Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Retrofietse allesbehalwe outyds

Is die mark vir straatkafee-fietse met hul lekker retro-voorkoms al ou nuus?

Klaarblyklik nie, want pas het Triumph verlede maand sy gesin Bonneville-fietse met hul retrovoorkoms met twee nuwe modelle uitgebrei.

Die Triumph Scrambler bied ’n omgekrapte voorkoms sonder om “Ek doen die Dakar vir brekfis” te skree.

En met pryse rondom die R200 000-kerf, teiken hulle die koper wat nie skaam is om vir ’n handelsmerk en voorkoms te betaal nie.

Die twee nuwe fietse, die Scrambler 1200 XE en die Speed Twin, gebruik albei die Britse vervaardiger se 1 198 cc-parallel-tweesilinder, maar danksy slim draaiwerk aan die draadwerk lewer die enjins nie net verskillende kragvlakke nie, maar ook eiesoortige verrigtingsken­merke.

Scrambler 1200

Soos die naam suggereer, is die Scrambler basies ’n 1970’s-styl veldfiets met ’n oop retrovoorkoms. Die Scrambler se voetwerk op die modelportefeulje is egter baie netjies: Dit vermy om net nóg ’n avontuur- of dubbeldoelfiets te wees, soos waarvan tans so baie op die mark is.

Pleks van ’n hardebaard veldryer, vervul die Scrambler eerder die nis van ’n grondpad-speelfiets wat ook tuis op die teerpad is.

Die fiets self is nie hoog nie, maar jy kan hom genoegsaam omkantel om draaie om lekker haastig op ’n teer-bergpaadjie te kan blits. Maar net so is hy gemaklik op ’n stofpad danksy die lae gravitasiepunt en goeie balans.

Die twaalfhonderd-enjin lewer sy vet wringkrag sommer vroeg al in die toereband, wat beteken jy kan lekker stadig oor die klippers klouter sou dit moet, of as jy net rustig oor die stofpaaie wil voortkruie.

Die Speed Twin se naam dateer al sedert 1938. Triumph het die wenresep behou, maar die enjin is ’n moderne, kragtige eenheid met ’n donkieskop tot by die rooilyn.

Ondanks sy retrovoorkoms is die fiets self baie modern. Ons hou van die volkleur- digitale skerm, en die sleutellose aansitstelsel is net so gerieflik en modern. Daar is ook ’n LED-hooflig en -lampies wat regdeur die dag skyn, soos wat die moderne motors ook bied.

Nóg geriefsitems is spoed­beheer en ’n USB-sok – ’n praktiese kopknik vir die avontuurryer wat sy GPS-stelsel wil koppel of sy foon wil herlaai.

Speed Twin

As ’n familienaam van Triumph dateer die Speed Twin al sedert 1938 in die groep se jaarboeke. Die moderne weergawe bied, soos ons hierbo genoem het, dieselfde 1.2-liter-enjin as die Scrambler, maar is gestel om heelwat meer krag onder jou regterhand los te laat.

Ook die kragkurwe is aangepas. Waar die Scrambler al sy wringkrag vroeg in die toerestrek vir jou uitdeel, sal die Speed Twin s’n progressief toeneem sodat dit soos ’n rekkie voel wat jou net aanhou vorentoe skiet soos wat jy deur die toereband opjaag. Die fiets bied moderne geriefsitems soos ABS-remme en vastrapbeheer, maar daar is ook drie ritmodusse, LED-hoofligte, ’n immobiliseerder en ’n USB-sok.

Wat sy voorkoms betref, lyk die Speed Twin sommer spog­gerig met sy dowwe aluminium­panele al rondom die fiets: onder meer by die modderskerms, enjinpanele en voetrus-gedeeltes.

* Pryse: Scrambler 1200 – R205 000;

* Speed Twin – R179 000.

Meer oor:  Triumph  |  Motorfietse  |  Motors  |  Scrambler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.