Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Retro-Mini gee tree die toekoms in

Een van die groot suksesverhale van die destydse golf van retro-motors, BMW se herlewing in die vroeë 2000’s van die Mini, drafstap nog steeds fluks met ’n opgeknapte weergawe wat oor ’n maand of drie in Suid-Afrika sal wees.

Die opgeknapte Mini’s – die drie- en vyfdeurmodelle sowel as die oopdak- en warm John Cooper Works Mini’s – het ’n ligte voorkomsopknapping voor en agter ondergaan, terwyl heelwat moeite ook met die kajuit se voorkoms en ergonomika gedoen is.

Wat’s als nuut?

Die nuwe rooster-ontwerp is een van die groot gesprekspunte op sosiale media. BMW het onlangs almal laat regop sit met sy nuwe 4-reeks se massiewe niertjierooster, en nou is dit in ’n mate ook deurgevoer na die klein Mini.

Die rooster se ovaalrand-belyning is nou groter gemaak sodat dit omtrent van kant tot kant strek.

’n Groter rooster en nuwe hoofligte onderskei die opgeknapte Mini dadelik van sy voorgangers. BMW het nou sy voete gevind met die ontwerp van die Mini, reken ons.

Maar, gelukkig is die buffer (wat in die middel daarvan deur loop) in dieselfde kleur as die bakwerk afgewerk, sodat dit heel netjies saamsmelt.

Bo, op die hoeke, sit die hoofligte wat nou uit nuwe eenhede en hulsels bestaan. Die ligte is met ’n soliede streep LED-lampe omring wat permanent skyn, terwyl die hulsel se binnekant (rondom die hooflamp) pikswart is. Dit skep ’n mooi kontras vir die lighulsel, met die LED-rand buite-om en die swart binne die hulsel.

En vir die stert?

Ook hier het die Mini ’n ekstra swart paneel bygekry, laag in die buffer, wat die breedte van die voertuig beklemtoon. Die remligte se oulike Union Jack-ontwerp is nou standaard regdeur die modelreeks.

Iets anders gedoen aan die bakwerk?

Die dak het nou ’n opsionele kleuropsie wat jy kan kies. Pleks van die gewone keuses van wit en swart en silwer, is daar ’n nuwe kleur wat van donkerblou voor algaande verander na ’n pêrelkleur in die middel en pikswart heel agter.

En dan het die sierwiele ook ’n nuwe ontwerp, hoewel ons nog gewoond moet raak aan die nuwe patrone.

Die kajuit lyk ook gaaf . . .

Mini probeer nog altyd om elemente van die oorspronklike voertuie in sy moderne kajuit te behou. Maar met gemengde welslae, terwyl markvoorkeure en tegnologievereistes dit ook ál moeiliker maak om dit prakties uit te voer.

Kies tussen ’n ouskoolse analoog-voorkoms vir ou instrumente, of dié digitale beeld agter die stuur. Die inligtingskerm is ook vereenvoudig met ’n skoner, egalige oppervlak.

Die raakskerm is vandag byvoorbeeld ’n moet-hê-item. In die opgeknapte Mini se geval is daar nou ’n kleurraakskerm standaard in al die Mini’s, maar sommige funksies wat jy gereeld gebruik is steeds as ’n knoppie apart geplaas, met sy eie raakoppervlak.

Die instrumente voor die bestuurder is steeds analoog, maar jy kan vir ’n digitale skerm opsioneel vra sou jy wou.

Watter opsie jy ook al kies, kan jy die skerm se kleurvoorkoms wissel tussen twee kleure, Lounge en Sport, wat ’n kalm of sportiewe stemming vir jou moet help skep.

Opsioneel kan jy ’n ligpakket bestel waar daar ses opsies vir stemmingsbeligting vir die kajuit op jou vingerpunte beskikbaar is – ’n kleur vir elke bui van die dag.

Nog iets?

’n Elektroniese handrem is opsioneel te kry, terwyl ’n baanverlaat-gonser nou standaard in die Mini is.

En die meganika

Niks het aan die aandryfstelsel verander nie. Daar is steeds die 1.5-liter-petrolturbo (drie silinders) te kry met 75 kW/190 Nm en ’n warmer 100 kW/220 Nm, gekoppel aan ’n sewegang- outomatiese ratkas, vir die Mini One.

Die Cooper S en JCW benut die 2.0-liter-turbo wat onderskeidelik 141 kW/280 Nm en 170 kW/320 Nm lewer, met ’n agtgang- outomatiese ratkas.

Die Mini’s word in die tweede kwartaal in Suid-Afrika verwag.

Meer oor:  Mini  |  Toekoms  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.