Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Renault se Triber g’n tropspeler
Die klein Triber ry op ’n nuwe platform, maar deel die Kwid se 1.0-liter-enijn. Die 18 cm hoë grondvryhoogte is sypaadjie-prakties as jy haastig na parkeerplek by die winkelsentrum soek.

Renault het nog ’n raakvat-wenner beet met sy nuwe Triber wat hy pas in die land bekend gestel het.

Die Triber is ’n kompakte (4 m lank, en net 1,6 m breed) sewesitplekker met ’n sakpas prys en gaan direk met Suzuki se Ertiga- en Toyota se Avanza-bussie meeding.

Renault mik sy nuwe bussie op die jong gesin, maar ons reken dit gaan straks die meeste as ’n minibus- en Uber-taxi ingespan word.

Die Triber word in dieselfde fabriek in Indië as die Renault Kwid en Datsun Go gebou, en volg ook dieselfde resep van ’n basiese en goedkoop karretjie wat mobiliteit teen ’n sakpas prys verskaf. Maar Renault hou vol hy is wel op sy eie, nuwe platform gebou.

Dog, die Triber gebruik dieselfde 1.0-liter-petrolenjin en vyfgang-handratkas, hoewel die kraglewering ’n raps frisser gemaak is vir die groter Triber (52 kW, 96 Nm).

Slim binne, die Triber

Benewens die sub-R180 000-prys vir die intreemodel (daar is drie afwerkingsvlakke) kry die Triber ’n lekker sportnuts-voorkoms danksy swart skermstroke by die deure en wielboë, en ’n dakrak wat 50 kg kan dra. Grondvryhoogte is ’n billike 18 cm.

Dit is egter in die binneruim waar die Triber sy kragtoer lewer. Buigsaam is al ’n cliché in die bedryf, maar die Triber is werklik ’n verkleurmannetjie soos hy sy lyf kan verander.

Die middelste ry sitplekke kan op spore so ’n handbreedte vorentoe gly. Die rugleunings kan ook vooroor kantel, of jy kan selfs die linkerkantse sitplek heeltemal oplig en vooroor rol om ekstra pakplek te skep.

Heel agter is nog twee klein sitplekke. Ruimte is maar knap, maar van klein kinders tot tieners sal hulself hier kan tuismaak. Ook dié twee sitplekke kan met ’n vinnige losdraai van ’n knip losgemaak en uitgehaal word.

Die kajuit is eenvoudig en met meestal harde plastiekoppervlakke afgewerk, maar die topmodel kry ’n mooi tweekleurafwerking. Die kajuit is ook deeglik deurdink.

Die mossienes het ’n boonste en onderste flap wat kan oopwip, en albei is verkoel. So ook die bêreholte tussen die twee sitplekke.

Sleutellose toegang en ’n aansitknop is ’n verrassende deftigheid, maar bied lekker praktiese nut vir ’n haastige bestuurder. Daar is ’n groot raakskerm in die middelkonsole (vir alle modelle), en parkeergonsers agter, twee lugsakke, ABS-remme, elektriese vensters en ’n digitale instrumentpaneel voor die bestuurder is als standaarditems in al die modelle. Jy sal ook 12V-sokke regdeur die kajuit vind.

Lig op die ’kap

Voorlopig is daar net ’n 1.0-liter-enjin met ’n handratkas, maar ’n outomatiese weergawe is later die jaar op pad. Jy moet die ratkierie maar roer teen ’n bult, want hy raak gou uitasem – en ons het boonop aan die kus gery. Volgelaai en op die Hoëveld gaan die eenliter maar stoei.

Tog is jou verbruik strykdeur laag; ons het so net onder die 6 liter gehandhaaf in gemengde gebruik.

Afsaal

Maar dis sy prys wat sy grootste aantrekkingskrag is, saam met die aanpasbaarheid van die kajuit (en dié se moderne afwerkings). Die klein Triber gaan beslis ’n nis in die plaaslike mark vul, voorspel ons.

Pryse:R164 900 – Expression

R174 900 – Dynamique

R189 900 – Prestige

Pryse sluit ’n 2 jaar/30 000 km diensplan in, maar geen ingeslote versekering soos wat die Kwid het nie.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.