Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Rit in Tesla ’n anderse ervaring vertel leser
Tesla se Model X is die groep se batterygedrewe sportnuts, hoewel hy meer van ’n sportstasiewa is. Kyk net die agterdeure wat hoog oopslaan om in- en uitklim te vergemaklik.

Ek lees gereeld Marnus Hattingh Padlangs-rubrieke, daarom, toe hy onlangs voorspel dat batterygedrewe elektriese voertuie die knie voor brandstofselmotors sal moet buig, het my ore gespits.

Om eerlik te wees, ek stem nie heeltemal saam nie. Veral nie met die negatiewe siening wat die reikafstand van die nuwe e-voertuie betref nie.

’n Tydjie gelede het ek die voorreg gehad om in Calgary, Kanada, met een van Elon Musk se Tesla-motors te ry, die Tesla X, die sportnuts.

Kortweg, ek het voor die tyd gewonder of dit nog hoegenaamd moontlik is om vandag, in ons moderne tyd, iets in die motorwêreld te beleef wat werklik uitsonderlik is.

My eerste gewaarwordinge van die Tesla X was hoe kompak hy eintlik is as jy buite hom staan. Hy voel egter werklik ruim binne sodra jy ingeklim het.

Ons toetsmodel was ’n sessitplekker: twee sitplekke voor, twee sitplekke in die middel (met ’n liniaallengte-spasie tussenin) en dan nog twee sitplekke heel agter in die laairuim.

Hierdie agterste twee sitplekke kan natuurlik wegvou, sou jy die laairuim eerder vir pakkies of tasse wou gebruik.

Die deure is heeltemal outomaties: Jy druk net aan die handvatsel en dit vou oop. Ook die bestuurder se deur swaai vanself oop as jy nader stap.

Die sitplek-uitleg is egter aanpasbaar. Jy kan ons uitleg kies; of ’n model met ’n tradisionele driesitplek-rusbank in die middel en ’n oop laairuim agter (vyf sitplekke dus); of met die twee klein sitplekke heel agter (sewe sitplekke).

Dan is daar natuurlik die lieflike sprinkaan­deure, wat soos ’n ou Mercedes SL hoog na bo oopvou. In Tesla-taal heet dit “valkdeure” en interessant genoeg is dit die agterste deure wat so oopmaak, terwyl die voorste twee van die tradisionele tipe is.

Die deure is heeltemal outomaties: Jy druk net aan die handvatsel en dit vou oop. Ook die bestuurder se deur swaai vanself oop as jy nader stap.

Die sprinkaandeure mag ’n foefie wees, maar dit is ook prakties. Dit beteken dat die middelste en agterste passasiers bykans regop kan staan wanneer hulle inklim, wat toegang agter natuurlik makliker maak.

Nog ’n interessantheid van die motor is sy groot laairuim, twee om presies te wees. Omdat daar nie ’n gewone enjin is nie, kan die hele neusholte as ’n bagasieruim ingespan word. Ook die vloer van die voertuig binne is plat, van kant tot kant. Dit nou omdat daar nie ’n transmissietonnel vir aandrywing nodig is nie.

Die binneruim word oorheers deur die A4-grootte raakskerm op die instrument­paneel.

Agter die stuur val die groot inligtingskerm op die instrumentpaneel dadelik op. Tesla se eie selfrystelsel is natuurlik ook in die motor ingebou. Dit is ’n vreemde gevoel, aanvanklik.

Druk die een armpie agter die stuur twee keer, hou die stuur liggies vas en daar gaan jy, sonder om self te stuur of petrol te trap. In die verkeer, by verkeersligte, alles.

Hy bly in sy baan en draai by ’n kruising presies op die regte oomblik, als vanself.

Selfs wanneer jy van baan wil verwissel is dit ’n aardige gevoel: Jy tik net die flikkerlig-armpie waarheen jy wil ry, en die motor verander van baan wanneer dit veilig is.

Op die oomblik, lyk dit vir my, het die voertuig ’n reikafstand van 500 km op die oop pad en 700 km in die dorp. Dit nou omdat hy batterykrag herwin as jy rem vir die verkeersligte.

Nog ’n gawe truuk van die motor is dat sou jy uitklim en sien jy het skeef geparkeer, kan jy met jou foon die motor manipuleer om self in die ruimte reg te skuif.

Tans kos die Tesla X sowat $112 000 (Kanadese dollar). Dis so R1,2 miljoen in ons geld. Hy ding dus mee met die Range Rovers van ons wêreld.

Voorlopig is daar sprake dat die eerste Teslas eers in 2019 hier sal wees. Ek kan nie wag nie!

Meer oor:  Tesla  |  Elon Musk  |  Toetsbestuur  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.