Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Qashqai kry ’n stadsjas

Soos ’n goeie sessie in die gimnasium het Nissan sy nuwe Qashqai formeel bekend gestel met dié kompakte sportnuts wat nou ’n groter lyf en kajuit het, maar steeds ’n hele paar kilo’s ligter is as vantevore.
Ons hou van die nuwe Qashqai se langer, skerper voorkoms. Die stuuraksie is nou skerper en klankdigting beter, sê Nissan.

Nadat die Qashqai destyds met sy eerste verskyning die mark nogal oorrompel het, het hy die afgelope tyd op die agtergrond verdwyn. Die nuwe model, met sy skerper voorkoms, groter lyf en meer klem op ’n dinamiese rit, sal hoop om sy verlore aansien te herwin, noudat sportnutse al meer as deftige teerpadryers benut word.

Innovasie

Nissan het ’n nuwe platform, CMF-C, vir die Qashqai ingespan wat hy sê spesifiek bedoel is om ’n sportiewer rit te bied, en voorsiening vir elektriese aandryfstelsels te maak.

Die gewone modelle sal dus met ’n matige hibriedstelsel toegerus wees (dit werk met ’n klein 12 V-stelsel), terwyl daar ook ’n e-model is met die litium-ioon-battery wat in die vloerpan versteek is.

Dis nog nie duidelik of Nissan altwee weergawes na Suid-Afrika gaan bring en of dit net die standaardmodel is wat by ons gaan opdaag nie. Maar die aandryfstelsels wys innovasie aan die kant van die Japanners.

Slank en modern

Wat sy voorkoms betref, is hy nou 3 cm langer en breër as die ou model. Dit help hom om ’n slanke voorkoms te skep, wat verder aangehelp word met talle aksentlyne by die flanke. Ook die neus met sy skerp, vertikale mes-hale herinner nogal aan iets waarmee Lexus deesdae vorendag kom.

Die hoofligte is smal LED-eenhede, terwyl die C-pilaar ’n sweef-ontwerp bied met ’n swart paneel in die middel.

Die kajuit is net so modern gestileer. In die middelkonsole sit ’n stomp rathefboom met ’n raakskerm bo in die instrumentpaneel. ’n Digitale skerm met jou toere- en spoednaald sit reg voor die bestuurder.

Die moderne kajuit bied onder meer vyf ritmodusse vir die 4x4-modelle. Die klein battery by die petrolgedrewe Qashqai’s help om die enjin vroeër te laat afskakel as jy by ’n verkeerslig stop.

Sportiewer

Nissan sê die nuwe platform bied hom die kans om ’n sportiewer nuts aan die mark te bied. Die bakwerk is 50% wringstewiger as vantevore, maar ook 60 kg ligter gemaak (ondanks die ekstra sentimeters). Daar is ook groot sorg gelê aan die veringstelsel om meganiese klanke na die kajuit te verminder.

Basiese modelle kry ’n 1.3-liter-petrolturbo wat met ’n 12V-batterystelsel gekoppel is. Die enjin sal met twee kragvlakke te kry wees (138 kW/240 Nm, en 156 kW/260 Nm). Oorsee kan kopers kies tussen ’n sesgang- handratkas of ’n CVT-tipe outomaties, en aandrywing is voorwiel of 4x4.

Die e-model op sy beurt het ’n 1.5-liter-petrolturbo (met drie silinders) wat as ’n kragopwekker dien vir die voertuig se litium-ioon-battery in die vloerpan. Die battery dryf die twee motore, een op elke as, aan.

Dis ’n slim stelsel en Nissan is die enigste vervaardiger wat dit benut. Dit sal dus interessant wees om te sien hoe goed jou reikafstand in die praktyk is. Die voordeel hiermee is dat jy ’n volledige e-motor het, maar sonder om die battery te moet herlaai. As jou brandstof op is, gooi jy net petrol in, sodat die petrolmotor die battery kan herlaai.

Nissan maak nie ’n reikafstand bekend nie, maar sê bloot dat die ander (1.3-liter-) modelle ’n verbruik van 6,3 liter het.

Die nuwe Qashqai kom in die derde kwartaal na Suid-Afrika, met die modelreeks en pryse wat dan eers bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Qashqai  |  Motors  |  Nissan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.