wat verder niks met Opel te make het nie, maar wel betrekking op Franse motorvervaardiging het, is dat Renault gereed staan om met Fiat Chrysler Auto saam te smelt.)

Ieder geval. Dinge verander en soms vinnig.

Maar Opel het deur dit alles nog steeds ’n voet in Suid-Afrika. Dit nou via die gesig van die plaaslike verspreider Williams Hunt se 35 landwye agentskappe.

Dis nie sleg nie. Nog goeie nuus is dat Hunt teen dié tyd al twee nuwe modelle ter plaatse bekend gestel het: die Opel Crossland X-lewenstylertjie en onlangs sy groter boet, die Grandland X.

Voeg hierby die feit dat dit deesdae ruweg, op ’n gemiddeld, drie jaar duur om ’n motor te ontwikkel, en dit was te verwagte dat Peugeot – sedert Opel gekoop is – teen hierdie tyd ook al produkte in die mark sou stoot waarvan die harde- en selfs sagteware deur albei handelsmerke benut word.

Skaalbesparings, noem die sakeslimmes dit. Verskaf een platform – in hierdie geval die EMP2 – en bou ’n Peugeot 3008 én ’n Opel Grandland X (én ’n paar ander motors) daarop.

Anders as wat die gewoonte in motortaal soms is, dui die Grandland se X nie op alwieldryf nie; die nuweling trek deur sy voorwiele.

En anders as wat die gewoonte voorheen was, word hierdie Opel nie in Duitsland gebou nie, maar goeiste, in Frankryk!

Ooreenkomste

Sou jy dus verbaas wees om te hoor dat die 3008 en die Grandland X ook enjins en ratkaste deel?

In Suid-Afrika is daar byvoorbeeld ’n trio Grandlanders beskikbaar wat al drie uit ’n 1.6-liter-viersilinder-petrolturbo (141 kW/240 Nm) en via ’n sesgang-outokas na die voorwiele dryf.

Haal die 3008 se twee dieselmodelle en een 1.2-liter-petrol uit die plaaslike reeks, en daar bly ook drie 1.6-liter-viersilinder-petrolturbo’s met sesgang-outo’s oor, nie toevallig nie met identiese kragsyfers as die Grandland X s’n – en as jy nog enigsins twyfel, ook met identiese druk- en ratverhoudinge.

Veeruitleg (McPherson-stutte, krulvere en kantelkeerstaaf voor; wringbalk en krulvere agter) is eweneens identies, maar instellings verskil.

Albei voertuie anker boonop puik – van 100 km/h rem die 3008 sowel as die Grandland X gemaklik in minder as 40 m tot stilstand – alhoewel daar hier en daar ook, afhangende van model en wielgrootte, verskille in veral voorste remskyfgroottes kan wees.

Verskille

Dis ’n mondvol, maar dis ook waar die ooreenkomste eindig.

Wat die res betref is die Peugeot sagter, meer verfynd, moderner, eksklusiewer.

Hy’s die landheer, die Pug. Daar’s nie noodwendig edel en adel nie, maar wel ’n snuifie aristokratiese swier.

Die Opel, daarenteen, kom uit die burgery. Daar’s niks meer as snarsies van die skeppende ontwerpgees nie; verlangse tekens, of vae oorblyfsels, van ’n estetika wat die vorige Astra – die een van ’n dekade gelede – so ’n opwindende visuele treffer gemaak het.

Maar nes Opel min of meer in dieselfde era hul verrigtingsfokus vir doeltreffende verbruik verruil het, is die stileringskrane ook toeër gedraai toe die Grandland X-projek gestalte sou aanneem.

Van agter is hy mooi, selfs met ’n asempie Alfa op die oog.

Maar van voor – en van binne – is hy Rüsselsheim-saai, en as jy al in Rüsselsheim am Main was, sal jy weet dat die industriële hoogty vier. Die manier waarop die X se kopligte boonop onder die mosselskulp-enjinkapsnit uitloer, is ook so bietjie Saab-agtig, dan nie? Of is dit eintlik skaapagtig?

Dimensies en verbruik

Waaroor niemand kan kla nie, is ’n waarlik indrukwekkende grondvrye hoogte wat 4 mm hoër as die Peugeot 3008 se reeds goeie 219 mm troon. Die Hyundai Tucson se pensplate glip teen ’n relatief lae 172 mm oor die grond en die VW Tiguan s’n teen 200 mm, en nou mag jy dink dat die Tucson seker laer is en dus minder frontale windweerstand bied en daarmee saam ’n verbruiksvoordeel?

Maar jy sal verkeerd dink, want die Grandland X se dak is inderdaad (’n weglaatbare) 5 mm laer as die Tucson en die 3008 se 1,875 m elk. Die groter verskil is eerder in kopruimte, waar die X se voor- en agterkajuite onderskeidelik 20 en meer as 100 mm minder bied, juis daar die Opel se kap vinniger na agter wegval.

Die segment se kopruimkoning is egter die Tiguan; ditto vir laairuimte, juis omdat die VW se agterbank vorentoe en agtertoe kan gly.

Die Opel (asook die 3008) se 312 liter is egter min te versmaai en die X se effe mindere kopruimte ten spyt lewer die agterkajuit steeds heel gemaklike en aanvaarbare leefruimte.

Dit nou, terwyl jy vreedsaam in die wete kan ry dat donker vensters die buitewêreld daarvan weerhou om, agterlangs, na binne te kyk.

Dry flyn en dinamika

Die Tiguan vertoon goed in die vergelykings hier bo. Voeg hierby Duitse ingenieurswese en bougehalte, asook VW se moderne stileringstaal van skerp lyne en nate plus ’n stewige padhouding en die Tiguan lyk uit die blokke na ’n wenner.

Maar daar is ’n vangplek. In die R440 000-tot-R480 000-strek waarin die Grandland X 1.6 Turbo en 1.6 Turbo Enjoy verkoop, bied die Tiguan net ’n 1.4-liter-petrolturbo, waarvan 110 kW/200 Nm weliswaar – danksy korter en sterker ratverhoudinge – genoeg is om amper die Opel se 0-100 km/h-lopie van 9.5 sekondes te ewenaar.

Ditto vir ’n topspoed van 200 km/h, terwyl verbruik net-net meer as 8 liter/100 km is, vergeleke met die Opel se net-net minder as 8 liter/100 km.

Waar die Opel voorts hard terugslaan is met vinniger in-ratse versnelling, gedeeltelik ook daaraan te danke dat die X, selfs met ’n bietjie meer standaardtoerusting, meer as 100 kg minder as die Tiguan weeg.

Met al die vragmotors op ons paaie wat dikwels in kettingtreine ry, is goeie verbysteekkrag ’n enorme bonus en dat die Opel dit kan lewer is nogal verbasend, gesien in die lig van die outokas se redelik rustige verwisselinge.

Die enjin, omgekeerd, is bronstig vir ’n 1600 en ook waarlik glad en verfynd; goed genoeg in al hierdie fasette sodat BMW einste 1.6 THP-bron ook al in die Mini gebruik het.

’n Minder soepele Grandland-rit, omgekeerd, is nie heeltemal bevredigend nie en mens kan die wringbalk-agteras blameer, maar dit sal verkeerd wees. Die 3008 ry op dieselfde as en wel met ’n sagter en aangenamer rit.

Die X hanteer weer beter, alhoewel die stuur in’t algemeen ’n bietjie lig en gevoelloos is, veral teen lae snelhede.

Toerusting en prys

Ons toetsmotor (op 18”-wiele met 225/55-bande) was die middel-geprysde van drie 1.6-liter Grandland X-outomodelle, die Enjoy-variant. Toerustingvlakke is goed; die Enjoy bied alles wat mens in die lewenstylmark rondom R450 000 verwag.

As standaard lyk die lys só: kragvensters, kragstuur, kragspieëls, kragstoele (met hoogteverstelling vir die bestuurder), dubbelsone-klimaatbeheer, kruisbeheer, ’n hulpsok, klank (radio/CD/MP3/Bluetooth/stembeheer – met klankbeheer van die stuurwiel af), gedeeltelike leerbekleding, ’n ritrekenaar, parkeerhulp, heuwelwegtrekhulp, outoligte, outoreënveërs, banddruksensors, laanverlaatwaarskuwing, ABS-remme (en goeies!) met ESP – en ses lugsakke (insluitend kantsakke).

Satnav is opsioneel (maar so byvoorbeeld ook op prysmededingende Tucsons en Tiguans).

Die Grandland se toerusting is dus baansyfer vir sy prysklas. Die Tucson bied nie banddruksensors nie en die Tiguan bied ’n kniesak as ekstra, maar vir die res lyk itemlyste baie dieselfde, buiten dat die Opel en Peugeot stembeheer bied, iets waaraan jy jou min moet steur, want selfs op die duurste motors is dit nog sukkeltegnologie; meer van ’n frustrasie as ’n hulp.

Uiteindelik dan, is die Grandland X en die 3008 dieselfde motor, maar in twee heel verskillende vorme en met twee heel verskillende karakters en persoonlikhede.

Die Pug het ’n avant-garde-dop, ry sag en spog met ’n unieke futuristiese interieur. Die Opel het ’n konserwatiewe skulp, die rit is minder soepel en die voorpaneel is netjies, logies, funksioneel en vervelig.

Dis ’n persoonlikheidstoets wat hier aangebied word. Jou keuse sal afhang van wie jy is en waar jou naaste handelaar geleë is.

En, o ja: die Opel bied ’n vyf jaar/120 000 km-waarborg plus ’n vyf jaar/90 000 km-diensplan. Dienooreenkomstige syfers vir die Tiguan is identies, buiten dat die waarborgperiode net drie jaar insluit; die Tucson rek weer die waarborgafstand na 150 000 km. En die Pug bied net drie jaar/100 000 km en vier jaar/60 000 km as waarborg en diensplan.

Sal dít dalk die deurslag gee?

  • Prys: Opel Grandland X 1.6 Turbo Enjoy – R479 000.
Meer oor:  Opel  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.