Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Quest vir ’n gekweste mark

Met ’n ekonomie wat al vir drie jaar op ’n drup is, en ’n wisselkoers so pap dit gaan nie ’n duik in ’n warm blok botter kan slaan nie moet motorgroepe in Suid-Afrika ál meer planne beraam om hul produkte verkoop te kry.

’n Gewilde roete is om ’n Indiese produk in die moedermaatskappy se portefeulje te identifiseer vir invoer na Suid-Afrika (dink aan die Honda Ballade, Toyota Yaris en Renault Kwid).

Gits, die nuwe Toyota Corolla Quest lyk sommer spoggerig met daardie nuwe rooster van hom. Met ’n nuwe Corolla eersdaags op pad sal jy die bestaande model voortaan as ’n bekostigbaarder plan B kan aanskaf.

Maar soms kies vervaardigers die pad van ploeg met laas jaar se kallers om die boontjietellers gelukkig te hou.

Onthou jy nog die Ford Figo? Of die Volkswagen Polo Vivo? Dis als vorige-generasie-rygoed wat, wanneer die nuwe model opdaag, steeds plaaslik versprei word. ’n Nuwe naam, ’n bietjie goedkoper afwerkings binnelangs en siedaar, daar is ’n sakpas reeks skuins neffens die blinknuwe ryding in die vloot.

Toyota het met die koms van die huidige, elfdegeslag-Corolla so ’n paar jaar gelede dit ook gedoen. Die tiende Corolla is plaaslik as die Corolla Quest versprei.

En vandag, met ’n twaalfde-generasie-Corolla in Maart op pad, het die Japanse vervaardiger sy nuwe Quest onthul: Jou elfde-geslag-Corolla in ’n meer basiese gedaante as wat jy hom voor ken.

Wat het ons hier?

Dis ’n goeie resep, hoewel ek een kommernis het. Maar laat ons eers meer van die nuwe Quest te wete kom.

Die Quest as sulks is dus die gewone, huidige Corolla met bloot eenvoudiger afwerkings (binnelangs) as wat jy tans ken. Hy bied ’n waarde-aanbod aan kopers wat ’n gesinsryding soek maar nie noodwendig gepla is daardeur om die jongste voorkoms te moet hê of allerhande tegno-hulpmiddels nie. ’n Lekker, gesinsvriendelike ryding teen ’n gawe prys is wat hy dus bied.

Maar kyk mooi, Toyota Suid-Afrika is die enigste vervaardiger in die wêreld wat dié elfde-geslag-Corolla vanjaar gaan bou. Al die ander Toyota-fabrieke gaan na die nuwe, twaalfde generasie oorslaan. Selfs in Japan. Daarom moes die Suid-Afrikaanse fabriek ’n paar planne beraam om al die onderdele self te bou, en daarmee voort te gaan vir so ses, sewe jaar wat die projek gaan voortduur.

Neem byvoorbeeld die instrumentpaneel. Dié se mooi, klein raakskerm kom net so uit die Hilux-bakkie (wat ook in Toyota se Durban-fabriek gebou word). Of kyk na die Quest se agtersitplek se rugleuning. Pleks van los dele wat kan platslaan, het ons nou net ’n eenvoudiger, enkele en soliede rugleuning wat nie kan platslaan nie.

Goedkoper, minder fieterjasies, maar steeds redelik prakties en dienlik vir die gesin-van-vyf op soek na sakpas wiele.

Afwerkings is baie swart, maar met lekker sagte plastiekoppervlakke bedek. Elektriese vensters en ’n trukamera is gawe standaarditems op topmodelle. Die raakskerm kom uit die Hilux-mandjie.

Hoe lyk die modelreeks?

’n Verdere besparing is bereik deur die modelreeks eenvoudig te hou. Daar is net een enjin, ’n 1.8-liter, en hy is sonder enige turboaanjaging. Ratkaste is ook net ’n sesgang-handrat of ’n CVT-tipe outomatiese kas.

Jy sal wel uit drie afwerkings kan kies, wat so effens van mekaar verskil met ’n aksentlyn hier en ’n CD-speler of lugversorger daar.

Die drie vlakke is Standard, Prestige en Exclusive, en pryse wissel vanaf amper R250 000 tot net bokant R300 000.

Goeie nuus is wel dat al die modelle ’n stabiliteitstelsel, ses lugsakke en ’n vashoufunksie het as jy teen ’n bult moet wegtrek standaard ingesluit.

Druk hom, Pappa

Met die bekendstelling het Toyota ons net die mooier, deftige modelle gegee om ’n tekkie mee op die Hoëveld te klap. Dis straks slim, want ’n mens vermoed daardie Standard-model is maar Job op ’n Sondagmiddag. Nie te opwindend nie.

Die Prestige en Exclusive het netjiese sierroosters, groter 16-duimers (vergeleke met die Standard se 15-duim-wiele) en meer tegnotruuks binnelangs.

Dit sluit in elektriese vensters, sleutellose toegang en ’n aansitknop, ’n inligtingstelsel wat ook koordloos met jou selfoon kan gesels en ’n nuttige trukamera.

Hoe ry hy? Kom ons sê dankie dit is nie meer die ou 1.6-liter wat onder die enjinkap diens doen nie. Die agtienhonderd het ons gemaklik op die Hoëveld van verkeerslig na verkeerslig gekarwei, maar as jy gou wil versnel vir ’n verbysteekpoging, moet jy dit liefs maar los. Die woema van ’n turbo-enjin is nie daar nie.

In ruil kry jy ’n basiese enjin met ’n billike verbruik – ek het oor ’n kort 200 km in gemengde verbruik hom vinnig afgekry na enigiets rondom die 8-liter-merkie. Nie puik nie, maar gaaf.

Padgeraas was sagter as wat ’n mens sou verwag, en leerbekleedsel met sagte plastiekoppervlakke by die deure, armrus en instrumentpaneel ’n heerlike bonus.

Handrat, of outomaties? Vir ’n CVT-ratkas voel ’n mens altyd huiwerig. Dit klink alte maklik soos ’n kwaadgemaakte haar­droër as jy vet gee, maar sonder die versnelling. Maar vir stadsry het hy sy geriefsvoordele.

Afsaal

Die Quest is ’n uniek Suid-Afrikaanse ryding, en die jongste weergawe is merkbaar opwindender as die ou model. My voorbehoud? Hoe baie gesinne wil vandag nog ’n sedan hê pleks van ’n klein sportnuts? Maar, Toyota reken hy kan 16 000 tot 18 000 Quests in ’n jaar verkoop. Dus is daar ’n mark. Laat waai, sê ons.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Bekendstelling  |  Verkoop  |  Mark  |  Produkte  |  Wisselkoers  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.