Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Pst, Luigi, herken jy dié Miura?

In die pragtige openingstonele van die klassieke 1969-rolprent The Italian Job ry ’n man vaardig maar sonder haas deur die Italiaanse Alpe. Sy keuse van vervoer? ’n Pragtige, oranje Lamborghini Miura.

Die tonele is treffend: Blou lug wat bo die wit Alpe uittroon, en ’n grys bergpaadjie wat deur esse en kinkels teen die berg op en af kronkel. Terwyl hy rustig alleen in sy sportmotor oor die bergpas ry, speel ’n stuk dramatiese Italiaanse musiek in die agtergrond.

Die pragtige Miura wat Lamborghini 50 jaar nadat hy in die rolprent The Italian Job verskyn het, weer opgespoor en gerestoureer is.

Helaas, die Miura maak dit nie heelhuids oor die Alpe nie. Die Mafia plaas ’n stootskraper by die mond van ’n tonnel, en as die Lamborghini deur die tonnel blits, hoor jy net remme en dan ’n trefslag. In die volgende toneel ry die stootskraper tru, uit die tonnel uit, en op sy massiewe skopgraaf lê ’n verfrommelde Miura waaruit swart rook borrel.

Vroeër die maand het Lamborghini, tydens die 50-jarige herdenking van die rolprent, die doek gelig van ’n lieflike, oranje Miura. Inderdaad, dit was die einste Lambo wat 50 jaar gelede in die Alpe tot sy einde gekom het.

Wel, min of meer. Want, sê Lamborghini, toe die rolprentmakers destyds vir ’n spaarmodel gevra het, kon hulle darem nie ’n peperduur sportmotor net so laat verfrommel nie. Daar is dus twee Miuras vir die verfilming gebruik.

Die wrak wat jy op die stootskraper kan sien, was ’n ware wrak wat Lamborghini besit het. Dié kon nie meer herstel word nie, dus is dit vir die kameraspan gegee. As die wrak teen die berg afrol, kan jy sien dit het geen enjin in nie.

Die tweede Miura was ’n nuwe model, en is vir die bergpas-tonele ingespan. Maar ook hier is ’n ekstra hoek aan die ronde pizza: Dié Miura was reeds verkoop gewees, die eienaar moes hom nog net kom haal het by Lamborghini. Geen wonder dus dat vir die minute lange openingstonele in die Alpe, die Miura so rustig gery word nie.

In die rolprent kom die Miura aan sy einde as hy in ’n tonnel in ’n stootskraper vasjaag. Lamborghini het destyds gelukkig ’n tweede, reeds verfrommelde wrak aan die filmmakers gegee vir dié takie.

Lamborghini het verlede jaar begin met die soektog na dié spesifieke Miura, indien hy nog sou bestaan. Om hom te help, het hy een van die fabriek se destydse toetsbestuurders, Enzo Moruzzi, nader gewink. Hoe sou ’n mens die Miura maklik kon uitken, was daar enigiets koddigs aan hom?

Moruzzi het toe ’n interessante brokkie opgehaal. Die betrokke oranje Miura het wit leersitplekke gehad, maar omdat Lamborghini nie ’n vuilgesmeerde kajuit en sitplekke aan die eienaar wou oorhandig nie, het hy die sitplekke uitgehaal en met swart sitplekke vervang, wat vir die verfilming gebruik kon word.

Swart kopstutte was egter nêrens in die fabriek te vinde nie, dus het die rolprent se oranje Miura die vreemde kombinasie van swart sitplekke met wit kopstutte gehad.

En so het Lamborghini se span werkers by sy nuwe historiese afdeling, Polo Storico, na die pragtige, oranje Miura met die onderstelnommer van 3586 gaan soek – en hom in Lichtenstein gevind waar sy huidige eienaar hom sedert verlede jaar al besit.

Die Miura is toe gekoop en teruggeneem Bologna toe, waar hy skoongemaak en opgeknap is, al was hy meganies grootliks steeds in ’n goeie toestand, vertel die Italianers. Vandag word hy by die groep se nuwe, groter museum in Sant’Agata uitgestal saam met ’n rits ander eksotiese Lambo’s. Veilig van die Italiaanse mafia en groot, geel stootskrapers.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.