Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Red Bull se besluite haal hul in

As jy ’n lys van wenners en verloorders moes opstel van Sondag se Grand Prix van Emilia Romagna, wat by die Imola-renbaan in Italië gehou is, sou Lewis Hamilton se naam ongetwyfeld heel bo-aan pronk. Sy negende oorwinning van 2020 het daartoe bygedra dat sy Mercedes-span as vanjaar vervaardigerskampioen gekroon is – vir die sewende opeenvolgende jaar, ’n rekord.

En aan die debietkant? Max Verstappen. Vir die agtste keer in vanjaar se 13 renne kon die Red Bull-Honda-jaer nie hoër as derde agter die twee allesoorheersende Mercedesse kwalifiseer nie. Verstappen kon Hamilton se tweede plek by die wegspring van die Brit gaps, maar ’n gebarste regter-agter-Pirelli het hom enkele rondtes voor die geruite vlag tollend na die sandkuil toe gestuur, terwyl sy spanmaat, Alex Albon, 15de was en ook geen punte kon inoes nie.

Valtteri Bottas (voor, Mercedes) en Red Bull se Max Verstappen het ’n heerlike tweegeveg in Sondag se ren gehad, totdat meganiese probleme (Bottas) en ’n gebarste band albei se renne voortydig beëindig het.Foto: Getty Images

Dít terwyl Hamilton bestem is om sy sewende wêreldtitel by die volgende ren te beklink, met nog drie renne wat daarna met niks op die spel beslis moet word nie.

Maar waarom sukkel Verstappen so?

In Januarie het Red Bull die 23-jarige Hollander se kontrak tot die einde van 2023 verleng. Aan die een kant het dié $15.7 miljoen-per-jaar-belegging enige spekulasie stopgesit dat hy Lewis Hamilton se gesalfde opvolger by Mercedes sou word. Onwetend het dit egter ook verseker dat hy nie gou as wêreldkampioen in ’n Red Bull gekroon sal word nie.

Verstappen is op 18-jarige ouderdom by 2016 se Spaanse Grand Prix opgeroep vanaf die junior Toro Rosso-span vir diensplig by die Red Bull-moederspan. Hier het hy toe ook sy debuutsege losgejaag nadat Mercedes se Hamilton en Nico Rosberg rampspoedig in die eerste rondte teen mekaar vasgery het.

Sedertien getuig Verstappen se CV van veldtogte wat onderskeidelik in die vyfde, sesde, vierde en twee keer in derde posisies voltooi is. Maar nog nooit tweede nie, wat grootliks toegeskryf kan word aan Mercedes se houvas vanaf 2014. Belangriker nog: Omdat hy selde ’n spanmaat gehad het wat kon help om Mercedes en Ferrari te beveg.

Verstappen is by ’n sukkelende Red Bull as toekomshoop verwelkom: Die sjampanjedampe van Sebastian Vettel se vier agtereenvolgende dubbeltitels het lank reeds verslaan en is gevolg deur twee jaar se klippe kou in die nuwe era van turbohibriede enjins. En die kombinasie van ’n te-groot-vir-sy-skoene Daniel Ricciardo as groentjie en power-maar-plofbare Renault-enjins het boonop vir Vettel Ferrari toe gejaag teen einde 2014.

2015 was nóg ’n jaar om te verduur eerder as een van plesier. Danksy Renault se voortdurende onvermoë om die nuwe enjinformule klein te kry, het Red Bull se trofeekabinet leeg gebly.

Die Ricciardo en Verstappen-kragkelkie het eindelik skop gekry in 2017 en 2018, wat op hul louwarmste dae Ferrari kon ewenaar en op hul kokendstes vir Mercedes kon klop. Die gif in dié drukpot het egter begin oorkook. Na 2016 se Mercedes-binnegeveg, het 2018 die laaste blik van twee strydende gelykes gebied soos die Kaaskop en die Skaapboer koppe gestamp het.

Soveel so dat die Aussie in Augustus 2018, ten tyde van ’n toenemende bewuswording dat die span al hoe meer rondom Verstappen begin draai het, gemoedsrus bo glorie gekies en ’n tweejaarkontrak met Renault geteken het.

Tot in daardie stadium was Red Bull die enigste topdrie-span wie se renjaerskorps nie bestaan het uit ’n supertalent gerugsteun deur ’n plooibare nommertwee-jaer nie. Maar toe Ricciardo die hasepad vat, hét Verstappen Red Bull syne gemaak. Dit was óf ’n opsetlike klemverskuiwing óf ’n erkentenis dat die span se voerband van talent by Toro Rosso benewens Vettel nie juis vrugte afgewerp het nie.

Hier’s die Red Bull-kopseer. ’n Span se nommertwee-jaer moet vinnig genoeg wees om sy mededingers se strategiese opsies in die wiele te kan ry deur die volg van ’n doelbewuste alternatiewe bandkeuse of kuipestopstrategie.

Red Bull se probleem van twee alfa-jaers wat koppe stamp en punte van mekaar afrokkel, het vanaf 2019 gemuteer na een van ’n tweede jaer wat só onderpresteer dat dit in wese ’n enkeljaerspan geword het. In 2020 was Albon se gemiddelde wegspringplek 7.5, sodat Verstappen die Silwer Pyle ren ná ren vingeralleen die stryd moes aansê, soos by Imola.

Ná ’n jaar van teleurstellings is Albon dus amper gewaarborg om sy sitplek by Red Bull teen jaareind kwyt te wees.

Ernest Hemingway het stiervegtery verhef tot ’n kunsvorm. Dis nie ’n sport nie, maar ’n tragedie, het hy een keer gefilosofeer; en simboliseer die alewige stryd tussen mens en dier. In Verstappen en Red Bull se geval is die grootste tragedie die verspeelde kanse van jare lange verkeerde personeelbesluite.

  • Die Turkse Grand Prix vind op 15 November by die Istanbul Park-renbaan plaas.
Meer oor:  Red Bull  |  Lewis Hamilton  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.