Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ranger gee langer treë met sy nuwe diesel

As jy soek vir ’n vuisgeveg langs die vleisbraaivuur, moet jy die man langs jou se keuse van bakkie bevraagteken. Bakkies is so Suid-Afrikaans soos boerewors, rugby en beurtkrag. En al kan kopers kies en keur tussen ’n verskeidenheid vervaardigers, is dit die Toyota Hilux en Ford Ranger waarheen die meeste stroom en die stryd die felste is.

Trouens, die Hilux is die algehele topverkoper onder alle voertuie in Suid-Afrika. Onder die bakkies beklee die Ranger meestal die tweede plek, maar vergeet van ’n kop-aan-kop-stryd, daarvoor is die gaping tussen die eerste en tweede plek net te groot.

Die Ranger XLT-dubbelkajuit se voorkoms is dalk ’n bietjie “nederiger” as sy Wildtrak- en Raptor-stalmaats, maar hy lyk steeds netjies.

Ford rus egter nie op sy louere nie en die Ranger het in April ’n paar kosmetiese veranderinge ondergaan om daai gaping ’n bietjie te laat krimp. Die groot nuus was egter die toevoeging van ’n nuwe 2-liter-enkel- en -dubbelturbodieselenjin in kombinasie met ’n tiengang- outomatiese ratkas. En natuurlik die bielie-slot in die span, die Ranger Raptor. Ons het gekyk hoe die Ranger 2.0 SiT XLT 4x4 opweeg.

Steeds begeerlik

Die Ranger is een van die netjiesste bakkies op die pad, al is hy in sy basiese vorm reeds sedert 2011 met ons.

Hy het oor die jare heen wel ’n paar opknappings ondergaan, maar met sy jongste opknapping is sy kuif net so effens reggekam. Dit sluit in veranderings aan die rooster en ’n donkerder kleurskema vir die binneruim. Die XLT val net onder die Wildtrak-model in die reeks, so hy is goed toegerus met onder meer ’n trukamera, ’n satnav-stelsel en parkeersensors voor en agter.

Enkel of ’n dubbel?

Die enkelturbo-weergawe van die nuwe 2.0-liter-enjin (132 kW en 420 Nm) word net in die XLT gebruik. Al is hy net met die enkelturbo te kry, is sy kraglewering voldoende vir die meeste gebruike en vergelyk goed met die 2.8 GD6-enjin van die Hilux.

Dis net op die oop pad wat die Ranger stoom verloor as jy skielik ekstra krag benodig om verby te steek. Die Ranger se ritgehalte is steeds van die beste in bakkiegeledere en hy voel ook stabiel, selfs teen hoë snelhede.

Die XLT is gelukkig ook nie ’n swaar drinker nie – ek kon ’n verbruik van so 11,2 liter handhaaf.

Wat sê ons?

Die Ranger XLT het dalk nie die pronkerige voorkoms van die Wildtrak en Raptor nie, maar hy bied steeds goeie waarde vir geld teen ’n meer verteerbare prys.

Die nuwe 2.0-liter-dieselenjin en tiengang- outomatiese ratkas is ook ’n groot aanwins, maar dit is ’n jammerte dat die dubbelturbo-weergawe nie ook as opsie gebied word nie. As jy effens meer krag wil hê, is daar darem nog die 3.2 TDCi.

Die nuwe tweeliter-diesels in die Ranger-reeks bied indrukwekkende krag vir hul grootte, met die bonus van beter brandstofverbruik.

Prys: Ford Ranger 2.0 XLT 4x4-out. – R594 400.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors  |  Ford Ranger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.