Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Riana stuur hier die skip

Riana Conradie en haar man, Riaan, behartig die motorwerks-winkel Riaan’s Auto Repairs in Parow, Kaapstad. Sy is veral passievol oor motors en opleiding. Ons het met haar gaan gesels.

Riana Conradie (twee van links) saam met haar spanlede (van links): ) Thamkazi Nukani, Ronel Young en Sarah Williams.

1. Hoe lank werk jy al hier?

Al meer as tien jaar, vandat ons die werkwinkel in Oktober 1998 oopgemaak het.

2. Hoe lyk jou tipiese dag?

Ons maak soggens al 07:00 ons deure oop. Ons kliënte is ons grootste prioriteit en vereis die meeste van my tyd, hetsy in persoon, oor die foon of op e-pos. Ek volg elke motor soos hy deur ons hande beweeg, vanaf die kliënt se instruksies, deur die werkswinkel en herstelproses saam met die tegnikus tot die voertuig weer aan die kliënt teruggegee word.

Ons neem elke jaar een of twee studente in wat hul praktiese module by ons kom voltooi om ’n motorwerktuigkundige te word. My ander hooftaak is om die boeke van die besigheid op datum te hou.

Dan is ek is ook ’n trotse ma van drie pragtige kinders, en in my af tyd speel ek graag aksiekrieket. Ek en my man was verlede jaar deel van die WP-span wat die nasionale kampioene was. Daar is nie tyd vir slaap nie!

3. Wat beskou jy as ’n goeie dag?

Elke dag is ’n goeie dag. Die beste dae is gewoonlik wanneer ’n moeilike kliënt my bedank vir my span se goeie werk. Dit maak my hart warm.

4. Wat geniet jy die meeste van jou werk?

’n Suksesstorie – of dit nou ’n gelukkige kliënt is, of ’n probleem wat opgelos is, of ’n student wat ’n vak deurgekom het – sukses! Ek geniet sukses.

5. Hoe moeilik of maklik was dit om vastrapplek in die bedryf te kry?

Die motorbedryf was maar nog altyd ’n manneding. Die meeste manskliënte wil met ’n man praat oor sy stukkende karretjie. Ek gee nie meer om nie, en neem dit ook nie as ’n belediging nie. Hy sal met tyd leer dat hy die beste raad van my gaan ontvang en dan sal hy ’n pad met my wil loop.

6. Wat was die grootste uit­daging, of nuwe vaardigheid, wat jy moes aanleer?

Die grootste uitdaging was om nie mense persoonlik op te neem as hulle moeilik is nie. Ek probeer my kliënte die beste moontlike diens en advies gee.

7. Snaaksste of vreemdste ding wat al hier met jou gebeur het?

Soos jy kan sien, is daar baie humor in my dag. Soms is dit wanneer mense my op my naam noem en dan het ek geen idee wie hulle is nie. Dit kan nogal ’n moeilike situasie skep. Daardie “O aarde, wie is dié nou weer?”-oomblikke.

8. Grootste lesse wat jy in die bedryf geleer het?

Konflik is onnodig, niks is persoonlik nie, raak rustig en bly by die feite.

9. Beste raad aan vroue wat in die bedryf wil betrokke raak?

Ken jou vak, wees jouself, bly kalm en gefokus.

Keep your face to the sun!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.